Die nastreef van ideale en die heroïese lewensuitkyk

Montsegur

“Sal ek van ʼn God praat wat verdoem, van Christus, en die Tien Gebooie noem? Voorlopig dan, maar onthou altyd aan jou dade grens ʼn ewigheid; gee sin aan voorgeslagte deur die eeue heen, besef jy is ʼn vegter weer van die begin, alleen, en mag die Suiderkruis en Negesterre witter as die stedeligte in jou siel bly skitter.”

Uit DJ Opperman se gedig “Negester en stedelig” 

Tydens die Middeleeue was daar Gnostiese Christene wat deur die Rooms-Katolieke Kerk as ʼn toenemende bedreiging beskou is. Die Rooms-Katolieke het hulle op gewelddadige wyses vervolg en baie van hulle gedwing om die Rooms-Katolieke dogmas te aanvaar. Montségur Kasteel was ʼn veilige hawe vir die Gnostiese Albigensers en dit was in die jare ná 1233 vir hulle van simboliese en strategiese belang in hul stryd teen beide die Rooms-Katolieke Kerk en die Franse magte. In 1241 het die Hertog van Toulouse, Raymond VII, probeer om Montségur te verower as deel van sy pogings om die Koning van Frankryk en die Rooms-Katolieke Kerk te oortuig van sy lojaliteit teenoor hulle. In Mei 1243 het ongeveer 10 000 koninklike troepe teen die kasteel wat deur sowat 100 soldate verdedig is, opgeruk. Die kasteel was ook die tuiste van burgerlike vlugtelinge en “perfekte” ketters (Frans: parfaits) wat as pasifiste, nié aan gevegte deelgeneem het nie. Nadat die kasteel se inwoners vir ongeveer ʼn jaar lank omsingel was en grootliks afgesny was van die buitewêreld, het hulle in Maart 1244 besluit om oor te gee. Al die mense binne die kasteel is toegelaat om die kasteel te verlaat, behalwe diegene wat nié bereid was om hul eie geloof te verwerp nie. Op 16 Maart 1244 het ongeveer 200 van die “halsstarrige” parfaits die kasteel verlaat en afgeloop na die plek waar hulle bestem was om lewendig verbrand te word. Hulle het daarna vrywillig op die brandstapel gaan staan en in die vlamme omgekom. Die Albigensers was dus bereid om te sterf vir dit waarin hulle geglo het. Hulle het méér waarde geheg aan hul geloof as aan hul eie kortsigtige materiële behoeftes en gemaksug.

Veronderstel ʼn gereelde kerkganger en lidmaat van een van die Afrikaanse driesuster kerke begin nadink oor die geldigheid van die kerk se dogmas en dat hy uiteindelik besef dat die navolging van daardie dogmas, heelwat nadelige gevolge vir mense kan inhou. Hy besef derhalwe dat hy een van twee keuses het. Óf hy kan besluit om die ander kerklidmate se gemoedsrus te versteur deur hulle daaroor in te lig, óf hy kan besluit om dit nié te doen nie. Hy moet besluit of dit vir hom nog van wesenlike belang is om voortaan as ʼn “op die oog af” getroue Christen deur die lewe te gaan. Indien hy sou besluit om ander mense te vertel van sy twyfel aangaande die geldigheid van die kerk se dogmas, sal hy mettertyd besef dat sommige van hulle redelik vyandiggesind raak. Hy kan selfs lateraan besluit om die kerk te verlaat en hy sal sodoende toenemend geïsoleerd raak van sy familielede en van sy vorige vriende. Die bereidwilligheid om jou “goeie naam”, kortsigtige gemaksug en finansiële welvaart op te offer ter wille van die verwesenliking van ʼn “groter-as-jou-ego” ideaal, kan as die heroïese lewensuitkyk beskou word.

Die strewe na die realisering van sekere ideale kan gepaardgaan met heelwat opofferings. Dit kan selfs veroorsaak dat jy nie langer tuis voel binne die gemeenskap waarin jy grootgeword het nie. Een van my ideale is om ʼn “evangeliese” boodskap, wat heelwat verskil van die tradisionele Christelike Evangelie, aan mense bekend te maak. Ek het die afgelope jare besef dat selfs sommige andersdenkende gewese Christene, ongelukkig is wanneer ek nie 100% met húlle nuutgevonde “geloof” saamstem nie. My “evangeliese” boodskap bestaan uit die volgende drie kerngedagtes:

  • Die geldigheid van mense se uiteenlopende idees oor die aard van die Goddelike en die moontlikheid van lewe na die dood, kan tans nié m.b.v. empiriese wetenskaplike metodes bewys word nie. Die gevolge wat daardie idees op hulself en op andere het, kan egter wél wetenskaplik gemeet word en met mekaar vergelyk word. Sodoende kan vasgestel word of sekere lewensbeskouinge meer voordelig is as andere.
  • Terwyl die ou Westerse norme en waardes grootliks gebaseer was op tradisionele Christelike dogmas, is dit die afgelope dekades toenemend vervang met meer sekulêre waardes. Sodoende is die Godsdienstig-fundamentalistiese idees aangaande ʼn Persoonlike God en ʼn hiernamaals bestaande uit ʼn Hemel en Hel, toenemend vervang met die filosofies-materialistiese lewensbeskouing waarvolgens daar géén Goddelike of lewe na die dood is nie. Die aanvaarding van hierdie nuwe “geloof” deur die breë gemeenskap, sal op die ou end nié noodwendig meer voordele vir hulle inhou nie.
  • Deur een lewensbeskouing grootliks te vervang met ʼn ander meer voordelige lewensbeskouing, sal nie noodwendig die vooruitgang van ʼn samelewing waarborg nie. Die invloed van lewensomstandighede en verskille tussen mense se oorgeërfde gene, moet óók in ag geneem word. Dit maak dus ʼn wesenlike verskil of mense in ʼn woestyn lewe of in ʼn vrugbare omgewing en of hulle min geld of baie rykdomme het.

Wat sou die verloop van die geskiedenis gewees het indien die Rooms-Katolieke nié geseëvier het nie? Sou daar soveel wandade gewees het in die naam van die Christendom? Die Albigensers se heldedood het baie mense sedertdien aangemoedig om weerstand te bied teen die vergrype van georganiseerde godsdienste. Ek besef dat ek nog heelwat sal opoffer a.g.v. my skrywes, juis omdat baie (veral Afrikaanse) mense ontevrede is daaroor. Ek glo egter in die geldigheid van my standpunte en ek vertrou dat my skrywes ʼn bydrae sal lewer om die wêreld ʼn beter plek te maak.

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized and tagged , , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s