HOE OM ‘N LEWENS- EN WÊRELDBESKOUING SAAM TE STEL

‘n Lewens- en wêreldbeskouing omvat gewoonlik hierdie drie gedeeltes:

  • Geloofstandpunte oor die aard van alle dinge.
  • ‘n Waardestelsel, oftewel – hoe behoort mense te dink en op te tree?
  • Wat is die mees effektiewe maniere om volgens hierdie waardestelsel te leef?

Wat die filosofie/godsdiens/spiritualiteit betref was daar vir baie jare wyd uiteenlopende geloofstandpunte oor veral hierdie terreine:

  • Die aard van die Goddelike/God;
  • Die moontlikheid en aard van lewe na die dood en
  • Of mense ‘n vrye wil het en of al hulle besluite voorafbepaal is deur óf die verloop van “natuurlike” gebeure, óf deur ‘n Persoonlike God.

Wat die aard van die Goddelike/God betref is daar hoofsaaklik drie uiteenlopende geloofstandpunte:

  • Daar is ‘n almagtige en alwyse Persoonlike God wat alles “vanuit niks” geskep het en wat selfs af en toe die verloop van mense se lewens kan verander.
  • Daar is géén God of Goddelike Werklikheid “agter” alles nie.
  • Daar is wel ‘n onpersoonlike Goddelike Werklikheid waaruit alle verskynsels voortgevloei het en wat die eintlike kern is van alle verskynsels.

Wat die moontlikheid van lewe na die dood betref is daar veral drie uiteenlopende sienings:

  • Sommige mense is bestem vir die Hemel en andere vir die Ewige Verdoemenis. Diegene wat sekere dinge glo en/of doen, is bestem vir die Ewige Lewe in die Hemel, terwyl “halsstarrige ongelowiges” se voorland die Ewige Verdoemenis is.
  • Daar is geen onsterflike deel van enige mens wat die dood van die brein kan oorleef nie.
  • Daar is wel ‘n onsterflike deel van mense wat die dood van die fisiese liggaam sal oorleef en wat daarna sal inkarneer “binne-in” ‘n ander liggaam in ‘n volgende lewe.

Wat die moontlikheid van vrye wil betref is daar hoofsaaklik drie uiteenlopende geloofstandpunte:

  • Volgens teologiese determinisme is/word alle verloop van gebeure deur ‘n Persoonlike Skeppergod voorafbepaal.
  • Volgens wetenskaplike determinisme bepaal die verloop van natuurlike gebeure alle mense se besluite en kan wetenskaplike metodes gebruik word om die verband tussen oorsake en gevolge vas te stel.
  • Elke mens kan vrye wilsbesluite neem wat in géén opsig deur enige god of natuurlike gebeure volledig voorafbepaal word nie. Almal behoort dus volle verantwoordelikheid te aanvaar vir alle goeie en slegte besluite wat hulle neem.

Die geldigheid van geeneen van die voorgaande geloofstandpunte kan (tans) bewys word d.m.v. enige wetenskaplik-aanvaarbare metode nie. Dis belangrik om te onderskei tussen geloofstandpunte en verifieerbare idees waarvan die geldigheid wel vasgestel kan word d.m.v. wetenskaplike metodes of historiese getuienis. Die geldigheid van geloofstandpunte kan egter oor gefilosofeer word aan die hand van (i) die logiese konsekwentheid daarvan; (ii) of dit indruis teen wetenskaplike en/of historiese getuienis en (iii) vir wie dit voordelig is.

Waardestelsels wat deel is van die een of ander politieke of godsdienstige ideologie of lewens- en wêreldbeskouing, is nie noodwendig altyd afhanklik van geloofstandpunte nie, maar daar is wel twee lewens- en wêreldbeskouinge wat veral in Westerse lande prominent is en was, wat nog boonop addisionele geloofstandpunte het wat dien as regverdiging vir hulle waardestelsels. Volgens heelwat Christene wat geloofstandpunt (1) aanvaar wat betref die aard van die Goddelike en die moontlikheid van lewe na die dood, is die Bybel die “onfeilbare Woord van God”. Baie van hierdie Christene sukkel egter om behoorlik te onderskei tussen opsie (1) en (3) wat betref die moontlikheid van vrye wil. Heelwat Westerlinge is deesdae ondersteuners van opsie (2) wat betref die aard van die Goddelike en die moontlikheid van lewe na die dood. Baie van hulle ondersteun die politieke ideologie waarvolgens veelrassige een-mens-een-stem demokrasie die beste regeringsvorm is. Vir baie van hulle dien ‘n spesifieke weergawe van die gelykheidsdogma as regverdiging vir hierdie ideologie. Volgens hierdie weergawe/geloofstandpunt is alle mense “gelyk gebore” in dié opsig dat almal dieselfde potensiaal het om eendag “ewe slim en kreatief” te wees indien hulle dieselfde hoë standaard onderwys en opleiding sou ontvang. Oorgeërfde genetiese verskille wat ‘n wesenlike invloed het op mense se intelligensie en kreatiwiteit, is dus minder belangrik. Voorbeelde van waardestelsels wat wel afhanklik is van sekere van die bogenoemde geloofstandpunte, is:

  • Die Calvinistiese waardestelsel wat afhanklik is van geloofstandpunt (1) van elkeen van die bogenoemde drie terreine;
  • Karl Marx se dialektiese materialisme wat afhanklik is van geloofstandpunt (2) van elkeen van die bogenoemde drie terreine en
  • ‘n Waardestelsel wat afhanklik is van geloofstandpunt (3) van elkeen van die bogenoemde drie terreine. Hierdie waardestelsel kan gepaardgaan met die idee dat alle mense se ware einddoel eenwording met die Goddelike is.

Ondersteuners van die voorgaande drie waardestelsels kan dan hulle kennis oor historiese- en wetenskaplike getuienis gebruik om hulle onderskeie norme en waardes op die mees effektiewe wyses uit te leef. Hulle kan dit toepas op o.a. die sosiale terrein en die politiek. Sommige Calviniste ondersteun die teokratiese gedagte waarvolgens landswette sover moontlik opgestel en toegepas moet word in ooreenstemming met “Bybelse riglyne”, terwyl Marxiste berug is vir hulle moorde op en verarming van miljoene mense. Mooiklinkende maar skadelike ideologieë wat afhanklik is van onwetenskaplike geloofstandpunte soos bv. die spesifieke weergawe van die gelykheidsdogma waarna ek hierbo verwys het, word heel dikwels gepropageer deur magsugtige opportuniste wat hulle eie welsyn bevorder ten koste van dié van andere aan wie hierdie ideologieë opgedis word. Ondersteuners van waardestelsel (c) kan hulle kennis oor en erkenning van belangrike oorgeërfde genetiese verskille tussen mense gebruik om alternatiewe regeringsvorms te propageer wat die welsyn van alle landsburgers meer geredelik sal bevorder as wat dit in hedendaagse veelrassige een-mens-een-stem demokrasieë bevorder is.

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s