Maatstawwe waarvolgens geloofstandpunte gemeet kan word

 

Daar is heelwat mense wat hul eie geloofstandpunte baie ernstig opneem en poog om soveel as moontlik ánder mense te oortuig van die geldigheid daarvan. Een so ʼn persoon wat ʼn groot deel van sy lewe daaraan gewy het om sy godsdienstige oortuigings met evangeliese ywer aan andere te verkondig, is dr. William Lane Craig. Hy debatteer gereeld met andersdenkende mense – mense wie se idees heelwat verskil van sy eie geloof in die werklikheid van ʼn Persoonlike God, die Bybel as Woord van God en die “leë graf” van Jesus. Dr. Craig beweer in sy boek On Guard, dat sy tradisionele Christelike geloof nié strydig is met die nuutste wetenskaplike bevindings aangaande die ontstaan van die Heelal nie en dat daar selfs voldoende geskiedkundige getuienis is vir Jesus se kruisiging en opstanding vanuit die dood! Hy beweer nog boonop dat die wêreld ʼn beter plek sal wees indien méér mense Jesus sou aanvaar as hul persoonlike Verlosser en indien hulle die objektiewe morele waardes sou aanvaar wat na bewering afkomstig is vanaf die Bybelse God.

Die afgelope tien jaar het sommige skrywers, meer as ooit tevore, gepoog om onwetenskaplike aannames en wandade wat in die naam van godsdienste gepleeg is, te ontbloot. Uitgesproke “Nuwe” Ateïste, soos o.a. Richard Dawkins, Victor J. Stenger, Sam Harris, Daniel Dennett, Lawrence M. Krauss en Christopher Hitchens, het hul idees uiteengesit in boeke soos o.a. The God Delusion, Breaking the Spell en God is Not Great. Een van hul belangrikste standpunte is dat die wêreld ʼn beter plek sal wees sonder godsdiens. Sommige van hulle erken egter met vrymoedigheid dat hulle nié voldoende kan bewys dat God of die hiernamaals, onwerklik is nie.

Alledaagse verskynsels word gedurig deur mense waargeneem m.b.v. hul sintuie. Sodoende kan mense die spoed waarmee en rigting waarheen ʼn objek beweeg, waarneem en voorspellings maak wat gebaseer is op daardie waarnemings. Mense se ondervindings en sintuiglike waarnemings van spesifieke verskynsels, word gebruik om kennis aangaande daardie verskynsels te versamel. Vervolgens word wetenskaplike teorieë en hipoteses wat waarde toevoeg tot mense se lewenskwaliteit, opgestel en voortdurend getoets. Die geldigheid van stellings en bespiegelings aangaande moontlike transendente werklikhede soos die aard van die Goddelike, die hiernamaals en “vrye wil”, kan egter nié op soortgelyk wyse vasgestel word nie. Iemand kan byvoorbeeld beweer dat hy/sy met God kan kommunikeer en dat God vir hom/haar net so werklik is soos die hond of kat wat buite in die tuin rondhardloop. Die geldigheid van sodanige bewerings aangaande transendente werklikhede, kan egter nié aan iemand anders bewys word soortgelyk aan die werklikheid van ʼn hond of kat wat deur twee persone tegelyk waargeneem word nie. Terwyl dit aan die een kant nié moontlik is om die werklikheid van sekere transendente werklikhede d.m.v. aanvaarde empiriese wetenskaplike metodes vas te stel nie, is dit wel moontlik om idees en bespiegelings daaroor te toets en te meet volgens sekere maatstawwe. Daar kan byvoorbeeld vasgestel word of spesifieke idees (1) logies konsekwent is met mekaar, of (2) dit strook met die nuutste wetenskaplike bevindings en (3) in watter opsigte dit voordelig of nadelig is vir iemand wat daarin glo of indirek daardeur geraak of beïnvloed word.

As twee idees logies konsekwent is met mekaar, kan dit nié teenstrydig wees nie. Indien iemand egter aan die een kant beweer dat God almagtig is en dat Sy liefde teenoor alle mense onvoorwaardelik is, terwyl hy aan die ánder kant glo dat God doelbewus ʼn wêreld vol onnodige booshede en ongeregtighede geskep het, glo hy in twee idees wat nié logies konsekwent is met mekaar nie. Nog ʼn voorbeeld is die bewering dat God die verloop van die geskiedenis presies voorafbeplan het, maar dat almal tog die vryheid het om onafhanklike (vrye) wilsbesluite te kan neem wat op geen manier (selfs nié deur God!) voorafbepaal is nie. Mense het dus die vryheid om die verloop van gebeure onbepaald te kan verander. ʼn Verdere voorbeeld is iemand wat aan die een kant glo dat alle morele norme en waardes relatief is en dat geen mens daarom die reg het om aan andere voor te skryf wat moreel aanvaarbaar is nie, terwyl sy aan die ander kant sondermeer glo dat demokrasie die beste regeringsvorm is en dat alle mense dit behoort te aanvaar.

Daar is verskeie godsdienstige idees wat onwetenskaplik van aard is weens die feit dat dit direk indruis teen aanvaarde wetenskaplike bevindings en teorieë – idees soos o.a. die Jong-Aarde Kreasioniste se geloof in die aarde se “jong” ouderdom van ongeveer 6 000 jaar; asook Jesus se beweerde maagdelike geboorte en wonderwerke. Nie-godsdienstige Sekulêre Humaniste en Marxiste ontken dikwels die belangrikheid van oorgeërfde genetiese faktore en hulle oorbeklemtoon gevolglik die invloed van omgewingsfaktore soos goeie onderwysstandaarde en gelyke regte vir almal. Deur aan die een kant tradisionele Christene se geloof in wonderwerke te kritiseer en aan die ander kant die waarde van wesenlike genetiese verskille tussen mense te onderskat, ontbloot sommige “ongelowiges” nog boonop die logiese inkonsekwentheid van hul idees.

Die nadelige gevolge van sekere geloofstandpunte aangaande transendente werklikhede, is veral duidelik sigbaar in wandade wat in die naam daarvan gepleeg is; asook geloofsgebaseerde morele norme en waardes wat alreeds baie onnodige pyn en lyding veroorsaak het. Dr. Craig beweer byvoorbeeld dat daar objektiewe waardes is wat van staanspoor af goed is omdat dit afkomstig is vanaf die Bybelse God. Daarom regverdig hy byvoorbeeld die God van die Ou Testament (Jahwe) se opdrag aan die Israeliete om onskuldige vroue en kinders te vermoor! Aan die ander kant van die “morele spektrum” beweer postmoderniste wat morele relativisme ondersteun, dat Westerlinge nié die reg het om die seksuele skending van inboorlingvroue of die steniging van ontroue Moslem-vroue, te veroordeel nie. Sommige mense wat nié die geloof in ʼn Persoonlike God (Teïsme) óf morele relativisme aanvaar nie, glo dat “iemand” dan die reg behoort te hê om te bepaal wat goed/reg en boos/verkeerd is. Rooi-Sjinese Marxiste sê byvoorbeeld dat dit hul regering se verantwoordelikheid is, terwyl Boeddhiste beweer dat hul Edel Agtvoudige Pad navolgenswaardige morele norme en waardes verwoord.

Terwyl dr. Craig en baie ander gelowige mense eerlikwaar glo en lewe volgens hul verklaarde geloofstandpunte, het baie opportuniste ongelukkig deur die jare op sluwe en oneerlike wyses die godsdienstige idees van andere misbruik in hul strewe na mag en rykdomme. Keiser Konstantyn, wat heel waarskynlik ʼn songod-aanbidder was, het die georganiseerde Christendom gebruik om eenheid binne die Romeinse Ryk te bewerkstellig. Omdat baie Amerikaanse Evangeliese Christene die Israelse regering ondersteun, kon hul regering en die militêr-industriële kompleks meer geredelik hul beplande oorloë regverdig teen oorwegend-Moslem lande. Die twee grootste (blanke) politieke partye in Suid-Afrika het vóór 1994 Calvinistiese geloofsbeginsels gehad. Sedertdien is dit toenemend vervang deur die liberaal-demokratiese beginsels van die Demokratiese Alliansie en die sosialistiese beginsels van die regerende ANC. Die grootliks uitgediende Calvinistiese dogma sowel as invloedryke politieke ideologieë wat op die onwetenskaplike gelykheidsdogma gebaseer is, het beide ʼn wesenlike bydrae gelewer tot die meeste hedendaagse Suid-Afrikaners se lewensuitkyke. Tot watter mate het hierdie lewensuitkyke aanleiding gegee tot die toenemende rassisme, korrupsie, werkloosheid, geweldsmisdaad en nepotisme? In plaas daarvan om te erken dat hul verwronge godsdienstige en politieke idees nadelige gevolge kan hê, blameer sommige Afrikaanssprekende Calviniste nog steeds die meeste Swartmense vir als wat skeefloop, terwyl regeringsleiers gerieflikheidshalwe die skuld pak op hoofsaaklik die Apartheidsbeleid van meer as twintig jaar gelede.

Dit is insiggewend dat veral geloofsgebaseerde idees wat onwetenskaplik van aard is en/of wat logies inkonsekwent is met mekaar, misbruik was en nog steeds misbruik word om miljoene mense mee te mislei en te onderdruk. Sommige invloedryke belangegroepe het byvoorbeeld deur die jare besef dat godsdienstige idees waarvolgens God alles voorafbepaal het, sowel as die materialistiese aanname dat alle menslike emosies volledig van chemiese stowwe afhanklik is, mense boonop kan ontmoedig om waarde te heg aan vryheid van denke en om voldoende verantwoordelikheid te aanvaar vir hul denke en dade. Die mooiklinkende maar onwetenskaplike en dikwels inkonsekwente idees van Sekulêre Humaniste, Marxiste en godsdienstige mense, het ongelukkig nog altyd ʼn magtige elite bevoordeel ten koste van die arm massas. As gevolg van die invloed wat hierdie magtige elite uitoefen op die hoofstroommedia, bepaal hulle nog steeds indirek die verkiesingsuitslae in selfs oënskynlik liberaal-demokratiese lande soos Suid-Afrika.

Wat sou wêreldse omstandighede vandag gewees het indien die meeste mense, insluitend politici en ander invloedryke mense, ʼn ánder lewensbeskouing gehandhaaf het wat die welsyn van alle mense as méér belangrik ag as die welsyn van hoofsaaklik ʼn veronderstelde God of die welsyn van super-ryk kapitaliste en onderdrukkende regerings? Miskien ʼn ander lewensbeskouing wat bestaan uit logies konsekwente idees wat nié indruis teen aanvaarde wetenskaplike idees nie; wat mense aanmoedig om lief te wees vir alle lewende wesens en wat nog boonop lewensverrykend is. ʼn Moontlike Nuwe Spirituele lewens- en wêreldbeskouing wat – anders as die tradisionele Abrahamitiese godsdienste en “filosofiese” materialisme, gebaseer is op hierdie drie geloofstandpunte: (1) die Goddelike is ín alles en alles is ín die Goddelike; (2) elke lewende wese het ʼn onsterflike deel wat verhuis vanaf een liggaam na ʼn ander, ná die afsterwe van die fisiese liggaam en (3) die moontlikheid van uiteindelike eenwording tussen ʼn onsterflike deel van elke lewende wese en die Goddelike.

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

3 Responses to Maatstawwe waarvolgens geloofstandpunte gemeet kan word

  1. Dankie vir ‘n wel deurdagte artikel, Jaco! Net een aspek wat ek bly sal wees as jy vir my sal opklaar. Lees ek dit reg as ek lees dat jy reken die volgende twee gedagtes is teenstrydig met mekaar?
    1. God het die kosmos, d.i. die heelal se natuurwette vasgelê en daar word nooit van daardie natuurwette afgewyk nie.
    2. God het ook natuurwette vir die LIGGAAM van die mens vasgelê, maar vir die lewende siel binne-in daardie liggaam het Hy sy eie soewereiniteit gegee, m.a.w. ‘n vrye keuse – baie dinge kan die mens se keuses beïnvloed, maar uiteindelik is dit die mens sélf wat sy eie keuses maak; dít gesê, blyk dit tog dat die LEWE wat die BRON is van ‘n lewende siel, in beginsel dieselfde is as al die ander lewensvorme wat elkeen sy eie aard/natuur ontvang het en gevolglik ook elkeen sy eie sóórt vrug voortbring; só gebeur dit dan dat die mens met sy vrye keuse die vrug/gedagte van daardie lewe binne-in homself kan versaak en ‘n ander se vrug/gedagte tot uitvoer bring.

    Natuurlik is dit so dat die mens met sy eie keuses nie alleen sy eie voortbestaan en die kwaliteit daarvan kan beïnvloed nie, maar ook dié van baie ander, maar aan die aard/natuur en sy vrug van sy eie lewe, en aan die nutuurwette van die aarde en die res van die heelal kan die mens nie verander nie . . .

    • Ek waardeer jou gereelde kommentare, Chris – al verskil ons van mekaar.

      Punt (1) en (2) van jou kommentaar is nié teenstrydig met mekaar nie, maar wel die idee dat (1) God as Almagtige en Alwetende Wese, die verloop van alle gebeure presies voorafbeplan en vasgestel het (sg. Teologiese Determinisme) en die idee dat (2) alle mense ʼn vrye wil het omdat hulle na die beeld van God geskape is. Hierdie is ʼn poging deur veral fundamentalistiese Christene soos dr. Craig, om die geloof in ʼn Almagtige Skeppergod te vereenselwig met die idee dat elke mens verantwoordelikheid moet aanvaar vir sy/haar besluite en dade. Daarom het mense eintlik geen rede om hul aaklige lewensondervindings of God te beskuldig vir verkeerde besluite wat húlle geneem het nie. Selfs dr. Craig versuim om hierdie siening van hom behoorlik te verduidelik in sy boek On Guard. Ek stem saam met die Duitse filosoof Immanuel Kant, dat die verloop van natuurlike verskynsels bepaal kan word deur gebruikmaking van deterministiese Natuurwette, terwyl daardie Natuurwette nié van toepassing is op transendente werklikhede soos o.a. mense se vrye wil en die onsterflike siel, nie.

      • Dankie vir jou antwoord, Jaco! Ek het dit al op NHN gesê dat dit nie God se hand is wat elke natuurverskynsel teweegbring nie, maar God het vir elke stukkie materie ‘n natuurwet vasgelê, en van daaraf opereer elke stukkie materie outonoom maar binne die grense van die wet wat vir hom vasgestel is.

        Ek dink dit is in werklikheid presies wat jy sê met: Ek stem saam met die Duitse filosoof Immanuel Kant, dat die verloop van natuurlike verskynsels bepaal kan word deur gebruikmaking van deterministiese Natuurwette, terwyl daardie Natuurwette nié van toepassing is op transendente werklikhede soos o.a. mense se vrye wil en die onsterflike siel, nie.

        As ek jou woorde reg verstaan, wat ek meen ek doen, stem ek 100% daarmee saam.

Lewer kommentaar op Chris Steenkamp Kanselleer antwoord