Gevolge van die beweerde gelykheid van alle mense

trickle down

“What, in fact, is ‘equality’? The term has been much invoked but little analyzed. A and B are ‘equal’ if they are identical to each other with respect to a given attribute. Thus, if Smith and Jones are both exactly six feet in height, then they may be said to be ‘equal’ in height. If two sticks are identical in length, then their lengths are ‘equal’, etc. There is one and only one way, then, in which any two people can really be ‘equal’ in the fullest sense: they must be identical in all of their attributes. This means, of course, that equality of all men – the egalitarian ideal – can only be achieved if all men are precisely uniform, precisely identical with respect to all of their attributes. The egalitarian world would necessarily be a world of horror fiction – a world of faceless and identical creatures, devoid of all individuality, variety, or special creativity.[1]

“Egalitarianism as a Revolt Against Nature” deur die skrywer Murray N. Rothbard

Die Engelse aanlyn Oxford Dictionaries se definisie van egalitarianism (die gelykheidsdogma) is: “believing in or based on the principle that all people are equal and deserve equal rights and opportunities” [2]. Wat presies word bedoel met die “gelykheid” van alle mense? Is alle mense in sekere opsigte gelyk, terwyl daar tog heelwat duidelik-waarneembare verskille is tussen ryk en arm, mense se lewensomstandighede, intelligensie, skeppingsvermoëns, ens.?

Die Goddelike is inherent deel van alle mense en van alle ander lewende wesens, maar as gevolg van evolusionêre prosesse soos bv. natuurlike seleksie wat miljoene jare plaasgevind het, is daar wesenlike genetiese verskille tussen hulle. Hierdie genetiese verskille bepaal bv. tot ʼn groot mate dat katte ander geaardhede het as honde. Dit is selfs moontlik dat gene mense se seksuele oriëntasie kan beïnvloed. ʼn Onlangse wetenskaplike ondersoek [3] het die verband tussen oorgeërfde gene en intelligensie belig. Diegene wat meer intelligent of meer skeppend is as andere, is egter nié noodwendig “goeie mense” nie. Daar is talle voorbeelde van intelligente en skeppende mense wat al heelwat skade aan die omgewing en aan andere aangerig het. ‘n Geniale persoon is nie noodwendig ‘n goeie mens met ʼn goeie geaardheid nie en iemand wat gebore is met Down se sindroom is nie noodwendig ‘n slegte mens nie.

Dit is dus belangrik om te onderskei tussen aan die een kant die Goddelike essensie wat alle lewende wesens op ‘n “dieper” vlak van die werklikheid aan mekaar verbind en aan die ander kant, verskille tussen méér intelligente mense en minder intelligente mense; tussen honde en katte, miere en olifante, ens. Omdat hulle verskillende gene oorgeërf het vanaf hul ouers, beskik alle lewende wesens dus nié oor presies dieselfde vermoëns nie. Indien ‘n hond byvoorbeeld dieselfde skole en universiteite as ‘n mens sou bywoon, sal die hond beslis nie in staat wees om ‘n boek te skryf nie. Dis doodeenvoudig onwetenskaplik om te beweer dat slegs die menslike spesie ‘n uitsondering is op hierdie reël en dat elkeen daarom dieselfde potensiaal het om uiteindelik ‘n geniale ruimtewetenskaplike te kan word. Iemand wat met my hieroor verskil het gedurende ‘n debat, het selfs beweer dat Stephen Hawking ‘n baie goeie ma gehad het en dat sy goeie opvoeding en haar optrede teenoor hom, van die grootste bepalende faktore was vir sy latere genialiteit! Terwyl baie godsdienstige mense glo dat almal “gelyk geskape is in die oë van God”, aanvaar heelwat nie-godsdienstige Marxiste, humaniste en liberale demokrate die antropologiese weergawe van die gelykheidsdogma waarvolgens almal gelyk is in dié opsig dat hulle dieselfde vermoëns het om dieselfde dinge in die lewe te kan bereik.

Volgens die antropologiese weergawe van die gelykheidsdogma is die bepalende invloede wat oorgeërfde gene op mense se karaktereienskappe het, weglaatbaar klein in vergelyking met opvoeding en onderwys, sosiale interaksies en ander uiterlike omstandighede. Baie Marxiste (en Suid-Afrikaanse politici!) beklemtoon vervolgens goeie kwaliteit opvoeding en onderwys as dié belangrikste faktore wat  ʼn beter toekoms vir almal kan verseker. Sommige Christene wat die onwetenskaplike skeppingsleer (kreasionisme) aanvaar, aanvaar óók die antropologiese weergawe van die gelykheidsdogma: “Genetically, we are ‘equal’ as well. Now that the human genome has been deciphered, we know every human is so similar to everyone else that we are all essentially ‘clones’ of each other. The various expressions we recognize are best understood as designed adaptations. Personally, we are equal too. The Bible tells us that ‘all have sinned, and come short of the glory of God’ (Romans 3:23). … Equal rights called for in the Declaration [of Independence] were an extension based on a higher Charter, the Holy Scriptures.[4] 

Daar is egter bykans géén gelykheid of “sosiale geregtigheid” in die Natuur nie. Inteendeel, die meer aanpasbare en sterker lewensvorms triomfeer gewoonlik oor minder aanpasbare lewensvorms. Mense verskil van mekaar wat betref hul karaktereienskappe, vingerafdrukke, hare, geslagsorgane en intelligensie- en skeppingsvermoëns! Die antropologiese weergawe van die gelykheidsdogma is ʼn onwetenskaplike geloof of “metafisiese aanname” wat nié gebaseer is op enige empiriese, waarneembare wetenskaplike getuienis nie. Boonop is die bewering dat “alle mense gelyk (geskape) is”, teenstrydig met baie ooglopende én minder ooglopende verskille tussen mense. 

Sedert die Franse rewolusie van 1789 het die mooiklinkende maar inherent-teenstrydige slagspreuk, “Vryheid, Gelykheid en Broederskap”, toegeneem in populariteit en is voorheen outokratiese regeringsvorms geleidelik vervang met demokratiese regeringsvorms. Gelukkig het ʼn ander weergawe van die gelykheidsdogma waarvolgens alle mense gelyk behoort te wees “voor die reg”, die ongelyke regte tussen die adelstand en ander minderbevoorregte mense, sedertdien toenemend vervang. Voorheen kon adellikes byvoorbeeld ʼn sekere misdaad pleeg sonder om daarvoor vervolg te word, terwyl mense van die laer stande vir dieselfde misdaad vervolg sou word. Die vae maar mooiklinkende idee waarvolgens alle mense gelyk of ten minste “gelykwaardig” is, word dikwels gebruik as regverdiging daarvoor dat almal bo ʼn sekere ouderdom stemreg moet hê. Baie demokratiese lande is egter nié so suksesvol wat betref die bevordering van die meeste inwoners se welsyn nie, veral omdat baie deelnemers aan verkiesings grootliks oningelig is aangaande wesenlike politieke en maatskaplike realiteite. Demokratiese eenheidstate met verskillende bevolkingsgroepe, soos bv. Suid-Afrika, het dikwels rassistiese wetgewings en praktyke wat diskrimineer teen lede van kleiner bevolkingsgroepe.

Magsugtige opportuniste het gaandeweg besef dat die meer openlike onderdrukking deur georganiseerde godsdienste en outokratiese regerings, vervang behoort te word deur meer koverte en doeltreffende onderdrukking wat by die massas die wanindruk help skep het dat almal van hulle eintlik gelyke regte het. Indien die meeste deelnemers aan verkiesings nog boonop maklik beïnvloedbaar is, kan die invloedryke eienaars van die hoofstroommedia die uitslae van verkiesings tot ʼn groot mate beïnvloed deur bv. sommige politici in ‘n swakker lig te stel as ander, méér omkoopbare politici.  Hierdie politici bevorder dan dikwels die belange van die opportuniste ten koste van dié van die meeste ander mense. Sekere hedendaagse demokrasieë waarvan die meeste inwoners nie-godsdienstig is soos bv. Swede, het heelwat polities-korrekte wetgewing en praktyke wat die kiesers se vryheid van spraak toenemend aan bande lê en wat hulle verhoed om voldoende weerstand te bied teen die immigrasie van veral opdringerige derdewêreldse Moslems.

Godsdienstige mense het al verskeie regeringsvorms aangehang – meesal nie-demokratiese regeringsvorms in die verlede en demokratiese regeringsvorms in die hede. Sommige godsdienstige fundamentaliste strewe daarna om selfs binne-in sg. liberale demokrasieë, menseregte en vryhede sover moontlik te beperk. Voorbeelde hiervan is fundamentalistiese Christene wat ‘n tipe Christen-teokrasie ondersteun, Ortodokse Jode wat segregasie tussen Jode en nie-Jode ondersteun en Moslem-fundamentaliste wat hul Sjaria-wette probeer toepas in selfs tradisioneel-liberale Wes-Europese lande. Christene beweer dikwels dat die wêreld ‘n beter plek sal wees indien die meeste mense op ‘n dag sou besluit om God se gebooie te gehoorsaam en landswette op te stel wat in ooreenstemming is met Bybelse riglyne. Maar wat presies word bedoel met “Bybelse riglyne”? Gedurende die Donker Eeue het verskeie Europese lande teokratiese regeringsvorms gehad wat gebaseer was op die Rooms-Katolieke Kerk se gefabriseerde dogmas. Die gepaardgaande onderdrukking van sekere wetenskaplike ontdekkings het ongelukkig die Westerse wêreld se vooruitgang op die tegnologiese terrein, vir ongeveer 1 000 jaar vertraag! Die Calvinistiese lewenswaardes wat deur baie blanke politieke partye in die ou Suid-Afrika vóór 1994 aanvaar is, het beslis nié die leiers of die ondersteuners van die partye aangemoedig om die welsyn van die meeste Suid-Afrikaners te bevorder of om behoorlik weerstand te bied teen die nadelige invloede van internasionale geldbelange nie. Christelike norme en waardes is dus geen waarborg vir enige land se welvaart nie – nie in outokratiese lande en ook nie in demokrasieë nie!

Kom ons veronderstel dat die meeste inwoners van ‘n sekere land sou besluit om positiewe lewenswaardes na te volg en daarvolgens te lewe – norme en waardes wat hulle aanmoedig om die welsyn van die meeste van hulle medeburgers te bevorder. Daar is ook oorgenoeg hulpbronne in die land en geen probleme met oorbevolking nie. Die inwoners is sodanig “volwasse” en konsidererend en hul lewens so moreel onaantasbaar, dat geeneen van hulle dit sou oorweeg om ‘n ander persoon te benadeel nie. In sulke ideale omstandighede is daar nie eens die behoefte aan ‘n regering of polisiemag nie en is selfs ‘n toestand van anargie of regeringloosheid, aanvaarbaar. Daar kan selfs ‘n groep wysgere wees wat as raadgewers optree vir die res van die bevolking. Die raadgewers ag dit ook nie nodig om wette te maak wat deur ‘n polisiemag afgedwing word nie en daar is gevolglik geen tronke nie. Kom ons veronderstel verder dat daar ‘n ánder land is met soortgelyke omstandighede, maar dat daar ‘n diktator of koning is wat as alleenheerser regeer. Selfs hierdie laasgenoemde land se mense behoort ekonomies (en heel waarskynlik ook op die spirituele terrein) te floreer.

Demokrasieë kan ten gronde gaan indien kiesers nie behoorlik ingelig word oor basiese politieke realiteite nie. Opportunistiese politici neem dan gewoonlik hulle kanse waar om onderdrukkende diktature te vestig – soos al dikwels in verskeie Afrikalande plaasgevind het.   Vergelyk die uiteenlopende toestande in (1) die meer etnies-homogene antieke Griekeland, waarbinne beperkte vorms van demokrasie gegeld het en slegs ʼn klein minderheid “goedgeskoolde” en gedissiplineerde mense stemreg gehad het, met (2) die toenemende wantoestande in die hedendaagse “reënboognasie” van die Suid-Afrikaanse eenheidstaat. Hou ook in gedagte dat daar in antieke Griekeland géén invloedryke dagblaaie, radio- of televisiestasies was wat aan magtige belangegroepe behoort het en wat ʼn onnadenkende stemvee se besluite wesenlik kon beïnvloed het nie! Die doeltreffendheid van ʼn spesifieke regeringsvorm of selfs dié van goeie konstitusies of landswette betreffende die bevordering van die meeste mense se welsyn, is dus grootliks afhanklik van verskeie ánder faktore soos o.a. onderwysstandaarde, kultuurverskille, oorgeërfde gene, ekonomiese toestande; asook van die karaktereienskappe van regeringsleiers en van die meeste ander inwoners.

Verwysings:

[1]   http://mises.org/daily/3071

[2]   http://oxforddictionaries.com/definition/egalitarian

[3] http://www.theguardian.com/science/2015/jul/23/genes-influence-academic-ability-across-all-subjects-latest-study-shows

[4]   http://www.icr.org/article/are-all-men-created-equal

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

5 Responses to Gevolge van die beweerde gelykheid van alle mense

  1. Ek het hierdie interessante kommentaar per e-pos ontvang vanaf Hennie Strydom:

    Of ʼn mens nou Darwin se evolusieteorie aanvaar of verwerp as gevolg van die ontbrekende skakels of weens geloofsoortuigings, in een opsig was hy beslis in die kol en dit is dat die voortbestaan van enige spesie in die diereryk afhang van die oorlewings- en voortplantingsvermoë van die sterkstes van ʼn bepaalde spesie. In die diereryk is daar geen diereregte-wette om swakkeres en uitgeworpenes te beskerm nie. Daar word ook geen demokratiese verkiesings gehou om ʼn leier te kies nie. In die diereryk is die tropleier altyd die grootste, sterkste, aggressiefste en mees dominante een, en hy of sy oefen sy of haar invloed op die res van die trop uit. Die dominante leier geniet ook besondere voorregte, soos beheer oor die beste voedingsterrein en toegang tot die teenoorgestelde geslag om te verseker dat sy of haar gene na die volgende geslag oorgedra word.

    Wetenskaplikes en ander navorsers het al waargeneem dat diere, soos bobbejane, leeus, jakkalse, voëls en krokodille ʼn hiërargiese orde wat op dominansie berus, toepas. Die bekendste voorbeeld van so ʼn hiërargie is seker die pikorde wat by hoenderhenne voorkom. Die Deense dierkundige, Thorleif Schjelderup-Ebbe, het die verskynsel al in 1913 waargeneem. Sy nuuskierigheid is geprikkel deur die gekekkel, gekibbel en gekyf van die henne in sy hoenderhok. Nadat hy die henne noukeurig dopgehou het, het hy agtergekom dat dit wat voorgekom het as ʼn toevallige los en vas bakleiery tussen die henne, eintlik ʼn vaste patroon volg. Die henne was besig om ʼn statusorde te vestig waarin ʼn ieder en ʼn elk haar spesifieke plek gehad en geken het.

    As ʼn vreemde hen in die hok geplaas word, moet sy van vooraf met die ander meeding vir kos. Die dispuut word besleg met ʼn gekekkel, geklap van die vlerke en ʼn ywerige gepik. Die henne wat wyk voor die nuweling, erken haar superioriteit, terwyl dié wat die vreemdeling verdryf, hul meerderwaardigheid bevestig. Die rangorde is in der waarheid ʼn fyn uitgewerkte sosiale orde waarin elke hennetjie ʼn plekkie in die pikorde of hiërargie kry. Elke hen sal dié ondergeskik aan haar pik, maar sal weer deur haar seniors gepik word.

    Die onweerlegbare krag van die pikorde is verder gedemonstreer in eksperimente waar laerangorde henne met die manlike sekshormoon testosteroon behandel is om hulle meer aggressief te maak. Volgens die toetse het die henne meer aggressief geraak as hulle saam met vreemde henne in ʼn hok geplaas word, maar sodra hulle teruggeplaas is by hul oorspronklike groep, het hulle maar gelate en outomaties weer hul oorspronklike laer status aanvaar.

    Die mees superieure dier kry eerste toegang tot sy of haar lewensnoodsaaklikhede, soos byvoorbeeld die beste kos, die mees geskikte seksuele maats en gerieflikste lewensruimtes. Die ondergeskiktes moet nie net maar tevrede wees met die tweede beste nie, maar daar word ook selfs van hulle verwag om die meer dominante dier te tooi, en te help met die versorging van haar nakomelinge. By sekere diere, soos die wildehond, word die ondergeskikte tewe selfs die voorreg ontneem om ʼn eie nageslag te hê.

    Is die henne se gedrag nie ook waarneembaar by die mens nie? Die arme mens moes egter deur die eeue heen meeding vir baie meer sogenaamde lewensnoodsaaklikhede om ʼn plek in die sosiale hiërargie te bekom. Die verskillende stande het waarskynlik reeds in die verre verlede hulle ontstaan gehad as gevolg van die pikorde-gedrag van die mens, en die uitwerking van die jaargetye, soos beweer in die mites van die Edda, het klaarblyklik niks daarmee te doen gehad nie. Die advertensiewese is ʼn goeie voorbeeld van hoe hierdie moet-eerste-wees of wen-gedrag van die mense vandag nog uitgebuit word deurdat enige gemors aan hulle afgesmeer of verkwansel word bloot deur hulle te laat glo dat hulle minderwaardig sal wees as hulle dit of dat nie besit nie.

    Wetenskaplikes is tans bewus van die bestaan van dominansie-hiërargieë by baie verskillende soogdiersoorte. Uit ʼn evolusionêre hoek bied so ʼn hiërargie verskeie oorlewingsvoordele aan ʼn spesie. By bobbejane het die domineerstelsel sodanig ontwikkel dat die grootste en sterkste mannetjies in beheer is van die trop se beskerming, en wanneer die bobbejaantrop ronddwaal op soek na kos, vorm hierdie dominante mannetjies die middelpunt van die groep om sodoende die wyfies en heel kleintjies te beskerm. Sodra die jonger mannetjies of brandwagte wat die trop omring, ʼn eksterne bedreiging, soos byvoorbeeld ʼn luiperd of menslike jagter gewaar, maak hulle alarm om die res van die groep te waarsku teen die dreigende gevaar. Die dominante mannetjies tree dadelik uit die trop, en vorm ʼn verdedigende halfsirkel voor die trop.

    Dominansie verseker ook ʼn stabiele sosiale struktuur. Goedgeordende gemeenskappe is beter toegerus om te kan oorleef. Alhoewel dominansie gevegte aanvuur tydens die vasstelling van die pikorde, help dit ook om destruktiewe gevegte te voorkom. Die baas-bobbejane vorm ook die trop se polisiemag. Dit is hulle wat gevegte tussen die jongeres ontlont en vir die handhawing van vrede in die trop sorg.

    Die merkwaardige versoenende aspek van dominansie kan in die diereryk beskou word as ʼn belangrike onderdeel van aggressie. Dodelike geweld kom selde voor onder diere van dieselfde soort. Dit word in werklikheid geïnhibeer. Sommige van die beheermaatreëls vorm deel van die fisiese eienskappe van die betrokke spesie, byvoorbeeld diere het slagtande, kloue, horings of slurpe, maar baie min is toegerus om mededingers van sy eie soort te dood, soos wat die mensdom aangeleer het om te doen met die wapens wat hulle ontwikkel het, en waar die een die ander met ʼn enkele messteek of geweerskoot kan dood.

  2. Kommentaar op Facebook n.a.v. my artikel:

    Will Fischadler:

    Jaco ja ek weet ons word nou almal gelyk geskaal maar wat nou van die Bybel storie… moderne aanpassings? Ek dink ons kan almal sien dat dit onmoontlik is om almal ryk te wees… maar die prioriteite moet wees dat elkeen in die wêreld ‘n dak oor sy kop moet hê en kos op die tafel… daar is baie maniere om dit toe te pas en as ons om ons wêreldwyd kyk gebeur dit net nie… nie in enige land nie…

    Jaco Steyn:

    Terwyl baie Europese konings en keisers gedurende die Middeleeue onder die gesag van die Pouse gestaan het en sodoende die ondemokratiese feodale stelsels in stand gehou het, word die mooiklinkende polities-geïnspireerde Belhar Belydenis, deesdae deur veral die NG Kerk gepropageer. Politici en hul godsdienstige meelopers het maar nog altyd voorgegee om die belange van die armes op die hart te dra, maar ons weet almal wat in die praktyk gebeur het. Hou asb. ook in gedagte dat in ander lande soos o.a. Rooi-Sjina en die ou Sowjetunie waarin die gelykheidsdogma ook verkondig is, ʼn klein super ryk elite die armes nog meer doeltreffend onderdruk en uitgebuit het.

    Will Fischadler:

    Hoop ek verstaan dit reg dat ons net soos die diere maar in die ry moet staan in sekere gevalle en kan in opstanding kom in ander gevalle… aangesien ons ‘n ander spesie is stel ek voor ons moet die huidige leierkorps verwyder want daar is geen manier wat ons gaan oorleef op die pad wat ons nou is nie… ons word nie beheer deur ‘slim’ mense nie… ook nie sterkste in fisiese krag nie… so nou kan ons verstaan hoekom die meeste swartes nog lewe soos diere.. maar ons probleem is ons het wette wat op papier geskryf is om net ons te beheer… tyd om dit op te skeur en ons pad se rigting te verander…

    Jaco Steyn:

    @Will. Dit is juis die slimste en “meer aanpasbare” mense wat deesdae oorleef ten koste van die welsyn van die massas. Hulle gebruik hoofsaaklik mooiklinkende godsdienstige en politieke onsin om die massas gedurig met leë beloftes te flous. Vergelyk in verband hiermee die hoë GINI-koëffisiënt van Suid-Afrika (http://data.worldbank.org/indicator/SI.POV.GINI) in vergelyking met dié van ander lande…

    Hanno Visagie:

    What does the Bible say about social justice? -http://www.gotquestions.org/social-justice.html. Jaco, die artikel wat ek hierbo geplaas het, weergee myns insiens die korrekte Bybelse standpunt aangaande die onderwerp van die beweerde “gelykheid” van mense.

    Jaco Steyn:

    @Hanno. Dit is interessant dat geeneen van die Bybelverse waarna verwys word in die artikel wat jy weergegee het, gebruik kan word as die regverdiging daarvoor dat slegs demokratiese eenheidstate waarin een-mens-een-stem geld, as Bybels-regverdigbaar beskou kan word nie. M.a.w. state wat diktatoriaal deur alleenheersers regeer word, is nie noodwendig “onchristelik” nie. Die onwetenskaplike idee dat alle mense “gelyk gebore” is, is ook op geen Bybelvers gebaseer nie, maar is polities-geïnspireerd – soortgelyk aan die Belydenis van Belhar.

    Jeanetta Hunter:

    Ek stem heeltemal met hierdie waarneming saam. Dit maak ook sin. Vir die eerste keer het ons “humanisme” en ‘n globale sosiale en ekonomiese struktuur. Of ons dit nou wil weet of nie, die pikorde kom selfs hier voor. Om ons eie trop te beskerm, beteken om ons ekonomie te beskerm, wat ons kultuur insluit. Indien ons dus ‘n bedreiging aan die anderkant van die wêreld sien, kan ons nou om humanistiese rede, vir “demokrasie” hulle gaan uitwis.

    Lynette Prozesky:

    Ander begrippe wat hiermee saamgaan is bv. white privilege. In SA voel een deel van die die bevolking inherent minderwaardig en blameer dit op die ander. Dit is nodig dat mense die begrip indringend deurgrond. Intussen moet ons almal mekaar menswaardig behandel. Dit sal baie help as die ander ook menswaardig optree.

    Jaco Steyn:

    @Lynette. Die begrip “white privilege” word gebruik om Witmense sover moontlik daarvan te weerhou om saam te staan ten einde behoorlik weerstand te bied teen die korrupte ANC-regering. Solank daar geen teken is van enige behoorlike blanke weerstand nie, sal hierdie land maar altyd ʼn korrupte regering hê wat die meeste ander landsburgers sal uitbuit tot voordeel van hulself en buitelandse belangegroepe.

    Mark Beeld:

    @Jaco, waarom is dit slegs die blanke weerstand wat ‘n verskil kan maak? Ek dink daar is verskeie etniese groepe wat goeie leierskap toon. Korrupsie is nie ‘n etniese begrip nie, dit is ‘n menslike begrip. So ook leierskap en integriteit.

    Jaco Steyn:

    @Mark. Solank daar ʼn Suid-Afrikaanse eenheidstaat is waarin een-mens-een-stem demokrasie geld, sal buitelandse magte altyd in beheer wees van die korrupte regering van hierdie land – vandaar die hoofstroommedia se gedurige fokus op die “sondes van Apartheid”. Afrikanernasionalisme was nog altyd die grootste bedreiging vir die invloed van mense soos Harry Oppenheimer en Cecil John Rhodes.

    Mark Beeld:

    Rassisme is ‘n middel tot ‘n doel. Die regering propageer eenheid, maar orkestreer divisie en rassisme agter die skerms, omdat dit die massas aan hul kant hou. Die Afrikaner is doodeenvoudig te klein om ‘n dinamiese verandering in die land se politiek aan te bring, sonder ‘n onderdrukkende regime soos Apartheid.

    Jaco Steyn:

    Korreksie: Hulle is nie te “klein” of “te min” nie, hulle is te gemaksugtig en selfsugtig! Hou asb. in gedagte dat blankes nog steeds ʼn moerse groot deel van die belasting betaal.

    Mark Beeld:

    Selfs met die meerderheid van SA se geld in hul sakke, was die Afrikaner merkbaar onbeholpe om die ANC se korrupsie regime stop te sit. Hoe ons ook al daarna kyk, eksklusiewe gedrag is nie voordelig vir ons nie. Slegs samewerking met alle etniese groepe gaan ons red van die korrupte greep wat die ANC elite tans op ons land het. Wat betref jou artikel oor gelykheid. Ek stem nie met jou saam nie, maar kom ons laat dit daar vir nou. Hoe sou jy aanvoer maak ons hierdie onderskeid regverdig oor byvoorbeeld wie mag stemreg kry?

    Jaco Steyn:

    @Mark. In die laaste deel van my artikel het ek gewys op die feit dat ʼn regeringsvorm minder belangrik is as verskeie ander faktore soos o.a. “onderwysstandaarde, kultuurverskille, oorgeërfde gene, ekonomiese toestande; asook van die karaktereienskappe van regeringsleiers en van die meeste ander inwoners.” Selfs ʼn land waarbinne daar géén stemreg is nie, kan dus floreer afhangende van faktore soos die karaktereienskappe van die inwoners.

    Mark Beeld:

    @Jaco, sosiale wetenskappe maak dit duidelik dat mense (of enige spesie eintlik) in groot groepe gaan verval in ‘n hiërargie. Die verskil is, mense het die vermoë om daardie hiërargie aan te pas tot die mees menslike vorm van regering. Ons is egter nog besig met daardie aanpassing.

  3. Ek het hierdie opbouende kommentaar per e-pos ontvang vanaf Ben Barnard:

    Jaco

    Baie geluk met jou artikel oor die (on)gelykheid van mense. Dit is hoog tyd dat iemand hierdie mite ontmasker vir die leuen wat dit is.

    Ken jy die werk van J H van den Berg? Hy is ʼn Nederlandse Sielkundige wat in ʼn hele reeks boeke te velde getrek het teen die leuen van gelykheid (wat, soos jy tereg aandui, ʼn produk is van die Franse Revolusie). Hy huldig die opinie dat hierdie leuen ten grondslag lê van die hedendaagse neurose. Die produk is verwarring en anargie en wat Nietzsche genoem het “die diktatuur van middelmatigheid.” Want die gelykheidsdogma hef ongelukkig niemand op om te leef soos die hoogbegaafdes nie; dit trek liewer af tot ons almal deel is van wat Van den Berg noem “die spinale massa.” Maar hieroor kan ons dae lank gesels…

    Nogmaals dankie vir ʼn knap stukkie werk.

  4. william sê:

    Beste Jaco, ek het jou artikel oor gelykheid baie interresant gevind. Deesdae moet n mens maar versigtig wees wat jy se want alles word gesien as rassisme.
    As n mens kyk na die ontwikkeling van die wereld op tegniese , mediese en baie ander terreine dan kan n mens die vraag vra watter ras die leeue aandeel daarin het. Wie het op die maan geland, wie het die motorkar, stoomtrein , die telefoon en elektrisiteit ontwerp, ontdek en gebou om maar net n paar te noem. Swartmense gebruik al hierdie artikels en kommoditeite op n daaglikse basis maar intussen haat hulle ons . Ek kry die indruk dat hulle ons haat as gevolg van ons vindingrykheid en vernuf. My vraag is wat was hulle ontwikkelings peil toe Jan Van Riebeeck hier aangeland het in 1652?. Hulle agtergeblewenheid is histories van aard en kan nie op die skouers van blankes geplaas word nie.
    Ek volg die gebeure en politiek van Afrika al die laaste 60 jaar. Al die lande het na onafhanklikheid gefaal. Ons is oppad soontoe. Een ding wat my opgeval het is dat almal dieselfde foute maak en daar is geen oorspronklikheid nie. Alles in ag geneem glo ek nie aan gelykheid nie. Dit is vir my n mite en word gebruik deur liberales en kerke.

    • Baie dankie vir jou kommentaar, William! Baie hedendaagse mense is salig onbewus van die geskiedkundige getuienis van die afgelope eeue wat duidelik daarop dui dat beskawings wat oorwegend blank was, wesenlik verskil het van oorwegend nie-blanke beskawings. In hulle boek “IQ and Global Inequality” (2006), verwys Richard Lynn en Tatu Vanhanen na die feit dat daar ‘n wesenlike verband is tussen aan die een kant die oorsake van die verskille tussen intelligensievermoëns van verskillende bevolkingsgroepe en aan die ander kant die rassegroepe waaruit daardie bevolkingsgroepe saamgestel is. Die gemiddelde IK van die bevolkings van ses Oos-Asiese nasies, Sjina, Japan, Suid-Korea, Taiwan, Hong Kong en Singapoer, wissel tussen 105 en 108. Die 29 Europese lande se gemiddelde IK wissel tussen 92 en 102 en dié van 19 lande in sub-Sahara Afrika, wissel tussen 59 en 73. Selfs die bekende hedendaagse ateïstiese skrywer en neurowetenskaplike, Sam Harris, erken dat wesenlike genetiese verskille t.o.v. intelligensie tussen rasse, wel moontlik is: “There may very well be detectable differences in intelligence between races. Given the genetic consequences of a population living in isolation for tens of thousands of years it would, in fact, be very surprising if there were no differences between racial or ethnic groups waiting to be discovered.” (http://www.samharris.org/blog/item/the-strange-case-of-francis-collins)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s