Afrikaanse kerkleiers se versuim om hul lidmate behoorlik in te lig

Daar is heelwat faktore wat ‘n wesenlike invloed het op mense se idees aangaande godsdiens, spiritualiteit, die politiek en die wetenskap. Behalwe die moontlike invloed van mense se vrye wilsbesluite en oorgeërfde genetiese faktore, het uiterlike invloede soos groepsdruk, godsdiensleiers, politici en die hoofstroommedia, ook ‘n bepalende invloed op mense se lewensuitkyke. Baie Afrikaanssprekende mense luister na en lees gereeld die sienings van joernaliste van Afrikaanse dagblaaie, kommentators op TV en op radiostasies, predikante en prominente politici. Hul denke en dade word dus tot ‘n groot mate beïnvloed deur hierdie meningsvormers se lewensfilosofieë en ideologieë. Watter voor- en nadele het die godsdienstige en politieke idees wat veral predikante en kerkleiers vir baie jare verkondig het – of wat hulle versuim het om te verkondig, uiteindelik vir die meeste Suid-Afrikaners ingehou?

Bykans eenhonderd jaar gelede was daar kort na die Tweede Vryheidsoorlog, relatief min nie-blankes binne die gewese Boererepublieke en binne die ou Britse kolonies in Suidelike Afrika. Blankes het sedertdien toenemend gebruikgemaak van goedkoop nie-blanke arbeid. Dit was veral die landbou- en mynbedryf wat heelwat baatgevind het by die gebruikmaking van nie-blanke i.p.v. blanke arbeid. Hul hebsugtige najaag van finansiële winste het dikwels gepaardgegaan met die betaal van so min as moontlik salarisse vir die maksimum hoeveelheid arbeid. Hierdie ekonomiese strategie het op die kort termyn heelwat ekonomiese groei en tegnologiese vooruitgang vir die land ingehou. Die gepaardgaande verryking van mynbase en sommige blanke boere, moet ook nie uit die oog verloor word nie. Op die lang termyn het hierdie ekonomiese bestel egter daartoe aanleiding gegee dat duisende nie-blankes naderhand gewoon en gewerk het binne die ou Republiek van Suid-Afrika, sonder dat hulle dieselfde politieke regte as die blankes geniet het.

Terwyl Oosterse gelowe soos o.a. Hindoeïsme en Boeddhisme, hebsug en die najaag van aardse rykdomme as struikelblokke op die weg na verlossing (moksha of Nirvana) beskou, was dit nog nooit een van die hoofprioriteite van die georganiseerde Christendom om hul lidmate voldoende hierteen te waarsku nie. Dit is welbekend dat die Rooms-Katolieke Kerk ontsaglike rykdomme (bloedgeld) deur die jare versamel het, waarvan honderde massiewe katedrale, genoegsame getuienis is. Baie Calviniste was ywerige ondersteuners van die najaag van wins. Heelwat predikante van die ou Afrikaanse driesuster kerke het verplig gevoel om hul lidmate te waarsku teen sg. sondes van die vlees – “sondes” wat meer van toepassing was op seksualiteit as op winsbejag en die gepaardgaande misbruik van ander mense se goedkoop arbeid! Ongelukkig het hulle versuim om hul lidmate attent te maak op die toekomstige gevare wat die bogenoemde ekonomiese stelsel uiteindelik vir hul nageslag sou inhou.

Die meeste Afrikaanse kerkleiers het meer as 20 jaar gelede, nog boonop versuim om aan hul kerklidmate te verduidelik in watter opsigte die beleid van Apartheid en die toepassing daarvan, immoreel was. Hulle het nié die onderdrukking van een bevolkingsgroep deur ‘n ander, pertinent veroordeel nie. Die verskil tussen Klein Apartheid en Groot Apartheid is nooit voldoende aan kerklidmate verduidelik nie. Klein Apartheid was die gevolg daarvan dat miljoene swart arbeiders teenwoordig was binne “blank-beheerde” Suid-Afrika, sonder dat hulle dieselfde publieke geriewe as blankes kon gebruik en sonder dat hulle dieselfde politieke regte as blankes geniet het. Groot Apartheid is die volledige geografiese skeiding tussen bevolkingsgroepe, waarvolgens elke bevolkingsgroep in hul eie volkstaat woon en werk, met ‘n regering bestaande uit slegs lede van hul eie bevolkingsgroep. In laasgenoemde geval is daar dus géén lede van ‘n ander bevolkingsgroep in ‘n volkstaat teenwoordig wat onderdruk kan word nie. Nugter alleen weet in watter opsigte Groot Apartheid “onbybels” of “onchristelik” kan wees! Sommige “polities-linksgesinde” kerkleiers en teoloë het besef dat Groot Apartheid nié teenstrydig is met enige van die drie ekumeniese of “Drie Formuliere van Eenheid” geloofsbelydenisse van die driesuster kerke nie. Daarom is besluit om ‘n bykomende geloofsbelydenis, nl. die Belydenis van Belhar, op te stel. Die Belydenis van Belhar het veral betrekking op die verhoudings tussen bevolkingsgroepe en daarom verpolitiseer dit op ‘n manier die “evangeliese boodskap” van Protestantisme. Hedendaagse pogings om hierdie belydenis meer aanvaarbaar te maak binne die tradisioneel “blanke” NG Kerk, kan heel waarskynlik lei tot ‘n verdere uittog en vervreemding van baie blanke lidmate.

Vir etlike jare het baie blankes hulself as verhewe bo en “slimmer” as nie-blankes beskou. Hulle het beweer dat nie-blankes nog nie “gereed” was vir blankes se demokratiese politieke stelsel nie en was bevrees dat die verskaffing van gelyke regte aan nie-blankes, tot die ondergang van hul “blanke” beskawing sou lei. Baie blankes het gerieflikheidshalwe verkies om vir eers van ‘n moontlike toekomstige dilemma te vergeet en om nog voortdurend nie-blanke arbeid op hul plase, in myne en in hul huise te gebruik. In plaas daarvan dat blankes onbepaald voortgegaan het met die onderdrukking van die meerderheid nie-blankes of om swartmense aan te moedig om na hul eie onafhanklike tuislande te gaan, het hierdie situasie die uiteindelike ANC bewindsoorname in 1994 voorafgegaan. 

Hoe is dit moontlik dat ‘n boek, die Bybel, wat na bewering deur die Alwyse Skepper van die Heelal aan mense geopenbaar is; asook Geloofsbelydenisse, predikante en pastore, nié aan Afrikaanse Christene duidelike riglyne kon verskaf in verband met die korrekte optrede teenoor mense van ander bevolkingsgroepe nie? Indien heelwat Afrikaanse kerkleiers egter meer as 60 jaar gelede hul lidmate gewaarsku het teen die moontlike toekomstige probleme wat die gebruikmaking van goedkoop nie-blanke arbeid vir hulle inhou, sou ons nié vandag die probleem gehad het van ‘n minderheid blankes wat onderdruk word deur ‘n swart meerderheidsregering nie. Die versuim van kerkleiers om hul lidmate behoorlik hieroor in te lig, het dus indirek gelei tot die geleidelike verdwyning van Afrikaners se eiesoortige lewenswyse, waardes, taal en kultuur.

Multinasionale maatskappye het veral die afgelope dekades toenemend belanggestel in Afrika en het al heelwat gebaat by die verkryging van Afrika se minerale rykdomme. Die Oppenheimer-familie het jare gelede die meer “liberale” partye soos o.a. die ou PFP/DP, ondersteun in hul strewe na die inwerkingstelling van “een-mens-een-stem” in Suid-Afrika. Ek het as kind dikwels gewonder waarom baie super ryk mense gestrewe het na ‘n situasie waarbinne hul eie geld en eiendomme moontlik gekonfiskeer kon word deur ‘n toekomstige sosialistiese “swart” regering. Óf hulle was “dom”, óf werklikwaar bekommerd oor die welstand van die meeste swartmense, óf hulle het in ‘n toekomstige swart meerderheidsregering, nuwe besigheidsmoontlikhede gesien waardeur hulle hulself nog verder kon verryk. Ek sien alreeds in my geestesoog hoe die skatryk Harry Oppenheimer gedurende die ou Suid-Afrika in trane uitbars terwyl hy verby ‘n swart township in sy spogmotor ry en die ellende daar waarneem!

Sekere prominente besighede geniet deesdae belangrike voordele in ‘n land wat deur ‘n hoofsaaklik “swart” regering regeer word – voordele wat hulle nié kon geniet onder byvoorbeeld die bewind van die “halsstarrige” dr. Verwoerd nie. Vervolgens is die minerale rykdomme van Suid-Afrika meer geredelik bekom deur internasionale mynmaatskappye soos o.a. Anglo American en De Beers, met die gepaardgaande suurwaterprobleme wat as gevolg daarvan ontstaan het. Hierdie maatskappye maak ook nog steeds gebruik van goedkoop swart arbeid – arbeid wat indirek aanleiding gee tot die verdere toename in swart bevolkingsgetalle. Grondonteiening is ook ‘n belangrike deel van die groter strategie van sekere geldbelange. Hulle is deeglik bewus daarvan dat heelwat van die nuwe “opkomende” swart boere nié in staat is om die plase suksesvol te bedryf nie. Nadat die plase dan uiteindelik in krotbuurtes verval, kan die plase goedkoop deur geldmagnate opgekoop word.

Internasionale geldbelange leen geweldige hoeveelhede geld aan Afrika-lande om dan kwansuis die Afrikane te help om hul lande “op te bou”. Konsessies word dan deur korrupte Afrika-regerings in ruil daarvoor, aan daardie belange toegestaan. As gevolg van nepotisme, korrupsie en die wanaanwending van die geld, word Afrika-regeringsamptenare dikwels “nie-amptelike” marionette van daardie geldbelange. Daarna volg die verdere verryking van die korrupte swart elite, die verarming van die meeste ander swartmense en natuurlik die toename in winste van multinasionale maatskappye.

Korrupte ANC regeringsleiers het die afgelope 20 jaar hulself verryk ten koste van die welstand van die meeste inwoners van hierdie land. Prof. Sampie Terreblanche adresseer meer breedvoerig in sy boek, “Verdeelde land”, die samewerking tussen die ANC regering en internasionale geldbelange; asook toenemende gapings tussen die super ryk elite en die armste Suid-Afrikaners. Hy voorspel dat die gapings die volgende 20 jaar gaan eskaleer! Ongelukkig is dit so dat in die meeste Afrikalande, óú korrupte regerings gereeld deur nuwe korrupte regerings vervang word. Politici wat nuut op die toneel verskyn, gee dikwels voor dat húlle, anders as die huidige regering, werklikwaar bekommerd is oor die welsyn van behoeftiges. Nadat hulle die bewind oorgeneem het, vergroot die gapings tussen die super ryk elite en die armste mense. Julius Malema se eie rykdomme aan die een kant en sy mooiklinkende besware teen ryk witmense aan die ander kant, is ‘n goeie voorbeeld hiervan.

In plaas daarvan dat kerklidmate ingelig word oor die wandade van internasionale geldmagnate en maniere waarop hulle met korrupte ANC regeringsamptenare saamwerk, luister hulle na ‘n alewige gesanik oor die gevare en “sondes” van pornografie, homoseksuele dade en ongetroude paartjies wat saamwoon. Sodoende funksioneer kerke as weerligafleiers deurdat hulle hul lidmate se aandag fokus op minder belangrike “probleme”. Dit is welbekend dat die Afrikaner Broederbond (AB) in die verlede ‘n groot invloed gehad het op die besluite van beide die ou Nasionale Party regering én van die sinodes van die Afrikaanse driesuster kerke. Terwyl die AB in die vroeë dekades van die vorige eeu gestig is met die hoofdoel om die belange van die Afrikanervolk en die Christendom te bevorder, het dit gaandeweg ontaard in ‘n organisasie waarvan baie lede mekaar bevoordeel het ten koste van hul mede-Afrikaners. Dit was vir baie van hulle finansieel méér winsgewend om met sekere magtige geldbelange saam te werk, in plaas daarvan om op beginselbasis teen hierdie belange weerstand te bied.

Sommige Suid-Afrikaanse predikante, pastore en kerkleiers, poog om hul volgelinge gerus te stel met die storie waarvolgens God méér magtig is as beide die ANC regering én die toenemende probleme in die land en dat hulle op Hom moet vertrou om uiteindelik die grootste probleme op te los. Hierdie valse hoop weerhou baie Christene daarvan om die realiteite van die land behoorlik te begryp en gevolglik hulle en hulle naasbestaandes se lewens beter te beplan. Deur aan die een kant gelowiges gerus te stel deur hulle aan hul verbeelde God se genade te herinner, en aan die ander kant hul aandag te fokus op die bogenoemde “sondes”, word hulle ontmoedig om die ware oorsake van hul probleme voldoende te begryp en op te los. As gevolg van jarelange misleiding deur veral baie predikante, joernaliste, politici en akademici, is die meerderheid Afrikaanssprekende mense deesdae onbewus van die gevare van magtige, multinasionale geldbelange en van moreel-aanvaarbare, behoorlike optredes teenoor mense wat aan ander bevolkingsgroepe behoort. Hulle sal heel waarskynlik in die toekoms in toenemende mate wegbeweeg vanaf hul tradisionele Calvinistiese waardes – namate die kerke irrelevant word en verpolitiseer as gevolg van die aanvaarding van o.a. die Belydenis van Belhar. Sodoende sal baie van hulle uiteindelik óf emigreer, óf in Suid-Afrika aanbly en wegbeweeg vanaf hul tradisies en kultuur om voortaan te fokus op oorlewing en die verkryging van aardse rykdomme binne ‘n “Azanië” wat elke dag toenemend “afrikaniseer”.

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , . Bookmark the permalink.

15 Responses to Afrikaanse kerkleiers se versuim om hul lidmate behoorlik in te lig

  1. perdebytjie sê:

    Baie Afrikaners verkies dit om nie te dink vir hulself nie.Ons is jarelank so geindoktrineer en voorgeskryf wat om te doen en dink,dat dit seker nog lank gaan neem om die ideologiese en godsdienstige brille af te haal.Baie goeie insiggewende stuk!

  2. At Fourie sê:

    Goeie artikel. Miskien te lank. Mense wil net nie meer lang artikels lees nie.
    Wat jy egter aanroer Jaco, is baie waar. Dit neem eers iets traumaties voor mense tot stilstand geruk word, om dan eers te besef..maar ek was oor baie jare mislei, juis deur die persone waarvoor jy respek gehad het. Die kerk,per se, sal nooit,ooit hierdie insigte van jou openlik erken of verkondig nie. Dit is mense soos ons, “Vrydenkers”
    wat sal moet aanhou om die publiek voor te lig.

    • Johan sê:

      OK AT IS SEKER MAKLIK OM ONS SELF TE VESKOON DAT ONS MISLEI WAS, MAAR MOENIE UIT DIE OOG VERLOOR DAT 80 PERSENT VAN DIE MENSDOM IS TE LUI OM VIR HOMSELF TE DINK BAIE MAKLIKER EN GERIEFLIKER AS DAAR MAAR IEMAND ANDERS IS WAT DIE DINKWERK KAN DOEN.DAAROM RESPEKTEER EK JOU EN ANDER WAT VIR HULSELF KAN DINK EN DIE PRAATWERK DOEN.

    • Dankie vir jou positiewe kommentaar, At! Ek het in my artikel gepoog om die verband tussen groot geldmagnate se invloed aan die een kant, en kerkleiers en predikante se invloed aan die ander kant, aan mense te verduidelik. Ongelukkig is dit so dat die oorgrote meerderheid doodeenvoudig sal weier om 10 minute van hul tyd af te staan om my artikel te lees.

      Ek het sonder sukses versoek dat my artikel op die webruimte van Maroela Media (http://maroelamedia.co.za) geplaas word. Ek het dit ook gisteroggend geadverteer op die Facebook groep “Predikante Kollegas”, wat bestaan uit 408 lede, maar het sedertdien nog geen kommentaar daar ontvang nie…

  3. Toortsie sê:

    Ek kry die indruk dat die landbou en mynbase in hierdie stuk gekritiseer word omdat hulle van nie-blanke arbeid gebruik gemaak het.
    As kind het ek geen nie-blankes in winkels en ander plekke gesien nie. Dit lyk my daar het hulle glad nie werk gekry nie. Iewers moes hulle werk! Genadiglik was daar wel vir hulle plek in die myne en op die plase.

    • Ek wens die ou lewe was so eenvoudig dat die gevolge van alle oënskynlike goeie dade, in alle opsigte altyd voordelig was. Om jammer te wees vir plakkers en om hulle daardeur indirek aan te moedig om onwettig sekere gebiede (soos bv. in die ooste van Pretoria) te bewoon, kan die misdaadvlakke laat toeneem en eiendomspryse nadelig beïnvloed. Uiteindelik moet ons tog erken dat daar ʼn duidelike verband is tussen die jarelange werkverskaffing aan Suid-Afrikaanse nie-blankes, Westerse landbou- en mediese tegnologieë en die toename in hul bevolkingsgetalle.

      Toe ek nog klein was het my ouers dikwels verwys na, “van lekker lag kom lekker huil”!

  4. Frank Wright het hierdie insiggewende kommentaar gelewer op my artikel: “Met jou weldeurdagte en insiggewende artikel stem ek grootliks saam, maar ek voel ook hartseer. Met die verdwyning van tradisionele Christelike waardes en die verbrokkeling van die (hoofsaaklik) Afrikaners se geloof in God en die aanhang van hierdie Christelike waardes, soos deur die kerke verkondig en aangemoedig, is die jeug van Suid-Afrika tans toenemend uitgelewer aan ‘n morele bankrotskap in die post-apartheid kulturele en politieke opset in Suid-Afrika. Dit bekommer my dat die jeug geen morele model of raamwerk meer het nie. Nêrens kan die jeug meer ‘n anker vind om ‘n rangorde van waardes te bou nie. Die gebreke van die Afrikaanse kerke in die apartheidsjare ten spyt, het hulle darem in bogenoemde verband ‘n baie belangrike bydrae gelewer. Indien ons ‘n weg sou vind om weer ‘n morele raamwerk vir die jeug (wit en swart) van Suid-Afrika te kry, sou baie ander probleme dalk verminder.”

  5. Die mensdom hou van mag en geld. Dit is waaroor die mens se godsdiens en politiek gaan. Die wit Afrikaner en hul (kerk)leiers is geen uitsondering nie.

    Jaco, hoop jy dat die kerk(e) se aanvaarding van Belhar, die wit Afrikaner na Groot Apartheid sal laat kyk, om so weer ‘n toekoms vir die wit Afrikaner te skep?

    • Dankie vir jou kommentaar, Marieta!

      In my jonger dae het ek nog gehoop dat die Witmense “eendag sal saamstaan” ten einde ʼn beter toekoms vir die mense van Suider-Afrika te verseker, maar deesdae besef ek dat daar géén kans is dat ʼn redelike aantal Witmense bereid sal wees om alternatiewe bronne te raadpleeg om te probeer vasstel wat nou eintlik die ware oorsake van die land se probleme is nie. Die hoofstroommedia se invloed op hul denke, is doodeenvoudig té oorweldigend. Ek het ook onlangs besef dat dit bykans onmoontlik is om my eie skrywes beskikbaar te stel aan die breë publiek en om dit gepubliseer te kry op bekende Afrikaanse webblaaie soos bv. Maroela Media, wat my versoek vir plasing net eenvoudig geïgnoreer het. Indien die NG Kerk wel die berugte belydenis sou aanvaar, sal die “powers that be” weer aan iets soortgelyks aan die Oscar Pistorius-sage dink om die onnadenkende massas se aandag daarvan af te lei.

      • Johan sê:

        Kan iemand my dalk reg help indien ek vekeerd is,DIE Afrikaner as n nasie het op tot vandag nog net gepoog om sy mede Afrikaner te ondermyn. kyk net na die vryheids oorlog van 1900 hoeveel Afrikaners het teen hul mede Afrikaners gerebeleer om hul eie beswil.Na Apartheid kon Afrikaners nie gou genoeg hul mede Afrikaners se verkeerde optredes aan die wereld verkondig nie. Tot dus ver het ek nog nie veel swartes gesien wat teen hul mede swartes getuig het van wreedhede wat hulle gepleeg het nie.n goeie voorbeeld huidiglik is dat hulle liewer vir Zuma beskerm al pleeg hy hoeveel wan dade,Van waar hierdie gedrag van die Afrikaner, Kyk net hoe word Steve Hofmeir nou gekruisig, Eintlik is ons nou te lafhartig om standpunt in te neem want ons moet nasie bou al is die nasie wat ons nou probeer bou so korup is dat daar geen toekoms voor is nie,

  6. Johan,

    Dit wil voorkom asof die onenigheid en verdeeldheid tussen Afrikaners, die afgelope dekades toegeneem het. Namate hulle finansiële probleme toeneem, misbruik hulle hul mede-Afrikaners in toenemende mate, in plaas daarvan dat hulle saamwerk ten einde die welsyn van die meeste Suid-Afrikaners te bevorder. Hierdie situasie pas die Groot Geldbelange en korrupte regeringsleiers soos ʼn handskoen en daarom moedig hulle hierdie verdeeldheid en oningeligte status nog meer aan d.m.v. die massamedia.

  7. Beste Jaco

    Ek en my gesin was vir die eerste keer in die Ierse Republiek toe dit die hardste as “Celtic Tiger” gegrom het en ek was so ‘n tien jaar later weer daar nadat hulle deur die internasionale troika hokgeslaan is.

    Met ons eerste besoek is ons getref deur die glinster & glans van die nuut-verworwe rykdom van die land en sy mense, maar toe ons met ons terugkoms in België van die lughawe af huis toe ry, kon ons nie anders nie as om teenoor mekaar op te merk dat ‘n groot verskil tussen Ierland en België is die feit dat jy in België te doene het met “Ou Geld”.
    Toe ek later weer in Ierland was, het hele nuwe woongebiede leeggestaan, die keltiese tier het in ‘n straatkat verander terwyl België nog steeds na die ou geld gestink het.

    As daar één kenmerk aan die Afrikaner is wat my opval wanneer ek hom met ander volkere vergelyk, dan is dit hoe PRAKTIES ons is – dis waarskynlik só omdat die oorgrote meerderheid van ons van boere/Boere afstam en as daar nou ‘n uitdrukking is wat wáár is, dan is dit dié een:
    ‘N BOER MAAK ‘N PLAN!

    (Amptelike) Apartheid was ons plan om die natuurlike rassevraagstuk in ons land op te los – ‘n probleem wat destyds nie in baie ander lande bestáán het nie, maar wat intussen ‘n (kunsmatige) wêreldwye verskynsel geword het.
    Apartheid het op twee bene gestaan: sogenaamde groot apartheid – wat nogal vir baie mense aanvaarbaar was – en sogenaamde klein apartheid wat onaanvaarbaar was omdat dit kwetsend sou wees.
    Die probleem was egter dat ‘n mens nooit by volwaardige groot apartheid sou uitkom sonder die toepassing van klein apartheid nie – in ieder geval sonder dat dit op die wetboek is nie – soos wat ons trouens tot ons ontnugtering ervaar het.

    In iedere hedendaagse “multikulturele” samelewing waar ek kom, is dit presies wat ek ervaar: ‘n veelheid van gemeenskappe wat op ‘n natuurlike wyse APART van mekaar lewe en APART van mekaar WIL lewe.

    Ten spyte van al die gebrokehartjie Amerikaners met hulle mislukte baster, heers daar nog altyd baie meer ongelykheid en rassisme in die Amerikaanse samelewing as wat daar in “aparthate” Suid-Afrika was, omdat dit by ons ‘n oplossing vir ‘n praktiese probleem was en nié ‘n dogmatiese beginsel nie – in die ander lande word die multikulturele dogma op die wetboek geplaas, terwyl die verskillende gemeenskappe in die praktyk apart bestaan – ja, ook in stinkend ryk België…

    Groete

    Petrus Potgieter

    • Dankie vir jou kommentaar, Petrus!

      Ek stem heelhartig saam met jou stelling dat “mens nooit by volwaardige groot apartheid sou uitkom sonder die toepassing van [kwetsende] klein apartheid nie”. Die meeste blanke kiesers en die Nasionale Party het egter die pad byster geraak ná die moord op dr. Verwoerd. In plaas daarvan om in die rigting van die toepassing van volledige geografiese skeiding/Groot Apartheid te beweeg, het hulle met die afskaffing van instromingsbeheer en wegbeweeg vanaf diskriminasie, onafwendbaar afgestuur op die uiteindelike ANC bewindsoorname.

  8. Terug pieng: Die Bybel: ʼn motivering vir rassisme en Apartheid? – AntWoord

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s