Drie uiteenlopende lewensbeskouinge

cycle-of-death-and-rebirth

Wanneer filosowe, teoloë, wetenskaplikes en ander denkers begin nadink en vrae vra oor die eienskappe van die Kosmos en die mens se doel en “plek” binne die Kosmos, bespiegel hulle ook dikwels oor die eienskappe van die belangrikste veronderstelde Werklikheid binne (of buite?) die Kosmos. Sommige van hulle reken dat God meer Persoonlik van aard is, terwyl andere beweer dat die Goddelike verkleineer word deur menslike eienskappe daaraan te gee. Daar is selfs diegene wat die werklikheid van enige God of Goddelike, ontken. Daar is verskeie godsbeskouinge soos o.a. Teïsme, Deïsme, Panteïsme, Panenteïsme, Agnostisisme en Ateïsme. Terwyl die woord “godsbeskouing” verwys na spesifieke idees aangaande die aard van die Goddelike, verwys die woord “lewensbeskouing” na ʼn sekere godsbeskouing met gepaardgaande idees oor die lewe na die dood en die uiteindelike bestemming van die mens. Vervolgens bespreek ek drie uiteenlopende lewensbeskouinge, nl. Godsdienstige Fundamentalisme, Materialistiese Ateïsme en ʼn Nuwe Spirituele lewensbeskouing. 

 

Godsdienstige Fundamentaliste glo in ʼn Persoonlike God (Teïsme) en dat slegs sommige mense die Ewige Lewe in die Hemel sal beërwe. Hul God het na bewering sekere riglyne aan mense geopenbaar m.b.v. profete en “heilige” geskrifte soos bv. die Bybel en die Koran. Alle mense is deel van een van slegs twee groepe mense – die gelowige groep wat die “regte” dinge glo en/of die “regte” lewenswyse aanvaar, óf die ongelowige groep wat nié in daardie dinge glo en/of op ʼn sekere manier lewe nie. Die meeste mense is na bewering “halsstarrige ongelowiges” en bestem vir die Ewige Verdoemenis, omdat hulle nié voldoen aan God se voorvereistes nie. Baie Godsdienstige Fundamentaliste glo dat elke mens bestaan uit beide ʼn sterflike deel – die fisiese liggaam; asook ʼn onsterflike deel – die siel. Die siel is belangriker as die fisiese liggaam omdat dit kwansuis vir ewig lewe. Die ewigdurende gedeelte van die siel se “leeftyd” ná die afsterwe van die fisiese liggaam, word gevolglik bepaal deur dít wat elke persoon in ʼn relatief kort tydperk van gemiddeld 75 jaar, gedink en/of gedoen het. Slegs die gelowige groep mense is bestem om eendag die Ewige Lewe in die Hemel te beërwe. God   kan geensins “gelykgestel” word met Sy minderwaardige skepping nie. Die onsterflike siele van mense kan nooit dieselfde verhewe status as God bereik nie – selfs nie eens nadat die betrokke siele die Ewige Lewe in die Hemel ingegaan het nie!

 

“Positiewe” ateïste glo dat die Goddelike/God nié werklik is nie en dat alle idees daaroor onwaar is en gebaseer is op wensdenkery en mense se verbeeldingsvlugte. Sommige positiewe ateïste aanvaar ook “filosofiese” materialisme waarvolgens álles op verganklike materie gebaseer is – selfs menslike emosies soos liefde en haat. Die menslike bewussyn “verdwyn” dus nadat die fisiese brein klaar gedisintegreer het. Materialistiese fisici beweer dat daar fundamentele deeltjies is wat nié verder “opgebreek” kan word nie en wat die basis vorm van alle dinge. ʼn Menslike bewussyn is dus uiteindelik ook saamgestel uit miljoene klein deeltjies, met die gevolg dat die bewussyn verdwyn nadat die deeltjies met die afsterwe van die fisiese liggaam, “weggebreek” het vanaf die oorspronklike ongeskonde fisiese brein. ʼn Materialistiese Ateïs glo dat die Goddelike/God nié werklik is nie en dat daar ook geen bewuste voortbestaan ná die afsterwe van die fisiese liggaam is nie.

 

Vervolgens vergelyk ek my eie idees aangaande die eienskappe van die Goddelike, die eienskappe van lewende wesens en hul uiteindelike bestemming, met dié van beide Godsdienstige Fundamentaliste en dié van Materialistiese Ateïste. Hier is ʼn kort opsomming van my Nuwe Spirituele lewensbeskouing, wat in baie opsigte ooreenstem met die Neoplatonisme van Plotinus:

 

  • Daar is ʼn onpersoonlike/nie-persoonlike Goddelike Werklikheid of Absolute, wat alle gemanifesteerde dinge transendeer. Hierdie “Ongemanifesteerde” Goddelike kan egter nié voldoende in menslike terme omskryf word nie, juis omdat die Goddelike nié m.b.v. feilbare en beperkte metodes gemeet kan word nie. Die Goddelike is die inherente kern of Oergrond van alle bestaande dinge (Engels: God is the Ground of all being). Die Goddelike is ín alles en alles is ín die Goddelike.   
  • Elke lewende wese het ʼn onsterflike deel wat onafhanklik kan funksioneer van die fisiese liggaam en wat bly voortbestaan ná die dood van die fisiese liggaam. Hierdie onsterflike deel verhuis vanaf een liggaam na ʼn ander.
  • Daar is ʼn moontlikheid van uiteindelike eenwording tussen ʼn onsterflike deel van elke lewende wese en die Goddelike. Na hierdie eenwording sal die onsterflike deel nié langer gebonde wees aan ʼn beperkte bestaan “binne-in” ʼn fisiese liggaam nie.

 

Volgens die Panenteïstiese godsbeskouing waarop my Nuwe Spirituele lewensbeskouing gebaseer is, is daar ʼn Goddelike essensie “binne” alle dinge. Die Goddelike is dus nié soortgelyk aan ʼn “ou man met ʼn wit baard” wat vol planne is en wat emosies soos haat, wraakgierigheid, jaloesie en liefde, het nie. Sekere gelowe gebruik verskillende terme om na dieselfde Onpersoonlike Goddelike te verwys – Taoïste praat van Tao, Teosowe van Parabrahman en Kabbaliste van Ain Sof. Die ateïs André Comte-Sponville, erken op bladsy 82 van sy insiggewende boek The Book of Atheist Spirituality, dat een van die drie klassieke argumente vir die werklikheid van die Goddelike – die sg. kosmologiese argument, die naaste is aan ʼn moontlike bewys vir die “bestaan” van God:

 

 

“Of the three classical ‘proofs’ of God’s existence, this is the only one I find powerful, the only one that occasionally makes me vacillate or hesitate. Why? Because contingency is an abyss in which reason loses its bearings.”

Die patroon van “oorsaak en gevolg” móés dus êrens ʼn Begin of “Eerste Oorsaak” gehad het.

 

Terwyl dit onmoontlik is om die Goddelike voldoende in beperkte menslike terme te omskryf, het sommige mense tog probeer om hul begrip daarvan te “definieer”, soos onder andere die Teosowe se definisie van “Theosophic pantheism”:

 

“It is the doctrine that the root-essence of the universe is utter divinity, that divinity pervades throughout and is the substratum, the inmost, of all beings and things – every atom, sun, universe, man, god. Theosophic pantheism [similar to the contemporary understanding of the word ‘panentheism’] excludes the idea that deity is separate from the universe [in contrast to both theism and deism]; and while denying monotheism [including traditional Christians’ belief in the Trinity] and polytheism… Everything that is, is a manifestation, in one degree or another, of the all-permeant [all-pervasive?], divine essence.”

 

Volgens die Nuwe Spirituele lewensbeskouing is daar wel ʼn nie-materiële gedeelte van elke mens wat onsterflik is en wat bly voortbestaan nadat die fisiese brein ontbind het. Die spoke wat deur sommige mense waargeneem word, bestaan ook uit energie wat onafhanklik van die fisiese liggaam kan funksioneer. Boeddhiste verwys na ʼn geestelike bestendigheid (Engels: mental continuum), wat soortgelyk aan ʼn vlam wat deur een kers na ʼn ander oorgedra word, vanaf een liggaam na ʼn ander beweeg. Sommige antieke wysgere het geglo dat elke mens uit ʼn gees, siel en liggaam bestaan. Selfs die skrywer(s) van 1 Thessalonicense 5:23 het as volg na hierdie drie dele van elke mens verwys: “… en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!”. Die gees (Engels: spirit) is die Goddelike “kern” van elke mens, terwyl die siel verhuis vanaf een liggaam na ʼn ander deur ʼn proses van óf reïnkarnasie, óf die verhuising van die siel (Engels: the transmigration of the soul). Die verskil tussen die twee konsepte is dat reïnkarnasie die verhuising van die siel vanaf een menslike liggaam na ʼn ander veronderstel, terwyl die “verhuising van siele” konsep, die moontlikheid van die verhuising van die siel vanaf ʼn menslike liggaam na ʼn dierlike liggaam en andersom, veronderstel.

 

Die Goddelike manifesteer “duideliker” in sommige lewende wesens as in andere. Die Goddelike is daarom meer “sigbaar” in die lewenswyse van ʼn Boeddhistiese monnik as in dié van ʼn reeksmoordenaar of kindermolesteerder. Soortgelyk aan die verskille tussen spesies wat betref hul evolusionêre ontwikkeling en hul aanpasbaarheid aan die omgewing waarbinne hulle hulself bevind, is daar ook verskillende evolusionêre stadia van die menslike bewussyn se ontwikkeling. Alle mense is “gelyk” wat betref die Goddelike kern wat deel is van almal, terwyl hulle beslis ongelyk is wat betref hul oorgeërfde genetiese verskille, hul lewensomstandighede en uiteenlopende lewensbeskouinge. Terwyl ek die wetenskaplike getuienis vir die verskyning van verskillende lewensvorme d.m.v. evolusionêre prosesse aanvaar, glo ek dat siele ook op ʼn manier evolueer deur die lesse wat geleer word gedurende baie verskillende lewens. Die idees en handelinge van ʼn persoon beïnvloed nie slegs ánder mense nie, maar het ook ʼn wesenlike invloed op die toekomstige lewenspad van daardie betrokke persoon. Hindoes en Boeddhiste gebruik die woord Karma om te verwys na die verband tussen “oorsaak” en “gevolg”, m.b.t. die gevolge van mense se goeie en slegte denke en dade. Dit is dus nié heeltemal waar dat ʼn mens “niks” met jou saamneem wanneer jy sterf nie. Jou gemoedstoestand en die evolusionêre vlak van ontwikkeling van jou siel, wat grootliks afhanklik is van al jou denke en dade gedurende jou lewe, word deel van jou volgende lewensreis in ʼn ander fisiese liggaam op aarde, of miskien in ʼn ander dimensie of op ʼn ander planeet.

 

Sommige mense het op ʼn sekere stadium in hul lewens ʼn mistieke belewenis van “eenwees” met die Goddelike. Gedurende hierdie belewenis voel hulle asof alle dinge deel is van slegs Een Werklikheid en dat hulself dus óók deel is van daardie Werklikheid. Tydens hierdie ervaring het hulle ʼn allesoorheersende belewenis van Onvoorwaardelike Liefde. Wanneer hulle dan weer ná daardie belewenis “terugkeer” na die alledaagse lewe, verlang hulle dikwels hartstogtelik terug na daardie mistieke ervaring. Daardie belewenis het so ʼn lewensverrykende invloed op sommige mense, dat hulle vervolgens glo dat die permanente verwesenliking daarvan, die ware einddoel van hul lewens is. Die uiteindelike permanente mistieke eenwording (Engels: merging) met die Goddelike, word deur hulle voorgehou as dié doelwit waarna alle mense behoort te strewe. Verskillende gelowe gebruik verskillende terme om te verwys na uiteindelike eenwording, Verlossing of Bevryding. So byvoorbeeld gebruik Boeddhiste die woorde Nirvana of Paranirvana, terwyl Hindoes die woord Moksha gebruik. Volgens die Nuwe Spirituele lewensbeskouing is die strewe na uiteindelike eenwording met die Goddelike, die hoogste en edelste Ideaal wat enigiemand kan hê.

Uiteindelike eenwording met die Een Werklikheid impliseer nié dat jou afsonderlike bewussyn vervolgens sal verdwyn nie. Jy sal nié dan verander in ʼn soort onpersoonlike energie nie, maar sal nog steeds bewus wees. Jy sal egter nie langer glo dat daar basiese onoorbrugbare verskille tussen die Goeie en die Bose is nie en jy sal besef dat daar eintlik slegs Een “Iets” is en dat jy, sowel as alles en almal “om” jou, deel is van daardie Harmonieuse Geheel. Emosies soos haat en vrees sal uit jou gedagtes verdwyn en jy sal voortaan verenig wees met ʼn allesomvattende “Energie van Onvoorwaardelike Liefde”.

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

7 Responses to Drie uiteenlopende lewensbeskouinge

  1. Christo Hoffmann sê:

    Hoe wonderlik is dit nie dat die brein van diere informasie kan stoor in biologiese materiaal nie? Dat die wetenskap nog nie dit reggekry het wat miljoene jare se evolusie kon doen nie is sekerlik die een ding wat die natuur steeds oor ons as spesie het. Hoeveel het ons nie vermag in die laaste paar duisend jaar nie? Dat wanneer ons sterf daardie informasie saam met ons sterf en verdwyn is werklik eintlik hartseer is dit nie?

    • @Christo. Baie dankie vir jou duidelike uiteensetting van die lewensbeskouing waarvolgens alle inligting afhanklik is van verganklike materie. Ek stem egter nié daarmee saam nie, omdat ek glo dat die Goddelike nié afhanklik is van die bestaan van die menslike verstand/gees (Engels: mind) of van die menslike rede nie.

  2. Kobus de Jager sê:

    Die fenomeen van ‘n ‘walk-in’ maak dit nog interessanter. Siele (essensies / fragmente) inkarneer in verskeie liggame, maar dit kom ook gereeld voor dat twee siele opeenvolgend een liggaam (leeftyd) beset. Dis nie onregmatig nie want nie tegelyk nie, en is volgens ooreenkoms. Die nut is dat die tweede een vars inkom sonder die krisis van kind wees, en daarom meer onthou van die spirituele wêreld. Gewoonlik ‘save’ die eerste siel nie die leeftyd nie en keer terug na ‘n self soos voor daardie geboorte. Die persoonlikheid en geheue (aardse bewustheid dus) word oorgeneem deur die tweede siel, sodat die aardse persoonlikheid eers min agterkom.
    Nog erger, leeftye word opgeneem in ‘n spirituele biblioteek, van waar inkarnerende siele ander se leeftye kan ekstra toe-eien as hul eie. Die tweede siel kan dalk ook nie die leeftyd ‘save’ nie, sodat dit totaal verdwyn. Maar die persoonlikheid se bewustheid kombineer met die huidige siel na dood, sodat mens dan voel jy is daardie siel.
    Ons ‘self’ is daarom net ons funksionele bewustheid in die huidige oomblik – want dis al wat ons ooit met sekerheid het!
    Dit klink alles sleg, maar ons moet onthou dat siele die dinge reël uit ‘n besonder wye en salige perspektief.

  3. Christo Hoffmann sê:

    @Jaco. Ja ek ken darem al jou siening. Dis net interresant dat ons na dinge kan gryp steeds ‘n paar duisend jaar later nadat dinge nie verduidelik kon word nie en die verskeidenheid geloofsoortuiginge wat gespruit het uit sulke “verduidelikkings” in daardie tyd. Maak mens half jammer dat jy nie al die informasie wat mense gestoor gehad het in hulle kan heroep nie. Dink net die vooruitgang as ons kan begin informasie van die biologiese materiaal oordra na die elektroniese toe.,

  4. Thys Human sê:

    Jaco se indeling van godsdienssieninge in drie wydlopende groepe is handig as ‘n mens breë kwasstrepe wil trek, maar dit skep verskeie probleme weens die uiteenlopendheid van so baie gelowe, filosofiese sieninge en ander benaderings soos nie-godgelowige groeperinge.

    Wat egter vir my vreemd opval is sy gebruik van sekere terme om van die hoofgroepe verder te beskryf. Sy gebruik van “fundamentalistiese” godsdienste is darem kwaai negatief want daar is godsdienstige sieninge wat nie “fundamentalisties” is nie, soos Boeddhisme, Shintoisme en selfs westerse sieninge soos deïsme.

    Maar sy gebruik van die term “materialistiese” saam met ateïsme is veral heel onaanvaarbaar. Daardie term het ‘n baie negatiewe konnotasie in besprekings en debatte oor geloof en godsdiens. Ek kan nie help om te wonder of Jaco dit goed weet en daarom hierdie etiket aan ateïsme hang.

    Ek het die saak in e-posse met hom opgeneem en hy verwys onder meer na die fisici en hulle stellings oor deeltjies wat uiteindelik nie verder onderverdeelbaar is nie en koppel dit aan sieninge oor die dood en selfs die siel. So verwys hy onder meer na die fisikus, Stenger, se boeke waarin hy die konsep van ‘n godheid as onbestaanbaar aantoon.

    Stenger is na my mening een van die gesaghebbendste en deeglikste kommentators oor hierdie sake en dit is waar dat hy sy kennis van die fisika goed inspan om gronde vir sy stellings te gee, maar hy gebruik ook ander dinge soos logika en die kansigheidskonsep in wiskunde.

    En daar is talle ateïste – soos Dawkins, Hitchens, Coyne en Harris wat nie fisici is nie en nog talle meer wat nie wetenskaplikes is nie. Ek het self tot sterk non-teïstiese sieninge gekom nog voordat ek van Stenger gehoor het – en ek is alles behalwe ‘n wetenskaplike – dalk net ‘n ou filosoferende denker.

    Om my en diegene hierbo genoem dus as “materialisties” te etiketeer, is nie alleen verkeerd nie, maar waarskynlik ‘n doelbewuste klap met die teerkwas.

    En dan dink ek dat Jaco se poging om “nuwe spiritualiteit” as een van drie hoofstrome in die godsdiens te beskou, darem baie dik vir ‘n daalder is. Eintlik bietjie vermetel! Dit het nog ‘n lang pad om te gaan aleer dit met godgelowige en nie-godgelowige konsepte in dieselfde asem genoem kan word! Maar ek verwelkom dit as ‘n opregte poging om mense die 21e eeu in te sleep – doe dus voort, maar bekyk julle konsepte kort-kort opnuut.

    Thys Human

    • @Thys. Ek is bewus van die duidelike verskil tussen ʼn “kleinlike” materialis en ʼn “filosofiese” materialis en daarom verwys ek ook spesifiek as volg in my artikel na laasgenoemde: “… ‘filosofiese’ materialisme waarvolgens álles op verganklike materie gebaseer is – selfs menslike emosies soos liefde en haat.” Laasgenoemde definisie is soortgelyk aan dié van die Encyclopedia Britannica (http://www.britannica.com/EBchecked/topic/369034/materialism): “materialism, also called physicalism, in philosophy, the view that all facts (including facts about the human mind and will and the course of human history) are causally dependent upon physical processes, or even reducible to them.”, terwyl ʼn “kleinlike” materialis soortgelyk is aan (1) “The theory or attitude that physical well-being and worldly possessions constitute the greatest good and highest value in life.” of (2) “A great or excessive regard for worldly concerns.”, waarna die aanlyn Free Dictionary verwys by (http://www.thefreedictionary.com/materialism).

      Ek het hierdie kommentaar per e-pos aan Thys gestuur voordat hy die voorgenoemde kommentaar gelewer het op my Blog:

      Hallo Thys,
      Een van die hedendaagse uitgesproke “Nuwe Ateïste” wat ook ʼn fisikus is, is Victor J. Stenger. Hy is ʼn goeie voorbeeld van een van die “Materialistiese fisici wat beweer dat daar fundamentele deeltjies is wat nié verder ‘opgebreek’ kan word nie en wat die basis vorm van alle dinge.” Hy verduidelik sy standpunte hieroor in sy boek “God and the folly of Faith”. Op bladsy 154 sê hy: “What quantum physicists discovered was that every physical entity has both particlelike and wavelike properties. In fact, empirically they are all particles while their so-called wavelike behavior does not exist for an individual particle but appears only as a property of a large ensemble of particles”. En dan weer as volg op bladsy 244: “Quantum physics has only discrete particles like photons all the way down. Quantum, after all, means ‘discrete’.”

      Ek erken dat daar heelwat ateïste is wat aan die een kant nié glo in die lewe na die dood nie en wat aan die ander kant ook nié glo dat alles op die ou end slegs uit “discrete particles” bestaan nie. ʼn Filosofiese materialis glo egter van staanspoor af dat daar nié lewe na die dood is nie, o.g.v. sy/haar aanname dat alles op die ou end bestaan uit verganklike materie. As ons nou moerse “tegnies” wil raak, kan ons die betekenis van die woord “materie” bespreek. Volgens hierdie (http://en.wikipedia.org/wiki/Materialism) insiggewende Wikipedia artikel, maak sommige wetenskaplikes deesdae ʼn onderskeid tussen “materialism” en “physicalism”.

      Die drie lewensbeskouinge waarna ek verwys, is drie “uiterstes” en daar is heelwat mense wat nié volledig deel is van enigeen van hierdie drie “groepe” nie. Sodoende is daar teïste soos die “Hare Krishna” Hindoe kultus, wat glo in reïnkarnasie; panenteïstiese “liberale teoloë” soos prof. Sakkie Spangenberg en ds. Albert Cruywagen, wat nié glo in die lewe na die dood nie en ateïste soos John McTaggart (http://en.wikipedia.org/wiki/J._M._E._McTaggart), wat wel geglo het in reïnkarnasie en in die bestaan van siele.

      Ek verwys spesifiek na “positiewe” ateïste in my artikel. My definisie is soortgelyk aan die van die ateïs Michael Martin wat onderskei tussen “negatiewe” ateïste wat nié in ʼn God/Goddelike glo nie en “positiewe” ateïste wat glo dat ʼn God/Goddelike nié werklik is nie. Hiervolgens is agnostici ook eintlik “negatiewe” ateïste.

  5. Marieta Möller het per e-pos hierdie vrae aan my gevra n.a.v. my artikel:
    Jaco
    Ek het nie ‘n belangstelling in godsdiensfilosofie nie, maar wel ‘n belangstelling in (natuur)wetenskap. Ek was wel dekades in godsdienstige fundamentalisme vasgevang, maar het dit agtergelaat.
    Ek verstaan dat die mens ‘n stoflike en ‘n nie-stoflike komponent het. Sal jy asb. met dit in gedagte my vrae oor jou ‘Nuwe Spirituele lewensbeskouing’ beantwoord?
    1)Waarom gebruik jy die woorde ‘lewende wese(ns)’ en ‘mens(e)’ afwisselend as jy jou ‘Nuwe Spirituele lewensbeskouing’ verduidelik?
    2)Waarom manifesteer die Goddelike “duideliker” in sommige lewende wesens as in andere (Boeddhistiese monnik vs. reeksmoordenaar/kindermolesteerder), as alle mense “gelyk” is wat betref die Goddelike kern wat deel is van almal?
    3)Wat is die eienskappe van die “sommiges” wat ‘n mistieke belewenis van “eenwees” met die Goddelike het? Is daar dan nie weer 2 groepe nie? Die “sommiges” en al die ander?
    4) Hoe verduidelik jou ‘Nuwe Spirituele lewensbeskouing’ selfdood/selfmoord?
    5) Hoe sal jy jou ‘Nuwe Spirituele lewensbeskouing’ aan ‘n 7-jarige verduidelik? Sal ‘n 20-jarige dit self wil lees? Kinders en jongmense sterf ook en/of wonder ook oor die dood.
    6)Watter rol speel kultuur in die oorweging/aanvaarding van ‘n nuwe spirituele lewensbeskouing?
    @@@@@@@@@@@@

    Hier is my antwoorde op haar vrae:
    Hallo Marieta,
    Baie dankie vir jou interessante vrae en omdat jy die moeite gedoen het om my artikel deeglik deur te lees. Mag ek jou vrae en my antwoorde daarop, op my Blog plaas? Hier is my beskeie antwoorde op jou vrae:
    1) Baie ondersteuners van ʼn Godsdienstig-Fundamentalistiese of Materialisties-Ateïstiese lewensbeskouing, handhaaf ʼn “mensgesentreerde” lewensbeskouing. Tradisionele Christene glo dat slegs mense onsterflike siele het, terwyl Marxiste en Sekulêre Humaniste fokus op die belange van mense – dikwels ten koste van die belange van diere. Ek glo egter dat mense én “nie-menslike” diere, onsterflike siele het en dat almal van hulle die potensiaal het om uiteindelik eenwording met die Goddelike te bereik. Diere benodig egter nie ʼn lewensbeskouing wat hulle behoort te verhoed om die wêreld te vernietig nie, terwyl mense wel sodanige rigtingwysers en norme en lewenswaardes benodig.
    2) Alle lewende wesens bestaan hoofsaaklik uit drie gedeeltes – ʼn gees, siel en liggaam. Die gees verwys na die Hoër Self en is die Goddelike “vonk” binne elkeen. Elkeen het ʼn Goddelike vonk wat nog boonop “gelyk” is in die opsig dat almal van hulle as’t ware “vasgevang” is binne-in ʼn fisiese liggaam in ʼn aardse bestaan. Siele is op verskillende vlakke wat betref hul bewustheid van die Goddelike. Siele is onsterflik en evolueer vanaf een liggaam na ʼn ander, terwyl die liggaam sterflik is. Fisiese liggame is ongelyk wat betref hul genetiese samestelling en lewensondervindings. In hierdie artikel (http://www.spiritualiteit.co.za/artikel-manifestering-goddelike-op-sosiale-terrein.php) op die SES-webblad verduidelik ek meer breedvoerig my standpunt hieroor.
    3) Ongelukkig is daar maar altyd verskillende “groepe” in die wêreld, al sou dit nogal ideaal gewees het indien daar groter harmonie was onder alle mense. Omdat ek gekies het om my lewensbeskouing aan andere te verduidelik, is ek veral gemarginaliseer en “eenkant toe geskuif” deur Christene en ateïste wat ernstige probleme gehad het met my geloofstandpunte. Mense wat ʼn mistieke belewenis gehad het is byvoorbeeld nie langer so bang vir die dood as baie ander mense nie en hulle besef dikwels dat daar belangriker dinge in die lewe is as om gedurig met die “Joneses” te kompeteer vir meer geld en eiendomme.
    4) Een van my grootste helde, Otto Rahn, het heel waarskynlik selfmoord gepleeg as gevolg van die druk wat hy in Nazi Duitsland beleef het. Baie Albigensers het gedurende die Middeleeue die dood verkies bo die aanvaarding van die Rooms-Katolieke geloof. Heelwat Tibettaanse Boeddhiste het alreeds selfmoord gepleeg uit protes teen die Sjinese Kommuniste se vervolging van hul eie mense. Ek glo beslis nié soos die Katolieke, dat mens bestem is vir die hel as jy selfmoord pleeg nie.
    5) Ek het intensief begin belangstel in godsdienstige en filosofiese dinge toe ek ongeveer 15 jaar oud was. Dis ongelukkig so dat bitter-min tieners in hierdie dinge belangstel. Selfs die oorgrote meerderheid volwassenes glo maar hoofsaaklik dit wat deur die hoofstroommedia, kerkleiers en politici aan hulle opgedis word. Ek probeer altyd om my artikels sodanig te skryf dat selfs jongmense en die deursnee kerkganger dit behoort te verstaan. Miskien is dit verkieslik om met 7-jariges te gesels oor ʼn Persoonlike God in plaas daarvan om die meer esoteriese begrip aangaande ʼn Onpersoonlike Goddelike aan hulle te verduidelik?
    6) Ek skryf dikwels oor raakpunte tussen die spirituele/godsdienstige terrein en die politieke terrein. Anders as baie “spiritueel-bewuste” mense en ondersteuners van die “Nuwe Era”-beweging, aanvaar ek nié dat demokrasie noodwendig die beste regeringsvorm is nie. In hierdie onlangse artikel (http://www.spiritualiteit.co.za/artikel-gevolge-sekulere-lewenswaardes.php) op die SES webblad, stel ek selfs voor dat ʼn tipe Platoniese regering bestaande uit “filosoof-konings”, verkieslik is bo ʼn demokrasie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s