Faktore wat ʼn invloed het op die lewenskwaliteit van mense

Vrye Wil versus Determinisme

Het elkeen van ons die vermoë om ʼn wesenlike invloed op ons lewenskwaliteit te hê deur hoofsaaklik genoeg wilskrag en/of visualiseringstegnieke te gebruik? Tot watter mate word ons karaktereienskappe, besluite en dade bepaal deur faktore soos o.a. ons oorgeërfde gene, lewensondervindings en opvoeding? Is ons maar op die ou end “onwillige slagoffers” van onveranderlike Natuurwette of van die voorafbepaalde besluite van ʼn Almagtige en Alwetende God? Dalk het ons tog ʼn mate van “vrye wil” om die verloop van ons lewens tot ʼn beperkte mate te kan bepaal…

Mense het duisende jare gelede al besef dat baie gebeure in die Natuur reëlmatig plaasvind volgens sekere waarneembare Natuurwette. Sodoende val ʼn appel ná die grond, in plaas van boontoe en word mense siek a.g.v. kieme en virusse, in plaas daarvan dat gode hulle straf vir die een of ander wandaad. Nadat wetenskaplikes in ʼn toenemende mate selfs die weer korrek kon voorspel het, het baie mense geleidelik begin wegbeweeg vanaf uitgediende bonatuurlike verklarings. Wetenskaplike teorieë wat gebaseer is op kennis aangaande die Natuurwette, is met die verloop van tyd meer doeltreffend aangewend om die oorsake en gevolge van gebeure mee te bepaal. Volgens “wetenskaplike determinisme” behoort dit in beginsel moontlik te wees om die verloop van toekomstige gebeure presies vas te stel – indien die volledige toestand van die Heelal op enige tydstip bekend is. Hiervolgens is daar voorwaardes vir alles wat plaasvind – voorwaardes wat sodanig van aard is dat, gegewe dieselfde omstandighede wat gedurende daardie spesifieke voorwaardes aanwesig was, niks ánders kon plaasgevind het nie. In die kwantumfisika verwys (Werner) Heisenberg se onsekerheidsbeginsel na die feit dat die waarneem van die presiese posisie van ʼn partikel in ʼn klein gedeelte van ruimte, die momentum daarvan onseker maak; en teenoorgesteld, as die momentum daarvan presies gemeet word, is die posisie van die partikel onseker. As gevolg hiervan is dit onmoontlik om die verloop van gebeure 100% korrek te kan voorspel.

Op bladsy 16 van sy boek “Free Will”, beweer die bekende ateïs en neurowetenskaplike Sam Harris, dat: “… we know that determinism, in every sense relevant to human behavior, is true. Unconscious neural events determine our thoughts and actions – and are themselves determined by prior causes of which we are subjectively unaware.” Hy regverdig sy deterministiese standpunt op o.a. eksperimente wat deur die fisioloog Benjamin Libet uitgevoer is. Libet het Elektro-ensefalografie (EEG) gebruik om aan te toon dat aktiwiteit in die brein se motorkorteks ongeveer 300 millisekondes waargeneem word alvorens die persoon voel dat hy/sy besluit om ʼn sekere beweging uit te voer. Tydens ander eksperimente wat gebruikmaak van funksionele magnetiese resonansiebeeldvorming (fMRI), word deelnemers gevra om een van twee knoppies te druk terwyl hulle ʼn skerm dophou waarop ʼn ewekansige volgorde van letters verskyn. Die eksperimenteerders het ontdek dat twee dele van die brein inligting bevat wat aandui presies watse knoppie die deelnemers sal druk, ʼn volle 7 tot 10 sekondes alvorens die deelnemers bewus word van hul besluit om daardie knoppie te druk. Dit wil dus op die oog af voorkom asof iets in jou brein “besluit” wat jy gaan doen enkele oomblikke vóór jy bewus is van daardie handeling. Daar is egter ʼn wesenlike verskil tussen bewuste besluitneming en die breintoestand waardeur iemand bewus word van ʼn besluit om iets te doen. Omdat die deelnemers aan die eksperimente bewus was van dit wat van hulle verwag was, kon hulle (onbewustelik) die aanvang van die gevraagde handelinge gedelegeer het na breinmeganismes wat vinnige reaksies tot gevolg gehad het. Die voorgaande eksperimente is dus nié van toepassing op óf rasionele besluite aangaande langtermynbeplanning, óf op gewetenskeuses tussen uiteenlopende norme en waardes, nie.

Op bladsy 5 van sy genoemde boek, beweer Sam Harris dat: “Free will is an illusion. Our wills are simply not of our own making. Thoughts and intentions emerge from background causes of which we are unaware and over which we exert no conscious control.” Hiervolgens is die menslike bewussyn eintlik maar slegs ʼn neweproduk van die fisiese brein – dieselfde brein waarvan die eienskappe vooraf bepaal word deur deterministiese Natuurwette. Volgens Sam Harris is alle besluite afhanklik van hoofsaaklik mense se opvoeding, lewensondervindings en oorgeërfde gene wat ʼn wesenlike invloed uitoefen op die unieke aard van hul breine.

Volgens filosofiese materialisme is alle dinge, insluitende bewussyn, op die ou end afhanklik van onbewuste “dooie” materie. Filosofiese materialiste ontken vervolgens die bestaan van nie-materiële werklikhede soos byvoorbeeld die Goddelike wat die Natuurwette kon geskep het, of onsterflike siele wat onafhanklik van die fisiese brein kan funksioneer. Baie van hulle aanvaar wetenskaplike determinisme waarvolgens “vrye wil” ʼn illusie is. Filosofiese materialiste wat ʼn meer “linksgesinde” politieke uitkyk het, beklemtoon die belangrikheid van goeie opvoeding en ʼn goeie onderwysstelsel, bó die van gene. So word dikwels beweer dat hoofsaaklik goeie opvoeding uiteindelik maatskaplike vooruitgang behoort te waarborg!

Rasionele selfbeskikking en gepaardgaande verantwoordelikheid vir veral morele besluite, behels die vermoë om te kan besin oor redes vir ʼn spesifieke handeling; asook die bereidwilligheid om jou behoeftes te hersien in die lig van kritiese normatiewe besinning. In die lig hiervan het sommige ateïste gepoog om aan te toon dat daar wel so-iets soos vrye wil is omdat alle besluite nié noodwendig afhanklik is van óf lukrake neurologiese prosesse, óf van onbewuste neurone waarvan die eienskappe voorafbepaal is deur die Natuurwette, nie. Volgens die ateïstiese eksistensialisme van die Franse filosoof Jean-Paul Sartre, het elke mens die vryheid om – anders as tafels, stoele en klippe, te eksisteer en sodoende besluite te neem wat die verloop van hul lewens en van ander gebeure kan verander.

Sartre het ʼn ateïstiese lewensfilosofie geformuleer wat anders as filosofiese materialisme, ʼn groter mate van andersheid, onafhanklikheid, subjektiwiteit en vryheid, aan die menslike bewussyn toeëien. In “Existentialism is a Humanism” verklaar hy: “All kinds of materialism lead one to treat every man including oneself as an object – that is, as a set of pre-determined reactions, in no way different from the patterns of qualities and phenomena which constitute a table, or a chair or a stone. Our [atheistic existentialists’] aim is precisely to establish the human kingdom as a pattern of values in distinction from the material world.” Sartre verduidelik egter nêrens wát presies die materiële en/of nie-materiële samestelling is van dit wat ʼn selfbewussyn het en wat besluite kan neem, onafhanklik van genetiese faktore of neurologiese prosesse, nie. Sal dit dan onredelik wees om daarom aan te neem dat wat ook al ʼn selfbewussyn het wat onafhanklik kan funksioneer van enige neurologiese prosesse of deterministiese Natuurwette, soortgelyk is aan ʼn onsterflike, nie-materiële siel?

Volgens teologiese determinisme is God per definisie Almagtig, Alwys en Alwetend. Hy is ook buite Tyd en Ruimte en weet presies wat die verloop van gebeure in die wêreld sal wees, juis omdat Hy dit alles voorafbeplan het. Al het elke mens ʼn onsterflike siel, het niemand ware vryheid om besluite te kan neem en vervolgens die verloop van die geskiedenis, op grond van daardie besluite, te kan verander nie. Die Calviniste se uitverkiesingsleer is gebaseer op hierdie godsbeskouing. Sommige teoloë het besef dat die geloof in determinisme teenstrydig is met die idee dat elke mens op die ou end ten volle verantwoordelikheid behoort te aanvaar vir morele besluitneming. Volgens hulle godsbeskouing wat bekendstaan as “oop” teïsme, het elke mens ʼn vrye wil om te kan besluit of hulle God wil navolg of nie. Hul God is egter nie heeltemal so Alwetend en Almagtig soos die Calviniste se God nie, omdat Hy nié die toekoms volledig voorafbeplan het nie. Hy is daarom nié indirek verantwoordelik vir al die pyn en lyding in die “bose” wêreld nie. Hy word selfs beïnvloed deur mense se gedrag en verander soms sy eie besluite na gelang van mense se gebede en optredes. Sommige voorstanders van oop teïsme regverdig hul godsbeskouing op die letterlike verstaan van Bybelverse soos o.a.  Génesis 6:6 “… het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart.” Omdat die toekoms dus “oop” is, weet selfs God nie presies watter mense eendag Hemel toe sal gaan nie en is dit selfs moontlik dat die ou Duiwel op die ou end as oorwinnaar uit die stryd sal tree!

Om ʼn vrye wil te kan hê, moet elke mens in staat wees om sekere wilsbesluite te neem en om daarna, op grond van daardie wilsbesluite, sekere handelinge te kan uitvoer. Daardie wilsbesluite is geensins voorafbepaal of beïnvloed deur óf ʼn Almagtige God (teologiese determinisme), óf deur uitsluitlik Natuurwette (wetenskaplike of “logiese” determinisme), nie. Om ʼn vrye wil te hê impliseer beslis nié dat elke mens kan doen wat hy/sy wil, nie! Ongelukkig oorbeklemtoon filosofiese materialiste die belangrikheid van opvoeding, uiterlike omstandighede en/of genetiese verskille en ontken hulle gewoonlik die werklikheid van vrye wil. Baie “spiritueel-bewuste” mense oorbeklemtoon ongelukkig die invloed wat gedagtes en visualiseringstegnieke het op die verloop van mense se lewens. Sommige van hulle beweer selfs dat mense vóór hul geboorte in fisiese liggame, besluit het watter ouers hulle gaan kry en in watter omstandighede hulle gaan grootword! Hulle oorbeklemtoon dus die belangrikheid van “Consciousness” en ignoreer of onderbeklemtoon die invloed van omstandighede en genetiese faktore wat tot ʼn groot mate “buite” elkeen van ons se beheer is. Daarenteen behoort ons te erken dat verskeie faktore – lewensondervindings, opvoeding, oorgeërfde gene en hoe jou vrye wil hierdie dinge hanteer, gesamentlik ʼn wesenlike invloed het op elke mens se lewenskwaliteit.

Die belangrikheid van genetiese invloede kan nie weggeredeneer word nie. Indien jy geneig is om hoë bloedsuiker of cholesterol te hê a.g.v. oorerflike genetiese faktore, kan jy jou wilskrag gebruik om jou dieet effektief te reguleer en sodoende jou gesondheid en lewenskwaliteit wesenlik te beïnvloed. Met ʼn sterk wilskrag sal die kanse minder wees dat jy ʼn alkoholis sal word indien daar ʼn genetiese neiging na alkoholisme in jou familie is. Sommige mense het ʼn groter mate van vrye wil en wilskrag wat hulle meer bereidwillig maak om die nadelige invloede van godsdienstige en politieke propaganda en kondisionering deur die hoofstroommedia, te kan ontbloot en te ontgroei.

Volgens my Nuwe Spirituele lewensbeskouing het elke mens ʼn onsterflike siel met ʼn bewussyn en ʼn vrye wil. Die siel inkarneer vanaf een fisiese liggaam na ʼn ander en gebruik die brein en fisiese liggaam as “voertuie” om te kan evolueer en sekere “lesse te leer”. Indien jou besluite en gepaardgaande optredes tot gevolg het dat jy en ander lewende wesens nader beweeg aan moontlike eenwording met die Goddelike, is dit goeie besluite en optredes, terwyl slegte/bose besluite en dade, jouself en andere weerhou van eenwording met die Goddelike. Elkeen van ons se vrye wil is soortgelyk aan die Skeppende Intelligensie wat aanvanklik die Natuurwette geskep het wat die oerknal “voorafgegaan” het, in dié opsig dat ons óók nie ten volle gebonde is aan ʼn voorafbepaalde en vasgestelde lewenspad nie. Jy kan jou (beperkte) vryheid en kreatiewe denke gebruik om ʼn wesenlike invloed te hê op die verloop van jou en ander mense se lewens. Jou uiteindelike Verlossing of Bevryding hang dus tot ʼn groot mate af van jou eie besluite en optredes en nié van die besluite van ʼn vreesaanjaende “jaloerse” God nie.

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

13 Responses to Faktore wat ʼn invloed het op die lewenskwaliteit van mense

  1. Hi Jaco,
    Baie interessante artikel oor ‘n baie interessante onderwerp.
    Net vinnig, ek vermoed jou “tye” is verkeerd in die artikel. Moet die “300 sekondes” nie “300 milli-sekondes” wees nie?

    Persoonlik wonder ek gereeld oor hierdie spesifieke “vrye wil vs determinisme” konsep. Dis regtig ‘n brein-knoper. Mark Twain in sy boek “What Is Man?” beeld sy voorkeur van ‘n deterministiese beskouing baie mooi uit. Uit my eie persoonlike lewens-ervaring het ek ook self tot die gevolgtrekking gekom dat die skaal meer in die rigting van determinisme kantel as in die guns van vrye wil. M.a.w. ek persoonlik vermoed ons het baie minder beheer oor ons “besluite” as wat ons dink.

    Voorbeeld: Kom ons aanvaar dat ‘n ouer-paar hul kind as Christen grootgemaak het en dat die kind (wat nou so 16 jaar oud is) homself nou as Christen identifiseer en die leeringe van sy betrokke kerk/denominasie ten volle aanvaar. As ek nou vir daardie kind vra om uit VRYE WIL sy geloof te verwerp en homself van nou af vorentoe as ‘n Poseidon-gelowige te sien en NET vir Poseidon te aanbid, dink jy hy sal enigsins in staat wees om dit te doen? Dink jy hy sal genoeg wilskrag (oftewel, vrye-wilskrag) he om dit “af te pull”?

    Ek dink nie so nie. Ek dink hy sal Christen bly, soos deterministies “vir hom” bepaal was deur sy ouers. Hy is dus ‘n produk van sy opvoeding en omstandighede.

    Kom ons aanvaar egter nou dat ‘n groep Poseidon-aanbidders hul lywe “Jehova-getuies” hou en van huis tot huis gaan om siele vir Poseidon te wen. Kom ons aanvaar ook dat hulle baie goeie “sales men” is en die arme kind oorreed kry om Poseidon te aanvaar as sy verlosser en saligmaker. Weereens vra ek die vraag: Het hy self (m.a.w. uit vrye wil) besluit om Poseidon aan te neem, of is dit weereens “vir hom bepaal” deur die eksterne invloed van die Poseidon-aanbidders se evangelisasie-werk en het hy eintlik geen beheer oor die uitkoms nie?

    Dis amper soos om ‘n baie goeie “magic trick” te sien en verwonderd te staan oor hoe die ou die toertjie uitgevoer het. Daar’s geen verduideliking vir hoe dit gedoen word nie, dis “magic”. As die kul-kunstenaar nou sy “toertjie” se geheim openbaar, sal jy OOIT weer na die toertjie kan kyk en nog steeds kan dink dat dit “magic” is? Nee, ek twyfel of ons genoeg vrye wil in so ‘n situasie het om dit te kan “will”. Dus weereens ‘n eksterne faktor wat dit (deterministies) bepaal. Dus geen vrye wil…

    Dankie vir die “thought-provoking” artikel. Ek hoop my opinie hier sal dieselfde vir jou kan doen! 🙂

    Christoff

    • Hallo Christo,

      Baie dankie vir jou opbouende en insiggewende kommentaar en dat jy die “300 sekondes” fout raakgelees het. Ek het dit so pas gekorrigeer na “300 millisekondes”.
      As dit wel so was dat opvoeding en die druk van die gemeenskap 100% bepaal watter geloofsoortuiging jy gaan hê, sou 100% van alle inwoners van Saoedi-Arabië ywerige Moslems gewees het en álle Afrikaners 30 jaar gelede, ywerige Calviniste gewees het. Die feit dat ek en jy ánder idees oor God en die hiernamaals het as die meeste ander hedendaagse Afrikaanssprekende mense, dui daarop dat ten minste ons twee ons vrye wil gebruik het om “weg te breek” vanaf die tradisionele denke wat onlosmaaklik deel is van ons gemeenskap.

      Die feit dat ek groter weerstand sal kan bied teen die groep “Poseidon-aanbidders” as die “arme kind” waarna jy verwys, dui daarop dat ek méér daartoe in staat is as die kind, om my vrye wil te gebruik ten einde die indoktrinasie te weerstaan. In die hedendaagse Suid-Afrika versuim die meeste Suid-Afrikaners om hul vrye wil en inisiatief te gebruik om weerstand te bied teen die toenemende korrupsie en verval in die land, terwyl daar tóg ander Suid-Afrikaners is wat op hul manier die korrupsie ontbloot en andere hieroor probeer inlig.

      • Hallo Jaco,
        Ja dis nogal ‘n interessante issue. Die feit dat ek en jy (byvoorbeeld) nie deel is van die norm nie, is dalk toe te skryf aan ons vrye wil. Maar dis dalk ook toe te skryf aan ‘n baie spesifieke kombinasie van ons opvoeding en ons blootstelling.

        My vriendekring op skool was byvoorbeeld ‘n baie interessante samestelling (ek en een vriend was Nederduits Gereformeerd, een was Nederduits Hervormd, een was ‘n Sewende-Dag Adventis en een was Agape) en my kamer-maat in my eerstejaar op universiteit was ‘n Katoliek (en een van my universiteits-vriende was ‘n ateis).

        Hierdie individue het ‘n baie groot rol gespeel in my uiteindelike beweging van ‘n NG-geindoktrineerde, stoere Christen na die Ateis / Deistiese agnostikus wat ek vandag is. Die gesprekke wat ons oor die jare met mekaar gehad het (tesame met die eksterne faktor van ‘n ouer-opvoeding wat my probeer leer het om altyd vrae te vra en vir myself dinge uit te redeneer), het my uiteindelik gebring na waar ek vandag is. Ek het NIE uit vrye wil gekies om ongelowig te raak nie, dis ‘n GEVOLGTREKKING wat ek uiteindelik bereik het namate my wereld-beskouing deur al hierdie eksterne faktore oor ‘n lang tyd vervorm was.

        Party mense sal dink dis my vrye keuse gewees, maar ek stem nie saam nie. Ek dink nie mens kan jouself enigsins “will” om in ‘n spesifieke doktrine te glo nie – as dit jou oorreed, sal jy glo. As dit jou nie oorreed nie, sal jy nie glo nie. (Dus geen ware vrye wil nie).

        My vraag vir julle is dus: Is ‘n mens se geloof ‘n KEUSE? Of is dit ‘n gevolg van jou omstandighede? As dit laasgenoemde is, het geen God die reg om iemand te verdoem omdat hy/sy tot die “verkeerde” gevolgtrekking gekom het nie. Want wie weet, dalk IS Poseidon die enigste ware god en IS al die Christene, Moslems, Hindoes en Jode almal ook oppad hel toe saam met ons ateiste! LOL!

        Groete,
        Christoff

    • Hallo Christoff,

      Ek is bevrees nié alle mense aanvaar ʼn spesifieke geloof nadat hulle op rasionale wyse oortuig is van die geldigheid daarvan nie. Sommige mense soos die begaafde Evangeliese Christen Francis Collins, aanvaar aan die een kant die oorweldigende getuienis vir die evolusieteorie, terwyl hulle aan die ander kant glo in die wonderwerke van die Bybelse God. Collins het byvoorbeeld vroeër in sy lewe op ʼn verysde waterval in ʼn woud afgekom wat in drie groot stukke verys was. Hy het hierdie ondervinding gebruik as voorbeeld van die Natuur wat die Drie-Enige aard van God aan hom getoon het! Kognitiewe dissonansie is ʼn geestesafwyking wat gewoonlik ondervind word deur iemand wat tegelyk twee of meer teenstrydige oortuigings, idees en/of waardes, aanhang.

      Op die ou end moet ons maar “agree to disagree” dat nie een van ons die geldigheid van ons standpunte t.o.v. die “vrye wil versus determinisme” debat, genoegsaam kan bewys deur gebruikmaking van logika of empiriese wetenskaplike metodes nie. Soortgelyk aan idees oor die aard van die Goddelike en die hiernamaals, kan die (on)werklikheid van vrye wil (nog nie?) bewys word nie…

    • Hi, Christoff! Persoonlik vind ekself ook hierdie tipe gesprekke baie interressant en het dit geniet om Jaco se artikel en jou eie kommentaar daarop te lees – dit is voorwaar soos jy sê “thought-provoking”! Die verskynsels wat jy hierbo aanroer en as ‘determinisme’ bestempel en/of beskou, is sekerlik ‘n tipe van determinisme, maar ek meen dat dit die persoon sélf se besluite en oortuiginge is wat daardie determinisme tot gevolg het, amper so-iets soos wanneer ‘n mens homself ‘in ‘n blik druk’ wat natuurlikerwys sekere amper onafwendbare gevolge gaan hê en selfs jou later vrye wil aan bande gaan lê!

      Onderaan hierdie kommentare sal ek my eie siening gee oor elke mens se oorerflike genetiese faktore en hoe dit op die mens inwerk -= as jy wil, kan jy dit lees en ek verneem graag jou mening daaroor!

      Groetnis!

  2. Enki Ruthven sê:

    Ek stem saam met jou beskouing soos vervat in die laaste paragraaf. Ek kon nog nooit vat kry aan die deterministiese denkwyse nie, dit is eenvoudig net nog ‘n manier waarop die mens sy verantwoordelikheid wil ontduik; soos ook die geval van die “scapegoat” of velosser teorie.
    Ons het ‘n beperkte vryheid van keuse en moet ook die gevolge daarvan dra.
    Groete

    • Ek stem heelhartig saam met jou, Enki! Indien teologiese of wetenskaplike determinisme geldig was, sou geeneen van ons 100% verantwoordelikheid kon neem vir enige wandaad nie. ʼn Beskuldigde sou altyd met reg die blaam op ánder mense, genetiese faktore en/of haglike lewensomstandighede, kon geplaas het. Die probleem is ook dat wie ook al die meeste mag in die land het, genoeg selfvertroue sou gehad het om d.m.v. vitamienes, genetiese ingenieurswese en gedurige indoktrinasie, die denke en gedrag van hul onderdane volledig te kon bepaal.

  3. Walter Muller. sê:

    ‘N baie deeglike verduidelikende gesprek oor geloofs en nie geloofs standpunte. Ek hou van die gedagte “baie lewens om baie lesse te leer”. Vir my is reinkarnasie die enigste manier om te gebruik om alles van ‘n aarde, of planeet of “woonplek” te kan leer. Geen persoon kan alles oor ‘n planeet soos die aarde in een leeftyd leer nie, dus is een leeftyd = hemel of hel nie logies aanvaarbaar nie.

    Dan is daar die kwessie oor “Bevryding of Verlossing” sou ons “reg” leef. Alle gelowe het sonde vergifnis en ‘n “hemel”, as jy “reg” lewe, of “hel” indien jy nie “reg” lewe nie. Vir sommige Ateiste is dood die einde, ander skep vir hulle self iets meer. Buddhisme se “Verlossing of Bevryding” kom neer op iets soortgelyk aan ‘n “hemel” waar dit nie meer nodig is om as fisiese wese hier te leef nie. Die “aanvaarde” Christelike standpunt is dat Jesus genoem het dat “ewige” lewe beteken dat ons aan sy sy, iewers in ‘n “hemel” saam met hom sal “verkeer” vir ewig! Dit klink ietwat lank, en kan uiters vervelig raak sou ons hom en sy vader vir ewig eer en prys met lof liedere!

    Dit bring diegene van ons wat wel glo in ‘n lewe na die dood dus by die vraag uit; wat gaan ons doen die dag as ons daar uitkom? ‘N antwoord op hierdie vraag kan lank wees, ek sal poog om dit kort te hou. Quatum fisika het vasgestel dat “lewe” bestaan in atoom dele. Indien daardie “lewe” nie meer waargeneem word nie hou die atoom deeltjies op om te beweeg. Dit vergelyk met ons as mens, indien daar nie meer waarneming van lewe is nie, word die mens as dood verklaar. Dit beteken dat die fisiese waaruit die mens bestaan nie meer ‘n “drywer” het nie. Daardie fisiese begin dus om te “vergaan”, net soos die atoom deeltjies begin om te “vergaan”.

    Ons bestaan uit atome en hulle deelties! Indien daardie atome dus “drywers” gehad het, beteken dit dat ons in beheer was van biljoene ander drywers wat op hulle beurt ons elke wens uitgevoer het! en nog steeds doen indien jy wat hier lees lewe, indien jy nie meer lewe nie (of liewers indien jy aan beweeg het na ‘n ander dimensie toe), lees jy iewers oor iemand se skouer wat ek nou hier skryf!

    Wat doen jy wat oor die skouer loer om besig te bly? Bou jy wolke, bou jy suurstof, of is jy nou ‘n raadgewer vir my en Jaco? Is dit jy wat in my oor fluister om bietjie humor aan hierdie antwoord te heg? Of doen ek dit myself, ek kan nie onthou dat ek daaroor gedink het nie, ek skryf sonder om te “dink”, hoe kry ek dit reg? Hoe lank gaan jy nog hier wees (dit is nou jy wat oor die skouer loer), of het iemand jou raad nodig om iewers waar dit hard reen sy voertuig op die pad te hou?

    Is dit waarmee ons, ons self gaan besig hou? Of gaan ons slegs eer betoon? Wat is die mees logiese, onthou, “vir ewig is ‘n lang, lang tyd”? Jesus het aan sy dissipels in Johannes 15, as ek reg onthou, vertel dat indien hulle hom reg verstaan, sy “vriende” word! Hy het ook genoem dat hy in sy vader is, soos hulle in hom is! Dit kom dus daarop neer dat indien ons hom reg verstaan, word ons nie net sy vriende nie, maar ook sy vader s’n!

    Dit alles bring ons weer eens terug na “sonde en verlossing toe”. Indien daar in die laaste leeftyd dus “reg” gelewe word, word ons “verlos” van hierdie “sondige” wereld! Hoe weet ons dat slegs die ouens wat nou ‘n “goeie” lewe lei “verlos” word? Is daar ‘n vasgestelde volgorde, of kan die ouens wat nou moordenaars, verkragters, ens is, dalk ook besig wees met hulle laaste lewe hier, hulle het al heel moontlik geleef as goeie ouens, en moet net nou hierdie boef speel voor hulle “klaar” maak! Hoe weet ons of hierdie “boef” nie dalk “verstaan” wat Jesus probeer leer het nie.

    Hierdie begrip oor Jesus maak ook aanbidding tot niet, want niemand aanbid sy vriende nie, ons eer hulle, en werk en speel saam met hulle.

    Jaco, dit is in kort ‘n siening wat ek het.

    Walter.

    • Hallo Walter,

      Baie dankie vir jou kommentaar oor die betekenis van “sonde” en goeie en slegte dade. Indien dit nodig sou wees om tydens jou laaste inkarnasie ʼn “slegte” lewe te lei alvorens Nirvana of Verlossing bereik kan word, kan die “slegte” lewenswyse streng gesproke nie as “sleg” beskou word nie. Enigiets wat mens nader bring aan eenwording met die Goddelike kan nié inherent boos of sleg wees nie. Om moord te pleeg of geld te steel tydens jou laaste lewe, kan dan nié as bose dade beskou word nie. Miskien is die pleeg van die “wandaad” nié sleg nie omdat die persoon wat daardie (op die oog af slegte) daad pleeg, se intensies eintlik goed was. Miskien het leiers van gelowe soos Boeddhisme en Hindoeïsme al lank gelede besef dat bespiegelings oor die voorgaande idee, nié eintlik bedoel is vir die ore van hul “gewone” volgelinge nie.

  4. Enki Ruthven sê:

    Ek is oortuig daarvan dat een van die “lesse” wat ons moet leer is vryheid van denke en dan spesifiek om vir jouself te dink; te redeneer en nie net eenvoudig te glo nie.

    • Hou baie van jou ‘om vir jouself te dink; te redeneer en nie net eenvoudig te glo nie’, Enki, jy is voorwaar BAIE reg! Ek sien dit as een van die groot redes waarom Jesus sy evangelie hoofsaaklik deur gelykenisse aan sy dissipels oorgedra het!

  5. Enki Ruthven sê:

    Lees asseblief inleiding van my book “Advance to Ataraxia” verkrygbaar by Amazon KDP
    Groete

  6. Ek sal so maak. Baie dankie vir hierdie inligting, Enki!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s