Die wêreld van idees

Ideas

Idees is onlosmaaklik deel van menswees. Sekere idees word as waar of geldig beskou indien dit ooreenstem met die aard van dinge wat deur mense waargeneem word. Sodoende kan byvoorbeeld twee of meer persone met mekaar saamstem wanneer hulle na ʼn tafel of stoel kyk en dit onderskei van ʼn perd of ʼn hond. Indien iemand egter na ʼn stoel sou kyk en beweer dat dit eintlik ʼn tafel of hond is, het daardie persoon ʼn verkeerde idee oor die aard van dit wat hy/sy waarneem. Wetenskaplike metodes kan gebruik word om die uitkoms van eksperimente mee te voorspel. Indien iemand ʼn klip na ʼn glasvenster sou gooi, kan met redelike sekerheid vasgestel word dat die venster sal breek, natuurlik afhangende van die grootte en kwaliteit daarvan. Daar is egter ánder idees oor die aard van dinge, soos bv. idees oor die lewe na die dood, waarvan die geldigheid nog nié m.b.v. enige wetenskaplike metodes vasgestel is nie.

Baie idees kan as volg getipeer word:

  • Idees oor die aard van alle materiële, sowel as nie-materiële dinge.
  • Onder andere Natuurwetenskaplike en geskiedkundige idees oor wat presies in die verlede plaasgevind het.
  • Idees, oftewel voorspellings, oor wat presies in die toekoms gaan plaasvind.
  • Idees oor hoe dinge behoort te wees.

Geskiedkundiges gebruik ander metodes as Natuurwetenskaplikes om die verloop van gebeure in die verlede, mee vas te stel. Hulle gebruik onder meer historiese dokumente en oorgelewerde kennis, terwyl bioloë dateringstegnieke soos koolstofdatering gebruik om die ouderdom van fossiele mee vas te stel. Fisici gebruik hul kennis aangaande die aard van klein deeltjies soos o.a. kwarke, atome en molekules, om die resultate van eksperimente redelik akkuraat te kan bepaal. Hulle erken dat sekere faktore soos bv. Werner Heisenberg se onsekerheidsbeginsel, hulle verhoed om die beweging van klein deeltjies presies vooruit te kan bepaal. Geskiedkundiges dring gereeld daarop aan dat ons behoort te leer uit die foute van ons voorouers. Godsdienstige mense propageer sekere norme en waardes wat volgens húlle, meer in ooreenstemming is met die “Wil van God”. Politieke ideoloë propageer dikwels ánder norme en waardes wat volgens húlle, die wêreld ʼn “beter plek” sal maak.

Mense se idees en bespiegelings oor die ontstaan van die Heelal en lewe op aarde, verskil ook heelwat van mekaar. Godsdienstige mense glo byvoorbeeld dat God verantwoordelik was vir die skepping van alle dinge vanuit “niks”, terwyl baie ateïste beweer dat “niks” of “amper niks” die ontstaan van die Heelal, insluitend Tyd en Ruimte, voorafgegaan het. Godsdienstige mense verskil “hemelsbreed” van mekaar wat betref die moontlikheid dat evolusionêre prosesse betrokke was by die ontstaan van spesies. Sodoende glo Jong-Aarde Kreasioniste dat die aarde slegs ongeveer 6 000 jaar oud is en dat mense en ape géén gemeenskaplike voorouer gehad het nie, terwyl ondersteuners van Teïstiese Evolusie glo dat God evolusie deurgaans gebruik het as deel van Sy skeppingsdade. Mense verskil ook heelwat van mekaar betreffende die “dele” waaruit mense saamgestel is. Baie hedendaagse Christene glo byvoorbeeld dat mense onsterflike siele en sterflike fisiese liggame het, terwyl “filosofiese” materialiste die bestaan van siele en gepaardgaande bewuste voortbestaan na die dood, ontken. Teologiese deterministe glo dat God alles voorafbepaal het en dat alle gebeure plaasvind volgens Sy wil. Wetenskaplike deterministe, daarenteen, glo dat genoeg kennis oor die Natuurwette en die oorsake van gebeure, mense eendag sal bemagtig om die toekoms redelik akkuraat te kan voorspel. Sommige mense wat determinisme ontken, glo dat elke mens ʼn vrye wil het om sekere besluite te kan neem en dat hierdie vrye wilsbesluite geensins voorafbepaal kan word deur enige God óf Natuurwette nie. Sommige godsdienstige mense fokus sodanig op die hiernamaals, dat hulle ontmoedig word om besorgd te wees oor ander (veral ongelowige!) mense se materiële welstand. Mense verskil ook van mekaar betreffende die belangrikheid van die welstand van alle mense of dié van slegs sekere rasse, families of individue. Die geloof in spirituele werklikhede kan sommige mense aanmoedig om die materiële te verag, terwyl dit andere kan aanmoedig om wêreldtoestande te help verbeter om sodoende beter geleenthede vir almal te skep vir hul spirituele groei.

Terwyl die geldigheid van sekere idees (nog) nié m.b.v. wetenskaplike metodes vasgestel is nie, is dit tog moontlik om daaroor te bespiegel en te filosofeer en die eienskappe daarvan met mekaar te vergelyk. Ons kan onder meer van die volgende metodes gebruikmaak om die geldigheid van verskillende idees mee te ontleed en te toets:

  • Is dit logies konsekwent met mekaar?
  • Is dit teenstrydig met ánder idees waarvan die geldigheid alreeds vasgestel is deur gebruikmaking van wetenskaplike metodes?
  • Watter nadele/voordele hou sekere idees in vir sommige mense en is dit moontlik dat dit voordelig kan wees vir sommige mense en nadelig vir ander mense?

Indien iemand aan die een kant sou beweer dat God lief is vir al Sy skepsels, terwyl hy/sy aan die ander kant glo dat God óf doelbewus biljoene van hulle eendag hel toe sal stuur, óf dat Hy, as “Almagtige Skepper”, versuim om dit te keer, aanvaar hy/sy twee geloofstandpunte wat logies inkonsekwent is met mekaar. Baie mense wat glo dat slegs materiële faktore soos o.a. verskillende oorgeërfde gene en uiterlike omstandighede, bepalende invloede het op mense se gedrag, beweer op onwetenskaplike wyse dat alle mense “gelyk gebore” is. Baie Christene aanvaar die teologiese weergawe van die gelykheidsdogma, waarvolgens elke “siel” gelyk is in die oë van God. Hiervolgens het elke mens kwansuis ʼn gelyke kans om gedurende slegs één lewe op aarde, Jesus as Persoonlike Verlosser en Saligmaker te aanvaar. Kan die Bybel werklikwaar die “onfeilbare Woord van God” wees indien dit absurde en onwetenskaplike bewerings bevat soos o.a. die son wat stilgestaan het, die sesdag-skepping, ʼn donkie wat gepraat het en Jesus se beweerde wonderwerke?

Twee van die belangrikste en mees kontroversiële onderwerpe waaroor mense al vir jare van mekaar verskil het, is (1) die aard van die mees Perfekte en Hoogste moontlike vorm van die Werklikheid, nl. die aard van die Goddelike/God en (2) die moontlikheid en aard van bewuste voortbestaan ná die dood en die gepaardgaande eindbestemming van mense. Mense met sekere idees oor die aard van God of van die Goddelike, het dikwels soortgelyke idees aangaande die aard van mense se eindbestemming. Daar is veral drie uiteenlopende geloofstandpunte oor die aard van die Goddelike/God en die lewe na die dood:

  • God is Persoonlik van aard in dié sin dat Hy besluite kan neem en met mense kan kommunikeer; sommige (gewoonlik uitverkore) mense is bestem vir die ewige lewe, terwyl biljoene andere óf bestem is vir die ewige verdoemenis, óf vir die einde van hul bewuste bestaan.
  • Daar is géén God of enige Goddelike Werklikheid óf bewuste voortbestaan ná die dood van die brein nie.
  • Die Goddelike of Absolute is onpersoonlik of nie-persoonlik van aard en daar is ʼn gedeelte van mense wat inkarneer vanaf een fisiese liggaam na ʼn ander, tot die uiteindelike moontlike eenwording van ʼn onsterflike deel van mense met die Goddelike.

Ondersteuners van die voorgaande geloofstandpunte of lewensbeskouinge, verskil dikwels heelwat van mekaar wat betref die ontstaan van die Heelal en lewe op aarde. In teenstelling met sommige mense wat glo dat alle verskynsels voortvloei of voortgevloei het vanuit die onpersoonlike Goddelike Werklikheid, glo baie godsdienstige mense dat ʼn Persoonlike God alle bestaande dinge buite Homself, “vanuit niks” geskep het. Daar is ook wyd uiteenlopende idees oor hoe dinge behoort te wees en presies watse goeie norme en waardes mense behoort na te volg. Vir baie godsdienstige mense is dit van primêre belang om soveel as moontlik “ongelowiges” te oortuig om húlle geloof en manier van lewe te aanvaar ten einde die ewige lewe te kan beërwe. Filosofiese materialiste wat die moontlikheid van lewe na die dood ontken, beywer hulle dikwels vir die verbetering van mense se welstand in die hier-en-nou en/of vir die verwesenliking van die een of ander toekomstige aardse utopie. Vir baie mense wat glo in reïnkarnasie of in die verhuising van siele, is dit belangrik om hierdie proses te beëindig ten einde Nirvana of eenwording met die Goddelike, te bewerkstellig. Terwyl sommige van hulle hoofsaaklik fokus op hul eie verlossing, beskou ander dit as hul plig om ook baie ander mense te help om so gou moontlik verlossing te bereik.

Sekere godsdienstige en wetenskaplike idees het al heelwat kwaliteit toegevoeg tot mense se lewens. Die wetenskap en tegnologie het mense se lewens in toenemende mate vergemaklik, terwyl geloof in ʼn God wat omgee, vir heelwat mense lewensverrykend is. Geloof in reïnkarnasie kan jou selfs aanmoedig om die wêreld se omstandighede sodanig te verbeter, dat ook jý ʼn beter kwaliteit lewe sal hê in jou toekomstige inkarnasies. Dit kan vir jou en andere dan beter geleenthede, méér vryheid en vrye tyd bied om te fokus op spirituele aspekte, in plaas daarvan om onderdruk te word of gedurig te sukkel om net te oorleef. Die voor- en nadele van idees en geloofstandpunte kan met mekaar vergelyk word deur die invloed daarvan op verskillende gemeenskappe, te ondersoek. Daar is byvoorbeeld ʼn duidelike verband tussen die Rooms-Katolieke Kerk se letterlike interpretasie van sekere Bybelgedeeltes gedurende die Donker Eeue en hul onderdrukking van alternatiewe seksuele leefwyses, vrye spraak en sekere wetenskaplike ontdekkings.

Magsugtige opportuniste het al dikwels besef dat hulle sekere mooiklinkende idees kan  misbruik ten einde valse hoop aan mense te verskaf – idees wat dikwels onwetenskaplik is of logies inkonsekwent is met mekaar. Sodoende kan die idee dat alle mense gelyk gebore is in dié opsig dat daar bitter-min oorerflike genetiese verskille tussen hulle is en hulle kwansuis dieselfde potensiaal het om eendag dieselfde dinge in die lewe te kan bereik, misbruik word om regeringsvorms soos bv. een-mens-een-stem demokrasie en politieke ideologieë soos o.a. Marxisme-Leninisme, liberalisme en sosialisme, mee te regverdig. Hierdie meesal super ryk mense, is ook deeglik bewus van die feit dat wie ook al die hoofstroommedia beheer, ʼn beslissende invloed het op die uitkoms van demokratiese verkiesings. Die meeste mense is egter oningelig aangaande die invloed van super ryk belangegroepe binne korrupte regerings en die media. Hulle is ook salig onbewus van die al groterwordende gaping tussen die armste deel van bevolkings en die super ryk elite, terwyl hulle aandag gedurig afgelei word met vermaak, sportgebeure en leë beloftes oor “gelyke regte” en ekonomiese voorspoed.

Godsdienstige idees is veral in die verlede gebruik om sekere norme en waardes te bevorder omdat dit kwansuis in ooreenstemming is met ʼn verbeelde “Wil van God” – norme en waardes wat veral seksuele vryhede en vryheid van spraak, beperk het. Die Pous, konings, politici en ander godsdiensleiers, het vroeër jare miljoene mense onderdruk in die naam van ʼn vreesaanjaende God. Sedertdien is egter besef dat hierdie meer openlike, maar minder doeltreffende onderdrukking, vervang behoort te word deur meer koverte onderdrukking wat by die massas die wanindruk help skep het dat almal van hulle eintlik gelyke regte het. Daar is heelwat (dikwels onderdrukte en moeilik bekombare) inligting beskikbaar oor magsugtige belange wat daarna streef om die heersende ideologie van die staat te bevorder ten koste van alle ander vryhede. Hulle wil ook unieke kulturele waardes vernietig en vervang met ʼn onderdrukkende Eenwêreldorde wat húlle en hul families en vriende sal bevoordeel ten koste van die meeste ander mense. Mense behoort sover moontlik ingelig te word oor die misleidende propaganda wat hierdie skrikwekkende agenda van onderdrukking en ontmensliking, bevorder. Sal die verloop van toekomstige gebeure grootliks bepaal word deur die “polities-korrekte” misleidende indoktrinasie deur maghebbers, of sal die meeste mense groter vryhede hê indien heelwat van hulle die voorgaande inligting ter harte neem?

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

3 Responses to Die wêreld van idees

  1. Con Meyer sê:

    Hallo Jaco,
    Dankie vir ‘n goeie samevatting van verskillende idees.

    Die huidige Pous is vir my nogal ‘n vars briesie uit die Katolieke Kerk. Twee uitsprake is veral verblydend.
    Eerstens het hy so paar maande terug gesê as ateïste werklik oortuig is van hul saak dink hy God sal hul vergeef en nie straf met die hel nie. Nogal ‘n ontspannende gedagte, komende van, volgens die Katolieke kerk, God se verteenwoordiger op aarde.

    Die tweede is dat hy klimaatsverwarming aanvaar en hom beywer om dit te bekamp. Dit behoort die mense wat dink klimaatsverandering is God se wil en daarom niks daaraan wil doen nie, in die bek te ruk. Of ons egter klimaatsverandering inderdaad gaan verhoed twyfel ek persoonlik baie sterk.

    Dit is vir my onduidelik waarna jy in jou laaste sinne verwys. Ek is baie bewus van die groter wordende verskil in inkomstes van (super)ryk en armes, maar is nie oortuig van ‘n bedekte sameswering nie. Die verskynsel is vir my ‘n natuurlike outomatiese gevolg van die kapitalisme. Die kapitalisme is goed vir die gewone mens, maar weliswaar sleg vir die omgewing . Ek is ook oortuig dat ten spyte van die groter wordende rykdomverskille gaan dit egter al hoe beter met die gemiddelde mens. en dit word veral gesien in die feit dat mense deesdae langer leef en meer vrye tyd het. Michael Shermer se, THE MORAL ARC, is in die verband insiggewend.

    Ek sal graag verder met jou wou gesels.

    Groetnis,
    Con Meyer

    • Baie dankie vir jou interessante kommentaar, Con! Prof. Sampie Terreblanche het in sy boek, “Verdeelde land”, spesifiek verwys na die al groterwordende gaping tussen die rykes en armes in Suid-Afrika die afgelope 20 jaar. Hy voorspel dat dit die volgende 20 jaar gaan vererger! Hierdie land is ʼn uitstekende voorbeeld waarbinne mooiklinkende idees soos o.a. “gelyke regte” en “Swart Bemagtiging”, misbruik is om ʼn klein minderheid te bevoordeel ten koste van die meeste Suid-Afrikaners. Ek het in hierdie artikel (https://jacosteynblog.wordpress.com/2014/05/18/die-aanslag-op-mense-se-verbeeldings) my idees oor ʼn moontlike sameswering ter bevordering van ʼn onderdrukkende Eenwêreldregering, meer breedvoerig verduidelik. Die Red Ice Radio webblad (http://www.redicecreations.com/radio/nonsubscriber.php) bevat insiggewende onderhoude met verskillende skrywers, wat jy gratis kan aflaai, aangaande genoegsame getuienis vir die agenda wat die strewe na die Eenwêreldorde bevorder.

  2. Walter Muller sê:

    Om aan te sluit by Jaco se kommentaar aan jou Con; my werk vat my weekliks na verskillende dorpe en voorstede in Suid Afrika. Die finansiele gaping waarna Jaco verwys word al hoe duideliker, al hoe meer mense raak werkloos. Dit gaan al so erg dat in sekere projekte waar ons ongeskoolde arbeid nodig het en verplig word deur die owerhede om lokale arbeid te gebruik daar letterlik ‘n honderde mense opdaag om tien tydelike poste vul. Dan moet daar geloot word anders sit jy binne minute met geweldadige situasies.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s