Die sosiale gevolge van die aanvaarding van sekulêre lewenswaardes

The Spiritual Path

Bewerings en idees aangaande die aard van die Goddelike en die hiernamaals is “metafisiese” aannames waarvoor mense hoegenaamd géén genoegsame wetenskaplike getuienis het nie. Soortgelyk hieraan is daar sekere politieke ideologieë wat gebaseer is op sekere aannames waarvoor daar óók geen genoegsame bewyse is nie. Heelwat mense neem byvoorbeeld sondermeer aan dat ʼn demokratiese regeringsvorm die enigste moreel-regverdigbare en mees doeltreffende regeringsvorm is. Daar is ook ander raakpunte tussen sekere godsdienstige oortuigings en politieke standpunte. Sommige politieke partye ondersteun ʼn politieke beleid wat gebaseer is op een of ander godsdienstige of selfs nie-godsdienstige beginselbasis. Sodoende ondersteun “regse” politieke partye soos o.a. die Herstigte Nasionale Party en Afrikaner Volksparty, beide die beleid van Apartheid én Calvinistiese beginsels en die SA Kommunistiese Party, beide historiese én dialektiese materialisme. Die Marxisme-Leninisme van die SAKP is ʼn kommunistiese politieke ideologie wat gebaseer is op ateïsme en dialektiese materialisme.

Baie mense het standpunte oor beide godsdiens en die politiek. Wanneer hulle wegbeweeg vanaf hul tradisionele godsdienstige idees, probeer hulle om politieke idees te ondersteun wat darem nié teenstrydig is met hul nuutgevonde lewensbeskouing nie. Twee van die mees prominente politieke ideologieë wat die afgelope 100 jaar ondersteun is deur “ongelowige” mense, is Marxisme-Leninisme en Sekulêre Humanisme. Eersgenoemde strewe na die totstandkoming van ʼn toekomstige utopie waarbinne alle middele gemeenskaplik aan alle mense sal behoort en waarin aan almal se (materiële!) behoeftes voorsien sal word, terwyl laasgenoemde beweer dat aanvaarding van sekere basiese etiese norme en waardes deur die breë gemeenskap, progressiewe vooruitgang sal verseker. Mense behoort nadese meer gesond, intelligent, vredeliewend en gelukkig te wees. Die begrip “Sekulêre Humanisme” waarna ek hier verwys, is gebaseer op “A Secular Humanist Declaration” [i] wat in 1980 deur die “Council for Democratic and Secular Humanism” saamgestel is.

Die gevolge van beide Marxisme-Leninisme en Sekulêre Humanisme was egter nié so rooskleurig soos die op die oog af mooiklinkende teorieë waarop dit gebaseer is nie. Miljoene mense was vermoor en onderdruk in beide die ou Sowjetunie en Rooi-Sjina. Tussen 85 en 100 miljoen mense is deur Kommunistiese regimes vermoor gedurende die 20ste eeu! [ii] Die tradisionele Christelike waardes van veral Wes-Europeërs is die afgelope dekades toenemend vervang met meer Sekulêr-Humanistiese lewenswaardes. Postmodernisme, liberalisme en die toenemende gebrek aan gemeenskaplike, saambindende kulturele waardes gee daartoe aanleiding dat veral Europeërs weinig weerstand bied teen die aanmatigende houding van Moslem-fundamentaliste wat poog om húlle Sjaria-wette op ander mense af te dwing. Die joernalis en menseregte-aktivis Mark Steyn, het onlangs deeglike navorsing gedoen aangaande die verwagte toekomstige vervanging van die grootliks inheemse Europese bevolking deur Moslem-immigrante. [iii]

Beide Marxistiese eenparty-diktature én “liberale” demokrasieë ontaard naderhand in samelewings wat gekenmerk word deur ʼn al groterwordende kloof tussen die super ryk elite en die “gewone” man op straat. Die elite skroom dikwels nie om die omgewing te besoedel en om gebruik te maak van die goedkoop arbeid van derde-wêreldse immigrante nie. Die hoofstroommedia in hierdie lande word besit en beheer deur die super ryk elite en hul bondgenote in die regering. Die meeste kiesers word gevolglik mislei deur eensydige nuusberigte en word “vermaak” deur hul aandag op minder belangrike dinge te fokus. Sodoende word hul stemme en ondersteuning gewaarborg vir politici wat die doelwitte van die elite slaafs navolg. Die verbruikerskultuur en gepaardgaande kleinlike selfsug in veral Westerse lande, gee gewoonlik aanleiding tot ʼn bevolking wat apaties is teenoor die vergrype van korrupte regeringsleiers en magsugtige belangegroepe.

Wysgere en mistici het al dikwels verwys na die stryd wat daar binne elke mens is tussen die ego en die Ware Self. Die eise van die ego voer gewoonlik die botoon in die lewens van die meeste mense. Watter regeringsvorm kan aan mense wat meer “spiritueel-bewus” en altruïsties is, béter geleenthede bied om húlle insigte met die meeste ander mense te deel? Miskien ʼn regeringsvorm soortgelyk aan dié een waarna Plato verwys het in sy boek Die Republiek, waarbinne (spiritueel-bewuste) filosowe wat al hul besittings gemeenskaplik deel, die land regeer? Daar is ʼn geringe kans dat mense mislei, misbruik en onderdruk sal word deur sodanige “filosoof-konings” (Engels: Philosopher Kings). Daardie filosoof-konings se lewensbeskouing sal gebaseer wees op die geloof in die inherente Goddelike “binne” alle lewende wesens en die strewe na die moontlike eenwording van elke lewende wese met die Goddelike. Hul gemeenskaplike doelwit en geloofsbeginsels sal die filosowe aanmoedig om die welsyn van almal sodanig te verbeter, dat dit aan die hele gemeenskap beter geleenthede sal bied om die Goddelike in hul lewens te manifesteer. Dit behoort die gemeenskapslede ook meer geredelik daarvan te weerhou om hulleself te bevoordeel ten koste van die welsyn van andere.

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

3 Responses to Die sosiale gevolge van die aanvaarding van sekulêre lewenswaardes

  1. Terug pieng: Die sosiale gevolge van die aanvaarding van sekulêre lewenswaardes | Blog aangaande Spiritualiteit en Gnostisisme

  2. Andre sê:

    Jaco, in jou blog-skrywe maak jy ‘n paar verklaringwat ek wil bevraagteken:
    (1) Jy praat van die uitbreiding van Islam se invloed in Wes-Europa. Dit lyk vir my jy skryf dit toe aan ‘n verlies van wil deur die Europeërs as gevolg vazn hul skuif na sekulerêre lewenswaardes. Ek sien egter nie voorbeelde van waar Sharia wette nou al die botoon voer of selfs as invloedryk beskou kan word in enige deeel van Europa nie. Die voorkoms van Islam in daardie lande is skynbaar die gevolg van immigrasie deur Islamiste. Dit het waarskynlik meer te den met die daling van geboortesyfers onder die oorspronklike bevolkings van die Wes-Europese lande. Is die daling as gevolg van Sekulêre Humanisme? Die militansie van die immigrante het dalk meer te doen met hul poging om vas te klou aan die bekende in ‘n vreemde nuwe wêreld, as met ‘n deurdenkte poging om oor te neem. So veel as wat Islam besig is om effens prominent te word in Europa, so veel is Latyns-Amerikaanse vorme van Christendom besig om pos te vat in die VSA. Ek reis ook baie in die Midde-Ooste, en dis interessant hoe sekularisme en verwestering belangrik raak in die tradisionele Moslem lande.

    (2)Jy haal menseregte-vergrype onder Kommunisme aan, maar jy swyg oor die mense-slagtings deur gelowiges. Daar is ou Christelike voorbeelde (die Kruistogte, die Inkwisisie, ens.), nuwe Christelike voorbeelde (Christelike Serwiërs moor Moslems in Bosnië en Kosovo, ens.), nie-Christelike voorbeelde (Sunnie Moslems vermoor Sjiitiese Moslems in Irak, Militante Boeddhiste vermoor Moslems in Birma, ens.)

    (3) Jy praat van ongelyke samelewings waar jy of super-ryk of niks is nie. Ek lei af jy skryf dit toe aan goddeloosheid. Van wat ek weet was de feudale tyd in die Westerse beskawing nog meer gekenmerk deur sulke ongelykheid as wat nou die geval was, al was Godsdiens deur baas en klaas verkondig en die Kerk ‘n amptelike deel van die regering-stelsel was. Weereens ‘n Midde-Oosterse voorbeeld – state soos Saoedi Arabië is amptelik Moslem, maar die ongelykheid is skreiend. Partymaal word godsdiens gebruik om ongelyke mag goed te praat en juis die armes te onderdruk.

    Ek is simpatiek teenoor jou argument dat daar ‘n spritiuele element aan regering moet wees. Jou voorbeelde is egter onvolledig – dit lei tot ‘n ongebalanseede argument.

    Jou voorstel van die filosoof konings is utopies. Dit kom al ‘n lang pad, van Sokrates se dae af. Niemand kon dit nog tot uitvoering bring nie. Die konsep van ‘n Pous is rofweg op hierdie beginsel geskoei. Dit is ook die basiese beginsel waarop omtrent elke diktatuur in die geskiedenis gebou is. Ek is seker dat Stalin, Hitler, Pol Pot, Robert Mugabe, Saddam Hoessein en dosyne ander leiers hulself met graagte positief sou vergelyk met wyse filosoof-konings. Die belangrikste vrae rondom leierskap is altd: (a) hoe kies jy die ideale leier en (b) hoe raak jy van hom ontslae as jy uitvind hy is nie?

    Gee my maar enige dag eerder sekulêre humanusme en demokrasie. Die leiers kan glo wat hulle wil, ons faalbare mense sal maar besluit of hulle goed genoeg is of nie.

  3. Dankie vir jou breedvoerige kommentaar, André!

    Die toename in die invloed van Islam vind plaas a.g.v. die toename in die bevolkingsgetalle van Moslems én die versuim van die inheemse Europese bevolking om ʼn einde te maak aan die immigrasie van veral derde-wêreldse Moslems. Hul versuim is nié alleen die gevolg van Sekulêre Humanisme nie, maar óók van ander waardes en omstandighede wat ʼn invloed op hulle het. Ek stel dit as volg in my artikel: “Postmodernisme, liberalisme en die toenemende gebrek aan gemeenskaplike, saambindende kulturele waardes gee daartoe aanleiding dat veral Europeërs weinig weerstand bied teen die aanmatigende houding van Moslem-fundamentaliste…”. Ekonomiese redes speel heel waarskynlik ook ʼn rol in die daling van Europeërs se geboortesyfers. Ja, Sjaria-wette het tans nié ʼn beduidende invloed in Europa nie, maar indien die meerderheid inwoners in die toekoms Islam sou aanvaar, sal daar ʼn groter moontlikheid wees dat dit wel sal plaasvind. Ek glo ook nie dat die meeste Moslems in Europa doelbewus probeer om die lande oor te neem nie. Hulle bevolkingsgetalle sal wel in die toekoms verseker dat hulle ʼn wesenlike invloed sal uitoefen op politieke besluitneming. Ek het so ongeveer 10 jaar gelede in Saoedi-Arabië gewerk en was verbaas oor die hoeveelheid Amerikaanse motors op die paaie. Die toename in Westerse tegnologie het egter weinig invloed op die Arabiere se streng wetgewing t.o.v. die gebrek aan vroueregte, die verbod op pornografie en op homoseksuele dade. Ek wonder egter wat Moslems se reaksie sou wees indien húlle lande binnegestroom sou word deur Westerse Christene en ateïste…

    Ek het voorheen al heelwat geskryf oor wandade wat in die naam van die Christendom gepleeg is, soos bv. hierdie artikel (http://www.spiritualiteit.co.za/artikel-wandade-in-naam-van-christendom.php) op die SES-webblad. Hierdie artikel op my Blog, handel daarenteen spesifiek oor die vraag of die toenemende aanvaarding van sekulêre lewenswaardes, noodwendig altyd lei tot beter lewensomstandighede. Daar is ánder faktore wat ook ʼn invloed het op die lewenskwaliteit van mense, soos o.a. hul kulturele agtergrond, die omgewing en genetiese verskille tussen mense. Dit maak dus nié sin om, soos sommige militante ateïste, uitsluitlik godsdienstige fundamentalisme te blameer vir die haglike toestande in lande soos Nigerië en Zimbabwe nie.

    Die hoofoorsaak van die groot gaping tussen super ryk mense en die arm massas, is die hebsug van magtige belangegroepe. Terwyl magtige mense jare gelede godsdienstige idees misbruik het om hul onderdane mee te mislei en vreesbevange te hou, gebruik hulle deesdae die massamedia om die meeste mense mee te indoktrineer. Sodoende het hulle ʼn bepalende invloed op die uitslae van verkiesings in “demokratiese” lande. Die samewerking tussen internasionale geldbelange ek korrupte regeringsleiers is veral duidelik sigbaar in Afrikalande.

    Daar is ʼn wesenlike verskil tussen aan die een kant, mense wat eerlik en opreg is betreffende hul ware godsdienstige oortuigings, en aan die ander kant, ánder mense wat slegs voorgee om hoër ideale te hê, ten einde andere om die bos te lei. Baie politieke leiers gee voor dat hulle een of ander “wonderlike” politieke ideologie ondersteun wat ten doel het om die welsyn van die meeste landsburgers te bevorder. Inderwaarheid misbruik hulle daardie ideologieë om hul eie bankrekenings te bevorder. Duidelike voorbeelde uit Suid-Afrika se onlangse geskiedenis was heelwat lede van die Afrikaner Broederbond wat in die verlede voorgegee het dat hulle hulself beywer vir die behoud van die Afrikanerdom en Christendom; asook verskeie ANC-leiers wat die afgelope twintig jaar lang trane in die openbaar gehuil het oor armoede onder Swartmense. Vandag is baie van ons bewus van beide die toename in rykdomme van laasgenoemde regeringsleiers én die toenemende werkloosheid, agteruitgang en verval in die land. Ek gaan van die veronderstelling uit dat die filosoof-konings werklikwaar eerlik sal wees betreffende hul spirituele lewensbeskouing en betreffende hul besorgdheid oor die welsyn van andere. Ek is bevrees dat daar maar ʼn geringe kans is dat die Suid-Afrikaanse kiesers eendag sal besef dat hul leiers nié goed genoeg is nie…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s