Raakpunte tussen godsdiens, spiritualiteit, die wetenskap en die politiek

 

Untitled

Het die Heelal ʼn “begin” gehad, of het dit maar nog altyd bestaan? Vandag aanvaar die oorgrote meerderheid wetenskaplikes die geldigheid van die oerknalteorie waarvolgens die Heelal en al die Natuurwette daarbinne, ongeveer 13.72 biljoen jaar gelede ontstaan het. Wetenskaplikes het m.b.v. die Hubble-teleskoop vasgestel dat sterrestelsels (Engels: galaxies) verder van mekaar af beweeg binne-in ʼn uitdyende Heelal wat heel waarskynlik “super-klein” was tydens die oerknal. Alle materie-deeltjies binne die Heelal het net na die oerknal van mekaar af wegbeweeg en het naderhand, soos die temperature binne die Heelal, meer eweredig verspreid geraak. Wetenskaplikes verwys daarna as “entropie” – die toename in chaos binne die Heelal. Dit is soortgelyk aan die toenemende eweredige verspreiding van ʼn gas wat ingelaat word binne-in ʼn geslote vakuum-omgewing. Heelwat wetenskaplikes glo ook dat die Heelal ʼn beperkte “leeftyd” het en dat dit in die verre toekoms in sal terugkeer na die “niks” wat daar was vóór die oerknal.

Wetenskaplike teorieë word toenemend gebruik om gebeure binne “ons” Heelal beter te ontleed en om sodoende toekomstige gebeure beter te kan voorspel, maar dit kan nog geensins gebruik word om dit wat “buite” die Heelal in die res van die Ganse Werklikheid of Kosmos is, te verklaar of te ontleed nie. As gevolg hiervan is daar verskeie bespiegelings aangaande wat ook al aanleiding gegee het tot die “geboorte” van die Heelal. Dit wat buite “ons” Heelal is, is ook van staanspoor af buite ons verstaan van Tyd, Ruimte en Natuurwette soos o.a. die gravitasiewet. Die bekende wetenskaplike Lawrence M. Krauss verwys na ʼn moontlike “niks” wat die ontstaan van die Heelal voorafgegaan het, as ʼn stuk leë “ruimte” met niks daarbinne behalwe die Natuurwette en kwantumvariasies. Op bladsy 149 van sy boek “A Universe from Nothing”, beskryf hy hierdie “niks” as volg: “First, I want to be clear about what kind of ‘nothing’ I am discussing at the moment. This is the simplest version of nothing, namely empty space. For the moment, I will assume space exists, with nothing at all within it, and that the laws of physics also exist”. Op bladsy 151 verwys hy na kwantumvariasies binne daardie “niks” wat lateraan die onderbou sal vorm van alles binne die Heelal: “So we, and everything we see, result out of quantum fluctuations in what is essentially nothingness near the beginning of time, namely during the inflationary expansion”.  

In sy voorgaande bespiegeling oor wat ook al die oerknal voorafgegaan het, neem Lawrence Krauss sondermeer aan dat daar Natuurwette is wat inwerk op kwantumvariasies binne die leë ruimte en wat gevolglik lei tot die ontstaan van die Heelal. Indien ons sou aanvaar dat die voorgaande bespiegeling hedendaagse wetenskaplikes se beste verklaring is vir dit wat “voor” die oerknal “bestaan” het, kan ons verder besin oor wat ook al die oorsaak was van die werklikheid van die Natuurwette. Vervolgens bespreek ek drie verskillende “skeppingsverhale” waarin bespiegel word oor die moontlike oorsaak van die Natuurwette.

Die eerste skeppingsverhaal is Lawrence M. Krauss se bespiegeling oor die moontlikheid van meervoudige heelalle (Engels: multiverse) in die Ganse Werklikheid of Kosmos, “waarbinne” elke heelal sy eie Natuurwette het. Hiervolgens is daar moontlik ander heelalle met Natuurwette wat nié kan lei tot die ontstaan van intelligente lewensvorme nie. Ons Heelal se Natuurwette en konstante waardes soos o.a. die spoed van lig, is egter van so ʼn aard dat dit gelei het tot die ontstaan van mense wat kan wonder en bespiegel oor die aard van die Heelal waarbinne hulle leef. Lawrence Krauss verduidelik sy standpunt hieroor as volg op bladsy 176: “Under the general principle that anything that is not forbidden is allowed, then we would be guaranteed, in such a picture, that some universe would arise with the laws that we have discovered. No mechanism and no entity is required to fix the laws of nature to be what they are. They could be almost anything”.  

Volgens die tweede skeppingsverhaal het ʼn Persoonlike God besluit om ʼn Heelal te skep met spesifieke Natuurwette en konstante (onveranderlike?) waardes wat d.m.v. jarelange evolusionêre prosesse uiteindelik sal lei tot die geboorte van die eerste lede van homo sapiens sapiens. Alhoewel hierdie God kwansuis “buite” Tyd, Ruimte en die Natuurwette is, het Hy tog “menslike” eienskappe soos o.a. gevoelens en ʼn verstand wat Hy gebruik het om ʼn Plan te beraam waarvolgens die Heelal geskep is! Op grond van hierdie veronderstelde Plan is die aard van die Natuurwette en waardes van konstantes, presies vasgestel en is die planeet aarde en lewensvorme biljoene jare gelede geskep. Die belangrikste doel van die minderwaardige skepping is om God se behoeftes te bevredig deur o.a. te dien as ʼn “toetsgrond” vir mense met onsterflike siele, waarvan sommige bestem is om die ewige lewe te beërwe indien hulle aan God se voorvereistes voldoen het.   

In die derde skeppingsverhaal word aangeneem dat wat ook al aanleiding gegee het tot die ontstaan van die Natuurwette, verhewe is bo enige menslike begrippe aangaande die Skone, die Goeie en die Waarheid. Hierdie “Iets” is die onderliggende Een Werklikheid wat die inherente kern is van alle gemanifesteerde dinge. Die Een Werklikheid of Absolute is onpersoonlik van aard, terwyl die Skeppende Intelligensie as “Eerste Manifestasie” van die Absolute, bewus is en aanvanklik die leë ruimte met kwantumvariasies en Natuurwette daarbinne, geskep het. Die Skeppende Intelligensie is Perfek en het geen tekortkominge of behoefte om ʼn Heelal te skep waarbinne slegs sommige mense bestem is vir die Hemel nie. 

Lawrence M. Krauss erken op bladsy 147 van sy boek dat: “We do not yet fully understand how life originated on earth”. Hy definieer dan “lewe” verderaan op dieselfde bladsy as: “… self-replicating cells with a metabolism that captured energy from their environment”. Die wêreldbekende wetenskaplike en uitgesproke ateïs, Richard Dawkins, erken op bladsy 416 van sy boek “The Greatest Show on Earth”, dat: “We know a great deal about how evolution has worked ever since it got started, much more than [Charles] Darwin knew. But we know little more than Darwin did about how it all got started in the first place. This is a book about evidence, and we have no evidence bearing upon the momentous event that was the start of evolution on this planet. It could have been an event of supreme rarity. It only had to happen once, and as far as we know it did happen only once.” Dit is dus duidelik dat hedendaagse wetenskaplikes nog boonop – soortgelyk aan bespiegelings oor die ontstaan van die Heelal, spekuleer oor moontlike prosesse wat veroorsaak het dat “self-replicating cells” ontwikkel het vanuit anorganiese “lewelose” materie.

Hopelik sal heelwat prominente wetenskaplikes eendag genoeg objektiwiteit en nederigheid aan die dag lê deur te erken dat daar ʼn groot waarskynlikheid is dat ʼn nie-materiële Werklikheid betrokke was by die ontstaan van die Heelal en lewe op aarde. Hulle behoort dan ook te erken dat daar werklikhede is wat nié m.b.v. hul uitgediende wetenskaplike metodes “gemeet” kan word nie. Na my mening verg die aanname dat lewe toevallig op aarde ontstaan het en dat die Natuurwette toevallig “reg” was vóór die oerknal, méér blinde geloof as die erkenning van die betrokkenheid van ʼn Goddelike/Skeppende Intelligensie. Die tweede skeppingsverhaal het ook ʼn redelike hoeveelheid blinde geloof nodig, juis omdat aangeneem word dat ʼn veronderstelde Almagtige Skeppergod wat buite Tyd en Ruimte is, behoeftes het wat bevredig moet word! 

Die voorgaande bespiegelings is almal “nie-wetenskaplik” van aard, omdat die geldigheid daarvan nié m.b.v. empiriese wetenskaplike metodes vasgestel kan word nie. Die drie skeppingsverhale aanvaar die geldigheid van sekere “algemeen-aanvaarde” wetenskaplike teorieë, terwyl daar bespiegel word oor dinge wat huidig nié “gemeet” kan word nie. Daar is egter godsdienstige en filosofiese idees wat as “onwetenskaplik” beskou kan word omdat dit die geldigheid van daardie wetenskaplike teorieë ontken. Sodoende ontken “Jong-Aarde” kreasioniste die geldigheid van die evolusieteorie en aanvaar hulle nog boonop die letterlike verstaan van Genesis waarvolgens die aarde slegs ongeveer 6 000 jaar oud is. Sommige politici verwys gereeld na die beweerde “gelykheid” van alle mense en baseer hul politieke standpunte op hierdie onwetenskaplike stelling. Wat sal die invloed wees op byvoorbeeld ondersteuners van Marxisme of liberale demokratiese regeringsvorms indien wetenskaplikes eendag onteenseglik sou bewys dat daar wesenlike oorgeërfde genetiese verskille tussen mense is – verskille wat ʼn groter invloed as uiterlike lewensomstandighede het op mense se verskillende karaktereienskappe?

 

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

7 Responses to Raakpunte tussen godsdiens, spiritualiteit, die wetenskap en die politiek

  1. Schalk sê:

    Baie goeie en insiggewende artikel Jaco. Die menslike verstand het nog nie die vermoë ontwikkel om dit uit te pluis nie.
    Schalk

    • Baie dankie vir jou positiewe kommentaar, Schalk! Die probleem is dat baie skeptiese wetenskaplikes huiwerig is om te erken dat hul vooropgestelde idees aangaande die nie-werklikheid van enige God of Goddelike, óók uiteindelik gebaseer is op geloof i.p.v. op empiriese wetenskaplike waarnemings of getuienis.

      • Verskoon my domheid of oningeligtheid, Jaco, maar wat het jy in gedagte met hierdie ’empiriese wetenskaplike metodes en waarnemings’? Ek neem aan dit moet iets te doen hê met wetenskaplike en/of onwetenskaplike metodes en waarnemings, maar wat beteken die woord ‘enpiriese’ in besonder?

    • Hallo Chris,

      Die woord “empiries” verwys na waarneming of ondervinding, in plaas van teorie of logika. Empiriese kennis is kennis wat deur mense opgedoen word o.g.v. hul sintuiglike waarnemings en/of ondervindings. Alledaagse verskynsels word gedurig deur mense waargeneem deur gebruikmaking van hul sintuie. Sodoende kan mense die spoed waarmee en rigting waarin ʼn objek beweeg, waarneem en voorspellings maak wat gebaseer is op daardie waarnemings. Wetenskaplike teorieë en hipoteses wat waarde toevoeg tot mense se lewenskwaliteit, word daarna opgestel en voortdurend getoets. Mense se ondervindings wat gebaseer is op hul sintuiglike waarnemings van spesifieke verskynsels, word gebruik om kennis aangaande daardie verskynsels te versamel en om wetenskaplike hipoteses daaroor te ontwikkel. Die geldigheid van stellings en bespiegelings aangaande transendentale dinge soos die aard van die Goddelike, die hiernamaals en “vrye wil”, kan egter nié op soortgelyk wyse vasgestel word nie. Iemand kan byvoorbeeld beweer dat hy/sy met God kan kommunikeer en dat God vir hom/haar net so werklik is soos die hond of kat wat buite in die tuin rondhardloop. Die geldigheid van bewerings aangaande transendentale werklikhede, kan egter nié aan iemand anders bewys word soortgelyk aan die werklikheid van ʼn hond of kat wat deur twee persone tegelyk waargeneem word nie.

  2. Walter Muller. sê:

    More Jaco.

    Ek het lanklaas deelgneem aan enige besprekinge maar ek hou van jou artikel en die ruimte wat jy laat vir vrae en kritiek. Ek is geen deskundige of amptelik gekwalifiseerde om “aanvaarde” teorie of stellinge op jou of andere se werk te lewer wat “amptelike” waarde het nie. Die skool van die lewe is my speelplek. Ek lees graag en leef in die barre harde oorlewings gebied waar brood en botter die belangrikste deel van my bestaan is.

    Die “oerknal” is ‘n teorie wat ek nog nooit as aanvaarbaar kon verwerk nie. My rede hiervoor is bloot die feit dat alles wat ek nog in my lewe teegekom het ‘n stadige, pynlike, moeisame, skeppings poging was. Pogings wat deur een of twee, of meer, en in meeste gevalle deur groot groepe mense in samewerking met mekaar en ook d.m.v. die hulp van groepe buite hulle groep uiteindelik tot die skepping van iets gelei het. In hierdie pogings word altyd foute gemaak, hierdie foute word altyd gepoog om herstel te word, en dit word soms perfek herstel, maar meestal vind ons die “klaar” produk het nodig om aangepas te word om funksioneel te bly in die daaglikste veranderderde omstandighede.

    M.a.w. “niks” is ooit perfek nie! Wat my bring by jou tweede en derde teorie, waar ‘n “GOD” die behoefte het om iets te skep, eerstens waar sy skepping nie volmaak is nie, maar deur ewolusie groei tot perfeksie en waar sommige skeppinge skrot word en ander dan perfek leef in sielsform vir ewig. En derdens, word daar geen foute gemaak deur ‘n skepper nie, en alles wat hy skep perfek gedoen word met die plan dat alles uiteindelik perfek sal wees, en “hemel” toe sal gaan.

    Krause se idee dat binne ruimte, daar eers “niks” was met die uitsondering van die wette nie, is ietwat dubbelsinnig. En hier bring dit my by ou eie gedagte dat “iets” wat ons nie kan waarneem nie moontlik die oorsaak is van “alles” wat ons wel kan waarneem. Meeste, of alle wetenskaplikes wil “glo” dat indien hulle “iets” nie kan waarneem nie, bestaan dit nie, m.a.w. die wetenskap is net so in die duister as wat geloof is rakende dit wat tasbare dinge skep maar bietjie meer logies as die geloof! Dus kan ons aanneem dat wetenskap ook “glo” maar dit nooit sal erken nie a.g.v. hulle slagspreuk, “bewyslas”.

    Soos jy weet bestaan daar baie groepe wat spirituele navorsing doen, juis om daardie “onsigbare” skeppers te vind. Baie van hulle wil dat dit tog maar ‘n perfekte liefdevolle hemelse “VADER” of meervoud daarvan is wat alles tot stand bring. Kyk ons na ons self en die res van dit wat lewe rondom ons, vind ons ‘n harde, naakte, barre stryd vir oorlewing, waar almal poog om te oorleef, en ons eet mekaar letterlik op in hierdie oorlewings proses. Die Indiane in Amerika het selfs die humanistiese kultuur aangeleer om dit wat hulle eet te bedank omdat daardie “kos” daar was en dit vir hulle moontlik was om dit te oorwin en te eet. Die gelowiges bedank hulle “gode” vir die voedsel wat hulle eet voor hulle dit eet! M.a.w. ons bedank almal op een of ander wyse iemand vir ons kos, ons almal blyk dus in ooreenstemming te wees dat doodmaak van die volgende skepsel wat ‘n “skepper” “lief” het, die goedkeuring het van daardie skepper of skeppers.

    Hierdie uiters noodsaaklike oorlewings verpligting druis direk in teen die “liefde” wat meeste gelowiges voorhou as die hoof karakter eienskap van hulle gode! Hierdie waarneming bring my by “volmaakte skepping”. Alles wat “is”, sigbaar, of onsigbaar, oorleef omdat dit “eet”. alles bestaan uit dieselfde ding, m.a.w. ons eet elke dag ons self!

    Tot dusver weet niemand wanneer alles ontstaan het nie, of deur wie of wat dit ontstaan het nie. Wat wel bekend is, en dit is iets wat bewyslas nodig het is “siel”. Die “werklike” jy en ek! Die operateurs van die sigbare, die tasbare, dit wat “ervaar” word.

    Sou ons bloot ‘n meganiese wese wees soos wetenskap soms beweer, sou dit moontlik wees om iemand te onthoof, daardie persoon te vries sy brein te ondersoek, foute te herstel, en dit dan weer terug te werk op die liggaam, dit te ontvries en siedaar, hy of sy word “wakker” en leef bloot “beter” voort want die brein disfunksie is herstel! Ons weet egter almal dat dit nie gebeur nie. Ons weet ook dat indien die brein vir drie minute nie suurstof kry nie gaan dit dood en so ook die liggaam wat afhanklik is vir oorlewing van die opdragte wat deur die brein gestuur word.

    Hoekom dit so is weet ons egter nie, en het dit maar bloot as “wet” aanvaar. Daar bestaan sekere geskrifte waar geskryf is dat die menslike liggaam drie dae neem om werklik “dood” te gaan, hierdie geskrifte is moontlik die rede waarom ons vandag nog die dooies eers na drie dae begrawe of veras. Hierdie geskrifte beweer dat dit drie dae neem vir die siel om finaal te skei van die liggaam. Volgens hierdie kenners word die liggaam verbind aan die liggaam deur die naeltjie van die fisiese liggaam d.m.v. ‘n onsigbare koord wat in engels genoem word “umbilical cord”. Ons glo dit nie want ons kan dit nie sien nie! Diegene wat dit wel kan sien het daaroor geskryf, en daar is selfs in die heilige boek “DIE BYBEL” in die ou testament, in die boek Prediker hoofstuk 12 verse 6 tot 8 ‘n kort beskrywing van die doodgaan proses, en daar word genoem dat wanneer hierdie koord breek jy finaal na jou laaste rusplek gaan.

    Ek vir een het ervaringe gehad waar ek of die onbewysbare siel buite die liggaam rond beweeg het, en ek het daardie koord gesien, maar weereens kan ek dit nie bewys nie, want die regte ek kan nie ‘n fisiese kamera vashou nie en die liggaam sonder die siel binne dit is bloot ‘n bondel vleis en bene, en kan nie fisiese handelinge doen as die siel nie binne is en die kontroles beheer nie. Die ander tekort koming hier is tegnologie, dit is nog nie ver genoeg ontwikkel om ‘n siel of hierdie “umbilical cord” op film te kan vasvang nie. Abel het Boedhisme gaan bestudeer en hy behoort aan jou te kan verduidelik dat die deskundiges in daardie leef wyse deeglik bewus is van ‘n siels lewe. Ongelukkig wil die praktiese aardse weste nie daardie kennis “verkoop” nie want dan moet hulle erken dat hulle tegnologie nie naastenby so goed is is wat hulle beweer nie.

    Skepping gebeur omdat daar lewe is wat nie waargeneem kan word nie, skeppers is in die meervoud, geweldige meervoud, siel is in alles wat “lewe” of “beweeg”, alles wat lewe of beweeg bou alle ander dinge wat lewe of beweeg. Dit alles vind mikroskopies plaas en neem biljoene, miljoene, duisende, honderde, tientalle jare, maande, weke, dae, ure, sekondes mikro sekondes, afhangende hoe groot dit is wat geskep word; want atome is mikroskopies klein, en om dit te manipuleer moet dit wat dit manipuleer ook baie klein wees en uit groot groepe bestaan, wat in samewerking met mekaar d.m.v. “poging en aanpassing” uiteindelik die “volmaakte, onvolmaakte” tot stand bring.

    Walter.

    • Hallo Walter. Jammer dat ek nóú eers reageer op jou insiggewende kommentaar. Ek het die afgelope paar weke baie tyd gespandeer aan navorsing en die skryf van my nuutste artikel “Faktore wat ʼn invloed het op die lewenskwaliteit van mense”. Hierdie artikel sal binnekort hier op my Blog verskyn. Jy is welkom om dan ook kommentaar daarop te lewer. Daarin verduidelik ek my standpunt oor die bestaan van ʼn siel en gepaardgaande “vrye wil”, vanuit ʼn filosofiese en logiese oogpunt. Ek onderskei my “metafisiese libertynisme” van (1) die “logiese” of wetenskaplike determinisme van filosofiese materialiste, die (2) teologiese determinisme van Calvinisme, (3) die ateïstiese eksistensialisme van Jean-Paul Sartre, én (4) die “oop” teïsme van sommige Christelike teoloë.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s