Moontlike plaasvervangers vir godsdiens – die gelykheidsdogma en Transhumanisme

evolution-2

Heelwat mense ontken die werklikheid van beide ʼn Goddelike/God én die moontlikheid van bewuste voortbestaan ná die afsterwe van die fisiese liggaam. Hulle fokus dus hoofsaaklik op ánder maniere om sin te verskaf aan hulle en hul vriende en naasbestaandes se aardse lewens, “hier-en-nou”. Baie van hulle het sekere vooropgestelde idees aangaande die wetenskap en die politiek. Terwyl sommige van hulle beweer dat oorgeërfde gene ʼn wesenlike bydrae kan lewer tot mense se karaktereienskappe, intelligensie, kreatiwiteit en selfs hul lewensgeluk, beklemtoon andere die belangrikheid van uiterlike omstandighede soos o.a. opvoeding en kulturele waardes.

 

Daar word dikwels verwys na die “gelykheid” van alle mense en dat almal na bewering “gelyk gebore” is. Selde word daar verduidelik wat presiese hiermee bedoel word. Is alle mense gelyk wat hul intelligensievermoëns betref, het almal dieselfde aangebore potensiaal om dieselfde dinge in die lewe te kan bereik, of is alle mense eintlik van nature ewe “goed”? Daar word ook dikwels verwys na die belangrikheid van goeie onderwysstandaarde as voorvereiste vir ekonomiese groei en vir die verbetering van die meeste gemeenskapslede se lewenskwaliteit. Die ontkenning van die moontlikheid dat sekere oorgeërfde gene karaktereienskappe en selfs lewensgeluk wesenlik kan beïnvloed, lei dikwels tot die oorbeklemtoning van die belangrikheid van mense se uiterlike lewensomstandighede. Dit lei tot ʼn spesifieke weergawe van die gelykheidsdogma waarvolgens alle mense “gelyk gebore” is in dié opsig dat hulle oor dieselfde potensiaal beskik om sekere intelligensie-, skeppingsvermoëns en karaktereienskappe te kan ontwikkel – afhangende van hul uiterlike omstandighede. Hierdie dogma se oënskynlike mensliewende en humanitêre aard het al heelwat aktiviste aangemoedig om hulself te beywer vir die daarstel van gelyke regte en geleenthede vir alle mense, ongeag hul ras, geslag, kleur of seksuele oriëntasie.

 

Marxiste het veral gedurende die 19de eeu beweer dat die meeste ongeregtighede, lyding en armoede, die gevolge is van hoofsaaklik ʼn ekonomiese klassestryd tussen ryk kapitaliste en arm werkers (die proletariaat) wat gedurig deur hulle misbruik en uitgebuit word. Marxistiese intellektuele wat lede was van die sogenaamde Frankfurt Skool, het egter besef dat ʼn oordrewe fokus op ekonomiese faktore, ʼn oorvereenvoudiging is van die ware oorsake van maatskaplike ongelykhede. Hulle het vervolgens aangetoon dat daar sekere kulturele faktore is wat gebaseer is op tradisionele norme en waardes, wat óók moontlik aanleiding kan gee tot onderdrukking en diskriminasie. Kulturele sowel as “nie-kulturele” Marxiste oorbeklemtoon dus die invloed wat uiterlike omstandighede het op die verloop van die geskiedenis. Onderdrukkende Marxistiese regimes het maar alte goed besef dat dit vir hul landsburgers wat wegbeweeg het vanaf tradisionele godsdienstige en kulturele waardes, onsinnig sal wees om hul basiese behoeftes en persoonlike veiligheid te benadeel ten einde weerstand te bied teen onderdrukkende regimes. Deur hulle aandag verder af te lei vanaf moontlike Goddelik-geïnspireerde verordeninge en ander spirituele werklikhede wat vir húlle meer gesaghebbend kan wees as die owerhede se heersende materialistiese ideologie, kan landsburgers méér doeltreffend geïndoktrineer word ten einde gehoorsame, apatiese onderdane te wees van ʼn goed-geoliede staatsmasjinerie. Die ontkenning van beide die werklikheid van “buite-menslike” waardes én van die moontlike invloed wat oorerflike genetiese faktore op die ontwikkeling van verskillende kulture kan hê, lei dus meer geredelik tot die vervanging van tradisionele godsdienstige en ander unieke kulturele waardes met ʼn nuwe monokultuur en eenvormige samelewing wat hoofsaaklik ingestel is op die bevrediging van basiese materiële behoeftes.

 

Baie hedendaagse mense besef nié tot watter mate Westerse samelewings se norme en waardes alreeds beïnvloed is deur die voorgaande idees nie. Deur die toepassing van polities-korrekte wetgewing word gepoog om mense se taalgebruik en denke tot so ʼn mate te beperk dat hulle makliker die heersende ideologie sal aanvaar. Die idee dat almal “gelyk” is, dien dikwels as teoretiese regverdiging vir die inwerkingstelling van liberaal-demokratiese regeringsvorms. Terwyl Marxiste die belangrikheid van die groter gemeenskap se materiële behoeftes beklemtoon – ten koste van individuele vryhede, beklemtoon polities-liberale denkers daarenteen die belangrikheid van die individu se regte en vryhede.

 

Volgens die Wikipedia artikel, “Nature versus Nurture”, is daar alreeds heelwat wetenskaplike getuienis wat daarop dui dat oorerflike gene wél ʼn wesenlike invloed het op mense se karaktereienskappe en selfs op hul uiteindelike lewensgeluk. Indien die geldigheid hiervan eendag onteenseglik bewys sou word, sal dit beteken dat die oorbeklemtoning van die invloed wat uiterlike omstandighede het, gebaseer is op ʼn onwetenskaplike aanname. Sommige ateïste wat gereeld die belangrikheid van objektiewe wetenskaplike getuienis benadruk en wat selfs gekskeer met onwetenskaplike gedeeltes in die Bybel, maak self óók dikwels onwetenskaplike aannames – soortgelyk aan Jong-Aarde Kreasioniste se geloof in die jong ouderdom van die aarde en hul gevolglike verwerping van die evolusieteorie!

 

Lande met Marxistiese of liberaal-demokratiese regeringsvorms, word deurgaans gekenmerk deur ʼn al groterwordende kloof tussen ʼn super-ryk elite en die res van die mindergegoede bevolking. Hierdie elite besef dat sekere lewenswaardes ʼn bedreiging kan inhou vir hul eie belange. Sekere godsdienstige waardes en ideale soos bv. die strewe na die verbetering van die meeste mense se welsyn, is dikwels onversoenbaar met magsugtige belangegroepe se parasitiese en hebsugtige lewenswyses. Suid-Afrikaanse regeringsleiers besef byvoorbeeld dat die meerderheid Afrikaners versuim het om doeltreffend weerstand te bied teen ʼn onderdrukkende regime ten einde hul gemeenskaplike kulturele waardes te beskerm, juis omdat baie van hulle die afgelope twee dekades toenemend wegbeweeg het vanaf daardie waardes. Heelwat Afrikaners het derhalwe besef dat dit vir hulle finansieel méér voordelig sal wees om met die regering saam te werk, in plaas daarvan om té opstandig te wees oor geweldsmisdade of oor die diskriminering teen Afrikaans in veral skole en tersiêre onderwysinstellings. In Europa het die wegbeweeg vanaf gemeenskaplike tradisionele waardes gepaardgegaan met die toename in veral derdewêreldse immigrante en die versuim van inheemse Europeërs om doeltreffend hierteen weerstand te bied.

 

Met verloop van tyd sal genetiese ingenieurswese toegepas kan word om oorgeërfde siektes te verhoed en om selfs mense se lewensjare te verleng. Tegnologiese ontwikkeling sal selfs die moontlike integrering tussen mense se breine en rekenaars kan vergemaklik. Opportunistiese politici sal die vooruitgang in genetiese wetenskappe kan benut ten einde sekere sinistere doelwitte te bereik. Groter druk sal op bevolkings toegepas word om  hul tradisionele norme en waardes te verag en dit te vervang met meer sekulêre lewensbeskouings. Polities-korrekte wetgewing beperk alreeds in toenemende mate onafhanklike optredes en denke wat buite die raamwerk is van die elite se aanvaarde ideologieë. Hierdie wetgewing en eensydige nuusberigte van ʼn beheerde media wat gereeld fokus op die nuutste sportgebeure, oppervlakkige vermaak en seks, kan die moontlikheid van doeltreffende weerstand, selfs nog verder verminder. Die verandering van oorerflike gene in laboratoriums en die vervanging van biologiese- deur kunsmatige ledemate, kan lateraan selfs lei tot die ontstaan van ʼn nuwe Transhumanistiese, nie-menslike spesie wat die mensdom sal vervang. ʼn Land waarbinne hierdie spesie dalk vir die eerste keer sal verskyn, juis omdat politiese-korrektheid en ʼn sekulêre vorm van die gelykheidsdogma alreeds ʼn oorweldigende invloed het op die samelewing se norme en waardes, is Swede.

 

Heersende ideologieë wat gebaseer is op filosofiese materialisme, kan die einde beteken van alle vrye denke en filosofiese bespiegelings aangaande lewensverrykende onderwerpe soos o.a. die vraag na die sin van die lewe, die moontlike werklikheid van die Goddelike/God en van lewe ná die dood. Hierdie onderwerpe was nog altyd onafskeidbaar deel van menswees en het selfbewuste, denkende mense wesenlik onderskei van nie-menslike diere. Uiteindelik kan onderdrukkende, kollektivistiese samelewings – as laaste fase van ʼn onnadenkende mensdom, die moontlike ontstaan van ʼn nuwe robotagtige spesie, voorafgaan.

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

10 Responses to Moontlike plaasvervangers vir godsdiens – die gelykheidsdogma en Transhumanisme

  1. Barend van der Merwe sê:

    Nee goeiste Jaco . . . Jy dink te diep is my mening. Ek kan nie sien hoe godsdiens van die toneel af gaan verdwyn nie . . .

    Maar soos altyd het jy weer ‘n interessante stuk geskryf!

    • Baie dankie vir jou kommentaar, Barend!

      Ek dink daar is ʼn goeie kans dat tradisionele godsdienstige (en ander spirituele) idees van die aardbol af sal verdwyn indien mense sou aanhou versuim om doeltreffende weerstand te bied teen sekere belangegroepe se planne om ʼn eenwêreldorde te implementeer…

  2. Beste Jaco Steyn,

    Dit lyk vir my asof jy ‘n vrugbare besoek aan Damaskus afgelê het en dat ‘n verwysing na Handelinge 9:18 hier “op sy plek” is – weliswaar in omgekeerde sin, maar by gebreke aan ‘n gemeenskaplike stam/volksgodsdiens sou jy natuurlik nie die vaagste benul gehad het waarna ek nou verwys nie, maar jy wéét … en dit is van belang terwyl jy óú nuwe grense ál duideliker, helderder en effektiewer aftas en verken.

    (Skaapwandelaars laat hulle wol oor die oë trek;-)

    Die lewe is óf werd om voor te sterf
    óf dis nie die moeite werd nie

    • Baie dankie vir jou opbouende kommentaar, Petrus!

      Dit is werklikwaar ʼn goeie vraag wat nou eintlik die moeite werd is om voor te lewe (en voor te sterf!) indien mens géén godsdienstige of spirituele geloofstandpunte het wat jou kortsigtige materiële belange transendeer nie. Baie mense wat hoegenaamd géén sinvolle “buite-persoonlike” ideaal het wat hul sou aanmoedig om die wêreld ʼn beter plek te maak nie, sal van staanspoor af hoofsaaklik fokus op “geld, mag en seks” – m.a.w. die bevordering van hul eie en hul vriende en familie se belange, ten koste van ander mense. Dit is juis hierdie laasgenoemde lewensfilosofie wat magsugtige belangegroepe gemotiveer het om die massas te flous met onwetenskaplike en nadelige ideologieë (onsin) soos Marxisme-Leninisme en “een-mens-een-stem” demokrasie, ten einde hulself nog verder te bemagtig en te verryk te midde van die meeste ander mense se toenemende verarming en onderdrukking.

  3. Hennie Strydom sê:

    Georganiseerde geloof se wortels kan teruggaan tot by die Neolitiese revolusie wat 11,000 jaar gelede in die Midde-Ooste begin het, maar kon onafhanklik op verskeie plekke om die wêreld voorgekom het. Die uitvinding van landbou het die gemeenskappe van ʼn jagter-versamelaar leefstyl na ʼn gevestigde leefstyl verander. Die gevolge van die Neolitiese revolusie sluit ʼn bevolkingsontploffing en ʼn versnelling in die pas van tegnologiese ontwikkeling in. Ook byvoorbeeld, het dit die oorgang van kossoek-groepe na stadstate en koninkryke verhaas, en het meer gespesialiseerde en ontwikkelde geloofvorme wat die nuwe sosiale en politieke omgewing reflekteer, ontwikkel. Terwyl groepe en klein stamme geloof in die bonatuurlike besit het, het hierdie gelowe nie gedien om ʼn sentrale gesag en die oordrag van rykdom te regverdig nie, of om vrede tussen onverwante individue te bewaar nie. Georganiseerde gelowe ontstaan klaarblyklik as ʼn hulpmiddel om sosiale en ekonomiese stabiliteit te waarborg deur die gebruik van die volgende metodes:
    • Regverdiging van die sentrale gesag, wat op sy beurt die mag bekom om belastings te hef in ruil vir die verskaffing van sosiale- en veiligheidsdienste.
    • Groepe en stamme het hoogswaarskynlik uit ʼn klein aantal verwante individue bestaan. Stadstate en nasies is egter saamgestel uit duisende onverwante individue. Jared Diamond beweer dat georganiseerde geloof gedien het om ʼn band tussen onverwante individue, wat andersins meer geneig was tot vyandigheid, te smee. Hy beweer dat die hoofoorsaak van dood in jagter-versamelaar gemeenskappe, moord was.
    • Gelowe wat wentel om moraliserende gode het die opkoms van groot, koöperatiewe groepe van onverwante individue vergemaklik.
    Die stadstate gebore uit die Neolitiese revolusie, soos dié van Ou Egipte en Mesopotamië, was teokraties, waar hoofde, konings en keisers die dubbele rol van politieke sowel as geestelike leier, vertolk het. Antropoloë het bevind dat byna alle en hoofman- en staatsgemeenskappe op aarde, tot stand gekom het deur ʼn goddelike heerskappy om politieke mag te regverdig.

  4. alleman sê:

    Jy sê tereg “Selde word daar verduidelik wat presiese hiermee (met gelykheid) bedoel word.”
    Die rede daarvoor is dat niemand sou kon voorsien dat iemand so ‘n eenvoudige begrip soos gelykheid so sou kon kompliseer soos wat jy hier doen nie.

    Die werklikheid is dat gelykheid bloot ‘n ideaal is, wat, wanneer dit eerlik nagestreef word, baie voordele vir almal, ryk en arm inhou. Wanneer gelykheid nie nagestreef word nie, vermeerder ongelykheid en onreg.
    Diegene wat probeer dat die samelewing hierdie ideaal nastreef, doen dit omdat dit beter is vir almal.

    Die ideaal van gelykheid is beslis nie ‘n dogma nie. Dis nie ‘n soort spiritualiteit nie (wat spiritualiteit ook al is). Dis nie ‘n manier om sin te gee aan die lewens van daardie mense wat dink gelykheid is belangrik nie.

    Die ideaal van gelykheid gee nie voor dat almal intelligensievermoëns dieselfde is, of dat almal presies dieselfde is of moet lewe nie.

    ‘n Mens sou nie kon dink dat iemand met al sulke vreemde idees vorendag oor gelykheid kan kom soos wat jy hier doen nie. Ek dink die probleem is dat jy uit die staanspoor so vyandig teenoor die idee is, dat jy dit ‘n “dogma” noem. Dis nie ‘n dogma nie. Dit word wereldwyd nagestreef deur mense en regerings wat wyd uiteenlopend is, en uit ‘n groot verskeidenheid tradisies kom.

    Die beste manier om die ideaal se attraksie te verstaan, is om na ‘n land te gaan wat baie gelyk is, te sien wat aangaan, en dan terug te keer na SA met sy mespuntheinings, kwaai honde wat aanmekaar blaf, en die vernederende armoede en ellende in die towships nie baie kilometers daarvandaan.

    • Die begrip “gelykheid” is eintlik nié so eenvoudig nie en het al heelwat verwarring veroorsaak. Lees gerus in verband hiermee die Wikipedia-artikel “Egalitarianism”, waarin daar na verskeie weergawes van die gelykheidsdogma (die Afrikaanse woord vir die Engelse “egalitarianism”) verwys word. Nadat ek vanoggend jou mooiklinkende en emosiebelaaide kommentaar gelees het, het ek amper oorweeg om in trane uit te bars of ten minste my kop in skaamte te laat sak, maar toe onthou ek dat ek nou die dag prof. Sampie Terreblanche se nuwe boek, “Verdeelde land”, in Exclusive Books raakgeloop het. Hier is ʼn kort beskrywing van sy boek op die “kalahari.com” webblad: “In hierdie boek kyk Sampie Terreblanche na die historiese oorsake van die ongelykheid – en waarom dit sedert die ANC se bewindsoorname vererger het. Terreblanche is uitgesproke oor die groot rolspelers wat die land se ekonomie vir hul eie gewin manipuleer ten koste van armes: Amerikaanse en Britse multinasionale maatskappye, die Suid-Afrikaanse mineraleenergiekompleks en plaaslike politici. Hy voorspel dat in die volgende 20 jaar die rykes nog ryker en die armes net nog armer gaan word – wat niks goeds vir Suid-Afrika se toekoms voorspel nie. ‘n Belangrike waarskuwing en wekroep.” Ek het onlangs ʼn artikel (https://jacosteynblog.wordpress.com/2014/05/18/die-aanslag-op-mense-se-verbeeldings) geskryf, juis oor hierdie onderwerp.

      Die spesifieke weergawe van “gelykheid” waarvan jy ʼn ondersteuner is, waarvolgens almal sover moontlik “gelyk behoort te wees” wat betref hul geleenthede en finansiële status, is veral die afgelope twintig jaar ywerig deur Suid-Afrikaanse politieke partye soos die ANC en DA gepropageer en in ons kele in afgeforseer vanaf preekstoele en TV-programme. Elke dag beleef ons egter in toenemende mate die skrikwekkende gevolge van hierdie ideologie/dogma/geloof/storie, wat hoofsaaklik ʼn handige hulpmiddel was vir sekere belangegroepe – belangegroepe wat, meer as ek en jy, bewus is van die wesenlike genetiese verskille tussen mense en die feit dat ʼn onnadenkende massa makliker gemanipuleer kan word deur ʼn korrupte regering. My hart bloei ook vir die plakkers, maar die probleem is dat die misdade wat (noodwendig) deur hulle gepleeg word, as regverdiging kan dien vir die instelling van nog méér drakoniese wetgewing, as voorbereiding vir die verwesenliking van ʼn onderdrukkende polisiestaat.

  5. Terug pieng: ‘n Paar dinge wat libertyne nie graag sal wil weet nie | alleman

  6. “This triumph of technology over the human person will not be merely technological. It will be internal as well as external, ‘spiritual’ as well as material. … Thus deprived of the desire or even the capacity to think about the true meaning of things, and unable to perceive the loss, people will not merely be susceptible to manipulation by sentimental platitudes and sophistic arguments—‘People shouldn’t be discriminated against based on who they are or who they love’—they will be eager for it. For in the brave new world, ‘true’ is just another word for ‘feasible’ and freedom is learning to love what you’ve got to do anyway.” –

    Michael Hanby, Associate Professor of Religion and Philosophy of Science at the Pontifical John Paul II Institute for Studies on Marriage and Family at the Catholic University of America in Washington DC.

    (http://thefederalist.com/2014/02/19/the-brave-new-world-of-same-sex-marriage)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s