Die invloed van Calvinisme op die Suid-Afrikaanse politiek en ekonomie

John Calvin

Drie van die belangrikste Calvinistiese geloofsbeginsels wat deur die meeste blanke Afrikaanssprekende mense vir baie jare aanvaar is en nog steeds aanvaar word, is:

  • God het as Persoonlike, Almagtige en Perfekte Wese die ganse skepping (vanuit niks) tot stand gebring. Hy is verhewe bo Sy skepping. Alle mense daarenteen, is in sonde ontvang en gebore. Mense kan die Wil van God ten opsigte van die mensdom tot ʼn beperkte mate verstaan deur die bestudering van alleenlik die Woord van God, nl. die Bybel (sola scriptura).
  • God het vóór die skepping van die aarde bepaal watter mense bestem is om eendag die ewige lewe te beërwe en watter mense die ewige verdoemenis tegemoet sal gaan – vandaar die Calviniste se dogma aangaande die uitverkiesingsleer. God se “genade” alleen (sola gratia) bepaal wie presies eendag Hemel toe sal gaan.
  • Diegene wat bestem is om eendag die ewige lewe te beërwe, sál Jesus op die een of ander stadium in hul lewens as hul enigste Verlosser en Saligmaker aanvaar. Hulle enigste karaktereienskap wat sal bepaal of hulle die ewige lewe sal beërwe, is hierdie spesifieke geloof (sola fide) en nié enige goeie werke, morele waardes of optredes nie.

Uit die voorgaande is dit duidelik dat die strewe na die verbetering van die welsyn van die meeste mense, nou nie eintlik die hoogste prioriteit is van aanhangers van hierdie geloofsbeginsels nie. Omdat Calviniste boonop glo dat die Bybel die Woord van God is en omdat selfs slawerny in sekere dele van die Bybel goedgekeur word, ontmoedig hierdie geloofsbeginsels hulle nié om materiële rykdomme te bekom en in die proses selfs mense te misbruik en/of te onderdruk nie. Baie Calviniste glo dat dit hul plig is om die Evangelie aan veral die heidene te verkondig. Baie vroeëre Calvinistiese Afrikaners het byvoorbeeld geglo dat God van hulle verwag om Swartmense aan te moedig om die “barbaarse aanbidding” van hul voorvadergeeste te laat vaar.

Terwyl heelwat Boeddhistiese (en selfs ook Rooms-Katolieke) monnike probeer afsien van aardse geriewe en rykdomme, is daar dus géén soortgelyke beperking op Calviniste wat hulle weerhou van die najaag van aardse rykdomme nie. Volgens Max Weber was daar ʼn belangrike verband tussen Calvinisme en die bevordering van kapitalisme in veral die Weste. Op grond van hierdie “gees van kapitalisme” waarna hy verwys het, het werkgewers hul werknemers gereeld misbruik en het hulle die ongelykhede in hul werksomgewings as van mindere belang geag. Hierdie gees van kapitalisme het daartoe bygedra dat baie Calvinistiese Afrikaners “goedkoop” swart arbeid gebruik het ten einde hul finansiële doelwitte te bereik. Hierdie praktyk was nooit deur enige van die Afrikaanse driesusterkerke beskou as ‘n sonde soortgelyk aan die “sondes” van homoseksuele dade, pornografie en ongetroude paartjies wat saamwoon nie.

Terwyl die meeste hedendaagse politieke partye in Suid-Afrika sekulêre en liberale grondbeginsels het, is daar egter drie verregse Calvinistiese splintergroepe, nl. die Herstigte Nasionale Party (HNP) [1], die Afrikaner Nasionalistiese Beweging (ANB) [2] en Afrikaner Volksparty (AVP) [3], wat beide tradisionele Calvinistiese lewenswaardes én die beleid van Apartheid, ondersteun. Hierdie organisasies se grondbeginsels is soortgelyk aan dié van die ou Nasionale Party vóór 1970. Terwyl hulle aan die een kant glo dat Calvinisme die enigste ware geloof verteenwoordig en dat dit blankes se plig was en is om hierdie “Lig” in Afrika in te dra, glo hulle aan die ander kant dat elke bevolkingsgroep oor hulleself behoort te regeer in hul eie afsonderlike grondgebied. Terwyl baie verregses dus dikwels voorgee dat hulle nié beweer dat blankes meerderwaardig is nie, is baie van hulle tog neerbuigend in dié opsig dat hulle glo dat blankes se godsdiens, demokratiese regeringsvorm en tegnologieë, beter is as die swart Afrikane se tradisionele waardes en ondemokratiese regeringstelsels en dat Swartmense daarom die blankes se “beter” norme en waardes behoort te aanvaar. Die regse blanke “baas” sê dus vir die Swartman: “Julle het die reg om julleself te regeer in jul eie grondgebied, maar alvorens julle dit kan doen, móét julle eers erken dat die Christendom béter is as jul tradisionele godsdienste.”

Johannes Calvyn was van mening dat alleenlik die hardwerkende uitverkorenes van God, die Ewige Lewe sal beërwe en dat lui mense soos die bedelaars in sy tuisdorp Genève, heel waarskynlik verlore siele was wat bestem is vir die Ewige Verdoemenis. Om die armes en behoeftiges te help, was volgens hom ‘n oortreding van God se verordeninge omdat gelowiges slegs deur hul eie harde werk kon aantoon dat hulle verlos is deur God se genade. Hy het ook voorgestel dat gelowiges hul winste herbelê in hul toekomstige finansiële ondernemings. Hierdie Protestantse en kapitalistiese werksetiek het gaandeweg uitgebrei na Europa en Amerika met behulp van Protestantse sektes en het ontwikkel tot een van die belangrikste Westerse werksetieke. Die morele sanksie om wins te maak d.m.v. harde werk en organisasievermoëns, het gelei tot die daarstel van verskeie klein sake-ondernemings dwarsdeur die wêreld.

Gedurende die Industriële Rewolusies (1760 – 1870) het die Calvinistiese eienaars van klein sake-ondernemings ook begin om hul besighede te meganiseer, wat aanleiding gegee het tot die toenemende vervanging van werkers se tradisionele vaardigheid en vakmanskap met die toepassing van dissipline en die anonimiteit van derduisende arbeiders in fabrieke. Die basis van die Calvinistiese werksetiek, nl. die verband tussen harde werk en persoonlike finansiële groei, het gaandeweg verbrokkel. Baie plaaslike gemeenskappe het begin disintegreer omdat werkloosheid toegeneem het en duisende mense verstedelik het ten einde beter werksgeleenthede te soek. Die aantal werkers in fabrieke het toegeneem en ‘n nuwe werkersklas, die proletariaat, het ontstaan en hulleself georganiseer in unies en politieke partye. Vervolgens het ‘n klassestryd ontstaan tussen die meer gegoede deel van die gemeenskap en die nuwe werkersklas. ‘n Soortgelyke proses het in Suid-Afrika plaasgevind met die gebruikmaking van goedkoop nie-blanke arbeid deur hoofsaaklik (veral Engelse en Joodse) myneienaars en blanke (Afrikaanse) boere. Die klassestryd gedurende die Industriële Rewolusies was soortgelyk aan die huidige gespanne verhouding tussen die meeste Swartmense en die blanke middelklas in Suid-Afrika.

Sendelinge se pogings om die Evangelie aan soveel as moontlik swart “heidene” bekend te maak, is vergemaklik omdat miljoene Swartmense gewoon en gewerk het binne die ou blank-beheerde Suid-Afrika vóór 1994. Baie ondersteuners van die Calvinistiese werksetiek beskou dit as ʼn mors van tyd en energie om besorgd te wees oor alle mense se materiële welsyn, juis omdat die meeste van hulle na bewering in elk geval bestem is vir die Ewige Verdoemenis en verdien om te ly tydens hul aardse bestaan. Baie Calviniste se belangrikste “aardse” prioriteit is die nastreef van hul eie materiële vooruitgang d.m.v. harde werk en die herinvestering van hul winste ter bevordering van hul toekomstige finansiële ondernemings. Die gebruikmaak van goedkoop arbeid is onafskeidbaar deel hiervan.

Omdat Calviniste glo dat God die verloop van alle gebeure presies voorafbeplan (gedetermineer) het, dring hulle dikwels daarop aan dat minder gegoede mense hul swakker omstandighede behoort te aanvaar. Ontevredenheid oor die stand van sake word daarom dikwels beskou as ʼn “klap in God se gesig”. Baie Calviniste vergeet egter gerieflikheidshalwe dat húlle – indien hulle logies konsekwent sou wees, hul gedurige klagtes en besware teen geweldsmisdade en die “onchristelike bewind” van die ANC, behoort te laat vaar.

Het baie Afrikaners se tradisionele Calvinistiese lewenswaardes uiteindelik méér voor- as nadele vir hulle en vir ander Suid-Afrikaners ingehou? Terwyl dit aan die een kant geensins Afrikaners daarvan weerhou het om hebsug en kapitalisme te bevorder en in die proses gebruik te maak van swart arbeid nie, het dit aan die ander kant aanleiding gegee tot gedurige onenigheid tussen hulle. Ons is bewus van die jarelange kleinlike geskille tussen die Afrikaanse driesuster kerke oor die sing van psalms, vroue as diakens, mag mens dans sonder om dit te geniet of is dans heeltemal onaanvaarbaar, ens.

Meer as dertig jaar gelede was die oorgrote meerderheid Afrikaners lidmate van een van die driesuster kerke. Hulle het hul intellektuele vermoëns, hardwerkendheid en Westerse tegnologieë gebruik om ‘n aansienlike bydrae te lewer tot die opbou van hierdie land – ten spyte van hul Calvinistiese lewenswaardes. Namate die bevolkingsgetalle van Swartmense egter begin toeneem het en die druk al groter geword het om gelyke regte aan hulle te gee, het Afrikaners in toenemende mate hul tradisionele Calvinistiese morele norme en waardes verwerp sonder om dit met behoorlike alternatiewe spirituele norme en waardes te vervang. Gevolglik het hul tradisionele kulturele norme en waardes weggekwyn en is hulle deesdae meer as ooit tevore verdeeld onder mekaar. Baie skole en universiteite is ook nie meer “Afrikaans” nie. Baie ánder Afrikaners wat nog steeds ywerige Christene is, beweer dat sekere Afrikaanse kerke weggedwaal het van die “Ware Boodskap” van die Bybel omdat die kerke té verdraagsaam geword het t.o.v. “permissiewe wêreldse waardes”. Die ekonomiese- en misdaadprobleme in die huidige Suid-Afrika en die onvermoë en/of onwilligheid van baie kerkleiers om behoorlike hulp en raad aan hul lidmate te verskaf aangaande lewensbelangrike kwessies, gee aanleiding daartoe dat baie van hulle groter aanklank vind by die méér fundamentalistiese gedagterigtings van o.a. Charismatiese bewegings, Angus Buchan, sy vroulike weergawe Gretha Wiid en die onwetenskaplike Jong-Aarde Skeppingsleer.

Baie blankes beweer deesdae dat Swartmense dankbaar behoort te wees omdat blankes hulle kwansuis weens altruïstiese motiewe, opgehef het vanuit hul oorspronklike “barbaarse” lewenswyse. Hierdie oënskynlike opheffing was egter van verbygaande aard en is veral die afgelope 20 jaar vervang deur toenemende korrupsie, geweldsmisdade en wanhoop. Calvinistiese Afrikaners was en is veral verdeeld oor die Bybelse regverdiging vir die beleid van Apartheid, grootliks omdat die meeste kerkleiers en politici nié behoorlike riglyne hieroor verskaf het nie. Geldgierigheid het dus gelei tot die gebruikmaking van goedkoop swart arbeid, wat aanleiding gegee het tot die toename in swart bevolkingsgetalle en uiteindelike ANC bewindsoorname.

Baie Joodse en Engelse myneienaars het ook jarelank gebruikgemaak van goedkoop swart arbeid, maar ongelukkig het die ou Nasionale Party regering wat deur die meeste blankes vir baie jare ywerig ondersteun is, nié streng opgetree teen hierdie wanpraktyk nie. Afrikaners se toenemende aanvaarding van ʼn verbruikerskultuur gebaseer op selfgesentreerde hebsug, moedig hulle nou nie juis aan om weerstand te bied teen korrupsie en die al groterwordende gaping tussen ryk en arm mense nie. Bitter-min van hulle is bereid om die geldigheid van skadelike ideologieë soos bv. die gelykheidsdogma, wat gedurig deur die hoofstroommedia gepropageer word, te bevraagteken. Dit wat vir baie Afrikaners die afgelope vyf dekades die “heiligste” was, nl. hulle (1) selfvernietigende Calvinistiese norme en waardes, (2) geldgierigheid en (3) sportbeheptheid, is van dié belangrikste faktore wat wesenlike bydraes gelewer het tot die agteruitgang van die eens trotse Afrikanervolk se unieke kultuur.

[1]         http://www.hnp.org.za

[2]         http://www.anbsa.co.za

[3]         http://www.afrikanervolksparty.org

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

3 Responses to Die invloed van Calvinisme op die Suid-Afrikaanse politiek en ekonomie

  1. Goeie skrywe.Persoonlik dink ek dat enige godsdiens die lewe baie ingewikkeld maak,want daar is soveel voorskrifte en interpretasies,wat dwarsdeur die geskiedenis van die mensdom,net gesorg het vir ellende en konflik.Dis asof die stryd tussen godsdienste al hoe feller raak as mens kyk na die opkoms van groepe soos Isis en selfmoordbomme op strategiese plekke.

  2. Hier is ʼn gedeelte van ʼn debat tussen myself en twee HNP-ondersteuners op die HNP se “Die Afrikaner”-Facebook groep (https://www.facebook.com/groups/130737910377083), n.a.v. my artikel oor Calvinisme:

    Jaco Steyn: In plaas daarvan om gedurig te kla oor Swartmense en die vinger te wys na die korrupte ANC-regering, behoort ons in die spieël te kyk en te vra watter rol die blankes se godsdienstige en politieke norme en waardes gespeel het in die aanloop tot die ANC se bewindsoorname. Lees gerus hierdie artikel (https://jacosteynblog.wordpress.com/2015/07/24/die-invloed-van-calvinisme-op-die-suid-afrikaanse-politiek-en-ekonomie) van my in verband hiermee.

    Hermanus van der Schyff: Ek het hard geveg om die oorgawe aan die ANC te voorkom. Nou sit ons daarmee. En wat hulle verkeerd doen mag tog seker uitgewys word. Of Calvinisme tot die oorgawe gelei het, is nou irrelevant, want die oorgawe aan chaos het klaar plaasgevind. En ons het ‘n geskiedenis wat bewys dat die Blanke regering van Verwoerd baie beter presteer het as dit waarmee ons vandag sit. In elk geval het dr Albert Hertzog sy beroemde Calvinistiese toespraak in die parlement gehou waarna John Vorster hom uit die kabinet gelaat het en met sy “weg beweeg van apartheid” voortgegaan het wat tot die uiteinde tot die oorgawe aan die ANC gelei het. So dit was nie die ware nasionalistiese Calvinisme wat tot die weggee bygedra het nie, maar bloot papbroekigheid van pienkfrikkie en kie, alhoewel Vorster en Botha die pad daarnatoe voorberei het.

    Faan Visser: Ek weet eerlikwaar nie of ek wil sê welkom terug nie Jaco Steyn, want waar jy loop, loop omstredenheid saam. Ewenwel, ek glo almal hier, soos ook die meeste elders, is vertroud met jou haat vir geloof en God, en dus gepantser teen jou leë retoriek. Ai Jaco, wat is die rede vir jou besoeke? Dit is nie vir my duidelik nie? En voor jy my weer toegooi onder plasings wat na jou blog verwys waarin grootse filosofiese gebrabbel opgeteken staan, ek het maande gelede reeds daar gaan lees en vind dit steeds en nou nog meer… ʼn gebrabbel. Jaco regtig, jou haat gaan jou nog verteer. En dan beland jy eendag op ʼn plek waarin jy nou nie glo nie.

    Jaco Steyn: Ek het in my artikel nié verwys na die feit dat baie Calviniste se idees onsamehangend is nie. Aan die een kant kerm en kla baie van hulle oor die wantoestande in die land, terwyl hulle aan die ander kant glo dat God die verloop van alle gebeure (haarfyn) voorafbepaal het. Hulle behoort eintlik tevrede te wees met die wantoestande wat dan kwansuis deel is van die “Wil van God”. Om hierteen beswaar te maak is dus ʼn vorm van godslastering – volgens húlle onsinnige dogmas… Faan. Die hoofrede vir my “besoeke” is om mense in te lig oor die ware oorsake van ons probleme. Dis belangrik dat ons besef dat verskeie faktore bygedra het tot ons huidige netelige situasie en dat dit géén sin maak om alleenlik andere (FW, die ANC en die Geldmag) daarvoor te blameer nie. Die hoofoorsaak van ons probleme is egter die meeste Afrikaners se liggelowige, onnadenkende en klakkelose navolging van die onsin wat deur hul politieke en godsdienstige (mis)leiers vir baie jare aan hulle opgedis is. Hierdie onsin sluit natuurlik emosiebelaaide, onsamehangende en onwetenskaplike godsdienstige gebrabbel in. Om my met die “Helse Vuur” te dreig sal my beslis nié ontmoedig om voort te gaan om hierdie misleiding (selfs binne “regse” organisasies soos die HNP!) te ontbloot nie!

    Faan Visser: Jaco Steyn wat laat jou dink ek “dreig” (nogal) jou met die “Helse Vuur”? Waarom is “regse” in aanhalingstekens? Verduidelik asb vir my, presies wat glo jy in terme van God en geloof?

    Jaco Steyn: Hermanus. Ek is deeglik vertroud met die filosofie agter “Nasionalistiese Calvinisme”. Ek het onlangs ʼn uitstekende boek in verband daarmee gelees – dr. AP Treurnicht se “Credo van ʼn Afrikaner”. Hierdie opmerkings in my artikel is juis geldige kritiek teen die toepassing daarvan:

    “Terwyl baie verregses dus dikwels voorgee dat hulle glo dat die blanke bevolkingsgroep nié noodwendig meerderwaardig is nie, is die meeste van hulle tog neerbuigend in die opsig dat hulle glo dat blankes se godsdiens, demokratiese regeringsvorm en tegnologieë, béter is as die swart Afrikane se tradisionele voorvadergeeste-‘aanbidding’ en ondemokratiese regeringstelsels en dat die Swartman veronderstel is om uiteindelik sekere van die blankes se ‘beter’ norme en waardes te aanvaar.”

    Jaco Steyn: Faan. Indien jy ʼn God aanbid wat doelbewus biljoene mense “Hel toe stuur”, behoort jy medeverantwoordelikheid daarvoor te aanvaar. Dit impliseer dat jy (en miljoene ander Christene) “halsstarrige ongelowiges” dreig met hierdie mistroostige eindbestemming, indien hulle nié jou geloofstandpunte sou aanvaar nie.

    Ek kan nie onthou of ek jou al voorheen verwys het na my artikel (http://www.spiritualiteit.co.za/artikel-drie…) waarin ek my geloof aangaande die aard van die Goddelike en die hiernamaals verwoord het nie, maar jy is welkom om dit te lees en daarop kommentaar te lewer.

    Ek het ook in hierdie artikel (https://www.facebook.com/notes/jaco-steyn/rassisme-apartheid-links-en-regs/10152138379535974) die betekenisse van rassisme, verskillende vorms van Apartheid en “links” en “regs”, verduidelik.

    Hermanus van der Schyff: Jaco, wil jy nou vir my vertel Calviniste neem nie besluite nie. As ek nou ‘n Calvinis is, kan ek maar oor die snelweg loop sonder om links of regs te kyk, want as alles vooraf beplan is, sal ek of doodgery word of nie en ek het geen beheer nie?. Ek het geen inset daarin nie. As dit jou idee van Calvinisme is, is dit jou reg om so te dink. Maar om ander se sieninge af te skiet oor hoe jy dink, is nie regverdig nie. Ek as Calvinis moet besluit of dit veilig is om oor die pad te loop of nie, anders is ek ‘n iets wat God wil misbruik, want ek wil nie doodgery word nie en nou verwag/eis ek dat hy my moet red. Dit is beslis nie my siening van geloof nie.

    Faan Visser: Jaco Steyn ek skud maar net my kop en glimlag. Jy het ʼn byltjie te slyp met God en geloof, en dan val jy Sy gesante aan. Jou lewensfilosofie laat nie daarvoor ruimte nie. In jou paar plasings hier maak jy reeds gruwelike foute wat jou bevooroordeeldheid blootlê. Dit is ook duidelik jy verstaan nie die Reformatoriese, Bybelse teologie nie. Is dit sinvol om hier met jou daaroor te redeneer? Dit is sekerlik nie die bedoeling van die blad of Hermanus van der Schyff se plasing nie. Ek stel voor jy gaan sit jou selfopgelegde kruistog teen God en Christen elders voort, en hou by die bespreking op die tafel. Is dit moontlik?

    Jaco Steyn: Nee Hermanus, ek beweer beslis nié dat Calviniste nie besluite kan neem nie. Ek glo juis in die werklikheid van mense wat vrye wilsbesluite kan neem wat geensins voorafbepaal (gedetermineer) is deur óf die Natuurwette, óf deur die een of ander Almagtige God nie. Calviniste se teologiese determinisme is egter onversoenbaar met die geloof in vrye wilsbesluite. Indien God alle gebeure voorafbepaal het en besluit het wie eendag die ewige lewe gaan beërwe, het Hy selfs mense se besluite voorafbepaal. Omdat God dus na bewering alle mense se besluite voorafbepaal het, kan hulle nié vrye wil hê nie en is hulle niks meer as “marionette van God” nie. Jou besluit om links en regs te kyk voor jy oor die snelweg loop, is dus voorafbepaal deur die “Groot Marionetmeester”. Ek verduidelik my idees oor “vrye wil versus determinisme”, meer breedvoerig in hierdie (http://www.spiritualiteit.co.za/artikel-faktore-invloed-lewenskwaliteit.php) artikel.

    Jaco Steyn: Faan. Verduidelik asseblief in watter opsigte ek “nie die Reformatoriese, Bybelse teologie” verstaan nie. Jy is welkom om enige foute of onwaarhede in my artikels te belig en behoorlik te verduidelik waarom ek fouteer.

    Hermanus van der Schyff: Ek as Calvinis is nou al voor geboorte aangesê wat om nou te skryf. Noem my robot. Ja Rudolf, Vorster kon nie die whiskeyglas en vriende in die geheime organisasies en die druk van buite, soos Amerika en veral die Engelse, weerstaan nie. Botha het weer ‘n kommunis agter elke bos en onder elke bed gesien en ook nie kans gesien om dit uit te wis nie, alhoewel ons weermag en ander veiligheidsmagte dit maklik sou kon doen. Onthou wat Pik gesê het, dat die grensoorlog geveg word terwyl hulle besig is om ‘n skikking binnelands te verkry. So het hoeveel van ons soldate onnodig gesterf.

    Jaco Steyn: Hermanus. Ongelukkig het baie regse bewegings en partye die materiële belange van blankes oorbeklemtoon in plaas daarvan om te fokus op die belange van alle Suid-Afrikaners teenoor dié van hul gemeenskaplike vyand – die Groot Geldmag. Calvinisme is ongelukkig onafskeidbaar deel van hierdie eensydige fokus op slegs sommige (gewoonlik “gelowige”) mense se materiële welstand.

    Hermanus van der Schyff: Dit klink nou vir my dat Jaco vir ons sê ons mag nie kla oor die verkeerde dinge van die ANC regime nie, ons moet dit maar net aanvaar. Nou verwonder ek my of hy nie ook maar ontevrede is oor Eskom se kragprobleme nie, want dit moet tog ook sy besigheid negatief raak. Of sit hy daar met ‘n groot glimlag en sê: ja hulle wou mos geld maak, so nou moet hulle maar swaarkry, ek leef lekker?

    Rudolf Peens: Ek is moeg vir die godsdienstige beterweters. Hulle kan gerus ʼn les uit Lukas 18 vers 11 neem, want dis waaraan hulle my laat dink.

    Faan Visser: Jaco Steyn, jy doen presies waarna ek aan die begin verwys het, jy vertoon jou omstredenheid. Ek het nie die tyd om in behoorlike, analitiese gesprek te tree nie. Jou verwysing na “die vermetelheid” van talle predikante om gays te veroordeel trek nuwe sake in. Om Skrifgetrou te wees, is genade, nie vermetel nie. Dit bewys net weer die massiewe afstand tussen jou humanistiese, filosofiese, ateïstiese lewensbeskouing en diegene onder ons wat God- en Woordgeorieënteer is. Die Bybel vra tereg hoe kan ʼn gelowige en ongelowige dieselfde belange hê. My belang is God, Sy koninkryk, Jesus Christus Verlosser en Saligmaker, my kindskap van God en die ewige lewe. Jou belang is jyself, hierdie wêreld, jou bestaan en oorlewing hier en nou, en dat jy darem iets met jou lewe doen voor jy tot sterwe kom en ophou bestaan, net n bietjie beenmeel in rou grond. Jy sien, ons het niks in gemeen wat ewigheidswaarde het nie. Praat liewer PW, FW en ander W’s of verstaan jy dit ook nie?

    Hermanus van der Schyff: Ek stem Rudolf. Ek het hierdie gesprek begin oor politieke probleme en nou baklei ons oor godsdiens. Dit breek my spoed. Ek keer nou terug na waar ons begin het. Daar is nog die Gupta-gate wat nie uitgeklaar is nie, maar lyk my onder die mat in gevee is. En dan nog die president wat hier by ‘n konferensie was en in hegtenis geneem moes word nadat die hof opdrag daartoe gegee het, maar op sy vliegtuig kon klim sonder dat die amptenare kennis geneem het dat hy by hulle verby is, aangesien hulle nie sy dokumente gesien het nie. Tipies.

    Faan Visser: Jaco Steyn, jou opmerking oor regse partye e.s.m. wat sogenaamd te veel klem gelê het op blankes se welvaart en die groot geldmag ens., wys my jou kennis van en insig in die werklikheid van veral nasionale politiek is kommerwekkend. Ek kan nou slegs vinnige opmerkings maak, maar sal jou later graag aanvat oor jou opmerking.

    Jaco Steyn: Faan. Jou stelling aangaande my beweerde “humanistiese, filosofiese, ateïstiese lewensbeskouing”, toon weereens dat jy nog nie my artikel waarna ek hierbo verwys het, gelees het nie. In my artikel onderskei ek my idees oor die aard van die Goddelik en die hiernamaals van beide dié van godsdienstige mense soos jy én dié van filosofiese materialiste wat nié in die Goddelike/God of die hiernamaals glo nie. Jy slaan jou naam met ʼn plank deur my met ateïste te assosieer. Ek het in verskeie skrywes ateïsme en filosofiese materialisme gekritiseer – spesifiek die eng selfsugtige lewenswyse van baie van hulle.

    Indien jy die invloed van die Groot Geldmag ontken, is jy welkom om die boeke, “Die Geldmag”, deur BM Schoeman en “Oproep tot die stryd” deur dr. Albert Hertzog, te lees.

    Jaco Steyn: Hermanus. Daar is twee moerse foutiewe aannames in jou laaste kommentaar aan my. In die eerste plek het ek daarop gewys dat dit vir Calviniste logies inkonsekwent sou wees om gedurig te kla oor die ANC. Ek het geen probleem daarmee om oor hulle te kla nie, omdat ek nié julle geloofstandpunte aanvaar nie.

    In die tweede plek is ek tans werkloos – soos derduisende ander blankes en het ek geen “besigheid” van my eie nie. Die kragprobleme is dus nie vir my so ʼn groot probleem nie, maar ek verlustig myself beslis nié in andere se swaarkry nie.

    • Francois P Theron sê:

      Luke 18:11-12New International Version (NIV)

      11 The Pharisee stood by himself and prayed: ‘God, I thank you that I am not like other people—robbers, evildoers, adulterers—or even like this tax collector. 12 I fast twice a week and give a tenth of all I get.’

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s