Is een-mens-een-stem demokrasie die beste regeringsvorm in alle omstandighede?

2da93075a9f788fbfd02d7345011474c

“What, in fact, is ‘equality’? The term has been much invoked but little analyzed. A and B are ‘equal’ if they are identical to each other with respect to a given attribute. Thus, if Smith and Jones are both exactly six feet in height, then they may be said to be ‘equal’ in height. If two sticks are identical in length, then their lengths are ‘equal’, etc. There is one and only one way, then, in which any two people can really be ‘equal’ in the fullest sense: they must be identical in all of their attributes. This means, of course, that equality of all men – the egalitarian ideal – can only be achieved if all men are precisely uniform, precisely identical with respect to all of their attributes. The egalitarian world would necessarily be a world of horror fiction – a world of faceless and identical creatures, devoid of all individuality, variety, or special creativity.[1]

“Egalitarianism as a Revolt Against Nature” deur die skrywer Murray N. Rothbard

Die Engelse aanlyn Oxford Dictionaries se definisie van egalitarianism (die gelykheidsdogma) is: “believing in or based on the principle that all people are equal and deserve equal rights and opportunities” [2]. Wat presies word bedoel met die “gelykheid” van alle mense? Is alle mense in sekere opsigte gelyk, terwyl daar tog heelwat duidelik-waarneembare verskille is tussen ryk en arm, hul lewensomstandighede, intelligensie, skeppingsvermoëns, ens.?

Aan die een kant glo ek dat alle mense en alle ander lewende wesens ‘n gedeelde Goddelike essensie het, terwyl ek aan die ander kant erken dat daar wesenlike genetiese verskille tussen hulle is wat die gevolg is van miljoene jare se evolusionêre prosesse. Genetiese verskille bepaal tot ʼn groot mate dat katte ander geaardhede het as honde en dit kan selfs ‘n bepalende rol speel by die feit dat sommige mense meer intelligent en/of meer skeppend is as andere. Tydens ʼn onlangse wetenskaplike ondersoek [3] is daar juis vasgestel dat daar ʼn duidelike verband is tussen oorgeërfde gene en intelligensie. Diegene wat meer intelligent of skeppend is as andere, is nié noodwendig “beter mense” as hulle nie, juis omdat mense ook verskillende karaktereienskappe het. Daar is talle voorbeelde in die geskiedenis van intelligente en skeppende mense wat al heelwat skade aan die omgewing en aan ander mense aangerig het. ‘n Geniale persoon is dus nie noodwendig ‘n goeie mens met ʼn goeie geaardheid nie en iemand wat gebore is met Down se sindroom is nie noodwendig ‘n slegte mens nie. Die bewering dat “alle mense gelyk (geskape) is”, is dus teenstrydig met die feit dat daar heelwat ooglopende én minder ooglopende verskille tussen mense is.

Dit is dus belangrik om te onderskei tussen aan die een kant die Goddelike essensie wat alle lewende wesens op ‘n sekere vlak van die werklikheid aan mekaar verbind en aan die ander kant, verskille tussen méér intelligente mense en minder intelligente mense; tussen honde en katte, miere en olifante, ens. Omdat hulle verskillende gene oorgeërf het vanaf hul ouers, beskik alle lewende wesens dus nié oor dieselfde vermoëns nie. Indien ‘n hond byvoorbeeld dieselfde skole en universiteite as ‘n mens sou bywoon, sal die hond beslis nie in staat wees om ‘n boek te skryf nie. Dis doodeenvoudig onwetenskaplik om te beweer dat slegs die menslike spesie ‘n uitsondering is op hierdie reël en dat elkeen daarom dieselfde potensiaal het om eendag ‘n geniale ruimtewetenskaplike te kan word. Iemand wat met my hieroor verskil het gedurende ‘n debat, het beweer dat Stephen Hawking ‘n baie goeie ma gehad het en dat sy goeie opvoeding en haar optrede teenoor hom, van die grootste bepalende faktore was vir sy latere genialiteit! Terwyl baie godsdienstige mense glo dat almal “gelyk geskape is in die oë van God”, aanvaar baie nie-godsdienstige Marxiste, humaniste en liberale demokrate die antropologiese weergawe van die gelykheidsdogma waarvolgens almal gelyk is in dié opsig dat hulle dieselfde vermoëns het om dieselfde dinge in die lewe te kan bereik.

Volgens die antropologiese weergawe van die gelykheidsdogma is die bepalende invloede wat oorgeërfde gene op mense se karaktereienskappe het, weglaatbaar klein in vergelyking met opvoeding en onderwys, sosiale interaksies en ander uiterlike omstandighede. Baie Marxiste beweer vervolgens dat goeie kwaliteit opvoeding en onderwys die belangrikste voorvereiste is vir die verwesenlik van ʼn utopiese paradys, waarbinne alle goedere deur almal besit word en aan alle mense se behoeftes voorsien word. Sommige Christene wat glo in die onwetenskaplike skeppingsleer (kreasionisme), glo nog boonop in die antropologiese weergawe van die gelykheidsdogma: “Genetically, we are ‘equal’ as well. Now that the human genome has been deciphered, we know every human is so similar to everyone else that we are all essentially ‘clones’ of each other. The various expressions we recognize are best understood as designed adaptations. Personally, we are equal too. The Bible tells us that ‘all have sinned, and come short of the glory of God’ (Romans 3:23). … Equal rights called for in the Declaration [of Independence] were an extension based on a higher Charter, the Holy Scriptures.[4] 

Daar is omtrent geen gelykheid of “sosiale geregtigheid” in die Natuur nie. Inteendeel, die meer aanpasbare en sterker lewensvorms triomfeer gewoonlik oor die minder aanpasbare lewensvorms. Mense is so verskillend van mekaar dat selfs hulle vingerafdrukke, hare en geslagsorgane uniek is! Mense se intelligensievermoëns verskil ook heelwat van mekaar, omdat sommige mense byvoorbeeld sekere dinge vinniger aanleer as ander mense. Die antropologiese weergawe van die gelykheidsdogma is dus ʼn onwetenskaplike “metafisiese aanname” oftewel geloofstandpunt, wat nié gebaseer is op enige empiriese, waarneembare wetenskaplike getuienis nie. 

Sedert die Franse rewolusie van 1789 het die mooiklinkende, maar inherent-teenstrydige slagspreuk, “Vryheid, Gelykheid en Broederskap”, toegeneem in populariteit en is voorheen outokratiese regeringsvorms geleidelik vervang met demokratiese regeringsvorms. ʼn Meer bekende weergawe van die gelykheidsdogma waarvolgens alle mense gelyk moet wees “voor die reg”, het die ongelyke regte tussen die adelstand en ander minderbevoorregte mense, toenemend vervang. Voorheen kon adellikes byvoorbeeld ʼn sekere misdaad pleeg sonder om daarvoor vervolg te word, terwyl die gewone “man op straat” vir dieselfde misdaad vervolg sou word. Die idee dat almal gelyk of ten minste “gelykwaardig” is, word dikwels gerieflikheidshalwe gebruik as die beste regverdiging daarvoor dat almal bo ʼn sekere ouderdom, stemreg moet hê. Baie demokratiese lande is egter nié so suksesvol betreffende die bevordering van die meeste inwoners se welsyn nie, veral omdat baie deelnemers aan verkiesings grootliks oningelig is aangaande wesenlike politieke en maatskaplike realiteite. Demokratiese eenheidstate wat bestaan uit verskillende bevolkingsgroepe, het dikwels diskriminerende wetgewing en praktyke teen lede van kleiner bevolkingsgroepe. Indien die meeste deelnemers aan verkiesings nog boonop maklik beïnvloedbaar is, kan die eienaars van die hoofstroommedia die uitslae van verkiesings tot ʼn groot mate beïnvloed deur bv. sommige politici in ‘n swakker lig te stel as ander, méér omkoopbare politici.   

Die lewenskwaliteit van ‘n land se inwoners word veral bepaal deur verskeie faktore soos o.a. ekonomiese toestande, kulturele waardes, genetiese faktore en die meeste inwoners se karaktereienskappe en lewensbeskouinge, insluitend hul norme en waardes. Dit is daarom nié hoofsaaklik afhanklik van die land se regeringsvorm nie. ‘n Land wat deur ‘n koning of diktator regeer word, kán welvarend wees indien die alleenheerser werklik omgee vir sy onderdane. ‘n Demokrasie kan ten gronde gaan indien kiesers nie behoorlik ingelig word oor basiese politieke realiteite nie. Opportunistiese politici kan dan hulle kanse waarneem om onderdrukkende diktature te vestig – soos al dikwels in verskeie Afrikalande plaasgevind het.

Godsdienstige mense het al verskeie regeringsvorms aangehang – meesal nie-demokratiese regeringsvorms in die verlede en demokratiese regeringsvorms in die hede. Sommige fundamentaliste beoog om selfs binne-in sg. liberale demokrasieë, menseregte en vryhede sover moontlik te beperk. Voorbeelde hiervan is fundamentalistiese Christene wat ‘n tipe Christen-teokrasie ondersteun, Ortodokse Jode wat segregasie tussen Jode en nie-Jode ondersteun en Moslem-fundamentaliste wat hulle verspotte Sjaria-wette propageer in selfs tradisioneel-liberale Wes-Europese lande. Christene beweer dikwels dat die wêreld ‘n beter plek sal wees indien die meeste mense op ‘n dag sou besluit om God se gebooie te gehoorsaam en landswette op te stel wat in ooreenstemming is met Bybelse riglyne. Maar wat presies word bedoel met “Bybelse riglyne”? Gedurende die Donker Eeue het verskeie Europese lande teokratiese regeringsvorms gehad wat gebaseer was op die Rooms-Katolieke Kerk se gefabriseerde dogmas. Die gepaardgaande onderdrukking van sekere wetenskaplike ontdekkings het ongelukkig die Westerse wêreld se vooruitgang op die tegnologiese terrein, vir ongeveer 1 000 jaar vertraag! Die Calvinistiese lewenswaardes wat deur baie “blanke” politieke partye in die ou Suid-Afrika vóór 1994 aanvaar is, het beslis nié die leiers of die ondersteuners van die partye aangemoedig om die welsyn van die meeste Suid-Afrikaners te bevorder of om behoorlik weerstand te bied teen die nadelige invloede van internasionale geldbelange nie. Christelike norme en waardes is dus geen waarborg vir enige land se welvaart nie – nie in outokratiese lande en ook nie in demokrasieë nie!

Sekere demokrasieë waarvan die meeste inwoners nie-godsdienstig is, soos bv. Swede, het ongelukkig probleme met polities-korrekte wetgewing en praktyke wat die kiesers se vryheid van spraak toenemend aan bande lê en wat hulle verhoed om voldoende weerstand te bied teen die toenemende immigrasie van veral opdringerige derdewêreldse Moslems. Die berugte kommunistiese eenparty-diktature van die Sowjetunie en Rooi-Sjina, het wel demokratiese regeringsvorms gehad, maar deelnemers aan verkiesings kon slegs stem vir kandidate wat die regeringsparty se heersende ideologie ondersteun het.

Kom ons veronderstel dat die meeste inwoners van ‘n sekere land sou besluit om positiewe lewenswaardes na te volg en daarvolgens te lewe – norme en waardes wat hulle aanmoedig om die welsyn van die meeste van hulle medeburgers te bevorder. Daar is ook oorgenoeg hulpbronne in die land en geen probleme met oorbevolking nie. Die inwoners is sodanig “volwasse” en konsidererend en hul lewens so moreel onaantasbaar, dat geeneen van hulle dit sou oorweeg om ‘n ander persoon te benadeel nie. In sulke ideale omstandighede is daar nie eens die behoefte aan ‘n regering of polisiemag nie en is selfs ‘n toestand van anargie of regeringloosheid, aanvaarbaar. Daar kan selfs ‘n groep wysgere wees wat as raadgewers optree vir die res van die bevolking. Die raadgewers ag dit ook nie nodig om wette te maak wat deur ‘n polisiemag afgedwing word nie en daar is gevolglik geen tronke nie. Kom ons veronderstel verder dat daar ‘n ánder land is met soortgelyke omstandighede, maar dat daar ‘n diktator of koning is wat as alleenheerser regeer. Selfs hierdie laasgenoemde land se mense behoort ekonomies (en heel waarskynlik ook op die spirituele terrein) te floreer.

Die beste regeringsvorm wat die welsyn van die meeste landsburgers behoort te bevorder, is grootliks afhanklik van ander faktore soos o.a. onderwysstandaarde, kultuurverskille, oorgeërfde gene, ekonomiese toestande en natuurlik die inwoners se karaktereienskappe, insluitend hul geloofsgebaseerde norme en waardes. Vergelyk in verband hiermee die uiteenlopende toestande in (1) die meer etnies-homogene antieke Griekeland, waarbinne beperkte vorms van demokrasie gegeld het en slegs ʼn klein minderheid “goedgeskoolde” en gedissiplineerde mense stemreg gehad het en (2) die toenemende wantoestande in die hedendaagse “reënboognasie” van die Suid-Afrikaanse eenheidstaat. Hou ook in gedagte dat daar in antieke Griekeland géén invloedryke dagblaaie, radio- of televisiestasies was wat aan magtige belangegroepe behoort het en wat ʼn onnadenkende stemvee se besluite wesenlik kon beïnvloed nie! Die tipe regeringsvorm of selfs ‘n goeie konstitusie of landswette, is dus minder belangrik as die regeringsleiers en die meeste ander gemeenskapslede se motiewe, karaktereienskappe en lewensbeskouings.

Verwysings:

[1]   http://mises.org/daily/3071

[2]   http://oxforddictionaries.com/definition/egalitarian

[3] http://www.theguardian.com/science/2015/jul/23/genes-influence-academic-ability-across-all-subjects-latest-study-shows

[4]   http://www.icr.org/article/are-all-men-created-equal

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s